Paulus se gehoor

image_pdfimage_print

 

“Our anxiety does not empty tomorrow of its sorrows, but only empties today of its strengths.” C. H. Spurgeon

 

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus se toesprake in Handelinge verskil van mekaar. Hoekom hou hy nie elke keer dieselfde toespraak nie? Omdat sy gehoor en die  omstandighede elke keer veskil het en hy pas sy toesprake daarby aan. Jesus het natuurlik dieselfde gedoen – lees net sy gesprek met Nikodemus en met die Samaritaanse vrou. Natuurlik sal daar sekere gemeenskaplike temas wees.

Maar elke keer gaan Paulus verder as net hierdie temas. Dit is net eenvoudig so dat sommige mense meer van Jesus Christus weet as ander. Daarom, net soos ons Bybelse tekste moet uitlê, moet ons ook ‘n eksegese van ons gehoor doen as ons mense en die evangelie by mekaar wil uitbring. Vir baie ongelowiges is die Christelike boodskap vol vals idees en gedagtes. Daarom moet ons altyd die konteks, behoeftes en bekommernisse van die gehoor ernstig opneem. Onthou die gehoor is ook God se geliefde beelddraers.

Wat het Paulus van sy gehoor geweet? Hy het besef dat sy gehoor uiteenlopende sienings oor die belangrikste lewensvrae gehad het – sienings wat mekaar wedersyds uitgesluit het. Natuurlik het die Stoïsyne en die Epikureërs antwoorde op die belangrike lewensvrae gehad, maar dit het soms radikaal verskil van die antwoord in die Bybel. Daar was ook Jode in Atene – daar was immers ‘n sinagoge. Daar was ook handelaars, slawe, uitlanders en die sosiale elite … en filosowe wat hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.  Van hulle sien Paulus as ‘n praatjiesmaker; ander sien hom as iemand wat ‘n boodskapper van vreemde gode is.

Ons kan dus sê dat daar ten minste drie groepe mense in Paulus se gehoor was:

  • Jode. Hulle was nie die fokus van Paulus se toespraak nie. Hulle sou saamgestem het met baie wat Paulus gesê het, behalwe dit wat hy oor Jesus as die Messias en sy liggaamlike opstanding gesê het. Hulle sou saamgestem het met Paulus se afkeer aan afgode; dat God alles gemaak het en steeds instand hou; dat dit God is wat lewe aan alles gee; dat God op die dag van die Here alle mense sal oordeel; hulle glo in die opstanding van die dooies.
  • Die meerderheid Ateners wat godsdienstig was. Hulle het ‘n groot verskeidenheid gode aanbid. Dit is die mense met wie Paulus elke dag op die stadsplein gepraat het. Hy sou waarskynlik met hulle oor al die afgode en tempels gepraat het en die dwaasheid om afgode te maak en dan te aanbid. Hy sou aan hulle die goeie nuus van Jesus Christus en sy opstanding verkondig het. Paulus sê vir hulle dat hy kan sien dat hulle baie godsdienstig is. Godsdiens was die kern van die Grieks-Romeinse samelewing. Sosiale byeenkomste, byvoorbeeld huwelike, is dikwels in heidense tempels voltrek. In meeste huise was daar ‘n klein altaar met beelde van verskillende gode daarop. Die vader van die huishouding het dikwels kerse op hierdie altaar aangesteek.  Daar was ook nog keiseraanbidding. Maar ten spyte van al hierdie afgode en tempels was daar nog die nodigheid vir ‘n altaar aan ‘n onbekende god – ingeval hulle iewers ‘n god uitgelaat het. Deur te sê dat hulle baie godsdienstig is, maak hy sy gehoor meer ontvanklik.
  • Die filosowe. Hulle sou op hierdie mense wat soveel gode aanbid het, neergesien het. Hulle was meestal deel van die stad se elite. Deur na God se skepping en voorsiening te verwys, sê Paulus dat Hy die Here van alles is. Dan vertel hy hulle van die Man wat God uitverkies het – Jesus Christus om oor die wêreld te oordeel. Hierdie Jesus is gekruisig en het op die derde dag liggaamlik opgestaan. Dit sou die filosowe nie aanvaar nie. Hulle glo nie aan die toekomstige oordeel van God nie en ook nie in die liggaamlike opstanding nie.

 

Paulus sou nie aanvaar het dat elkeen in sy gehoor presies dieselfde dinge geglo het nie. Dit geld steeds: as ons God se woord vandag verkondig, mag ons nie aanvaar dat almal wat na ons luister almal dieselfde dinge glo nie. Ons moet vrae vra en uitvind wat mense glo en dink. Ons moet steeds meer en meer van ons gehoor leer. Daarna moet ons ‘n benadering ontwikkel om op ‘n toepaslike manier oor toepaslike onderwerpe met hulle tepraat.

Paulus se gehoor het verskillende wêreldsienings en godsdienste, maar hy skram nie weg om aan hulle die evangelie te verkondig nie. Om dit te kan doen, moet hy weet wat die Bybel leer en wat sy gehoor glo. Hy begin waar hulle was, maar dan beweeg hy verder. Hy beweeg hulle na ‘n ander verstaan van God.

Volgende keer kyk ons na Paulus se evangelie vir diegene wat opgevoed is.

image_pdfimage_print