Perspektief op gebed (24) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Goddelike leiding kom dikwels nie swart op wit nie.

* Die Here is egter nie in die Bybel toegesluit nie. Hy is elke dag ook saam met my. Hy is deel van my lewe! Daarom kan ek ook die spore van sy teenwoordigheid in my eie lewe aflees. Dikwels wil ek ‘n sekere ding hê of doen. Tog loop alles skeef. Dit verloop nie soos wat ek dit  beplan nie. Moet ek nie iets daaruit aflei nie? Of by ‘n ander geleentheid mag ek voel dat die Here van my verwag om ‘n spesifieke ding te doen. Ek is egter die een wat nie kans sien nie. Tog voel dit telkens vir my of die Here sy ‘hand op my skouer sit’ om juis my aandag op daardie saak te vestig. Wat nou?

Die probleem met hierdie manier van goddelike leiding is dat dit nie swart op wit geskryf staan nie. Ek werk met ‘gevoelens’, maar sê nou net my ‘gevoel’ is verkeerd?!

Om in twyfel te verval is seker die aakligste deel van gebed, as daar inderdaad ‘n aaklige deel is. Net as ek seker is God wil hê dat ek iets moet doen, slaan die twyfel my voete onder my uit. Ek begin wonder of dit regtig God is wat dit wil hê. Is dit nie miskien maar net ek wat dit graag wil hê nie. Nou dink ek sommer God wil dit ook hê. As dit so is, sê die twyfel vir my, dan sondig ek mos teen God. Dan gaan God mos hierdie saak nooit seën nie. As ek nou besluit om dit nie te doen nie, begin die twyfel weer aan daardie kant vreet. Sê nou maar net dit wás God wat wou hê dat ek die ding moes doen… Wat ‘n senutergende ondervinding is dit nie. Jakobus moes sekerlik deur hierdie proses gegaan het, want hy beskryf dit so goed:

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

want iemand wat twyfel,

is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag

en heen en weer gedryf word.

So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is

en onbestendig is in al sy doen en late,

moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

(Jak 1:6-8)

Die ‘medisyne’ wat Jakobus vir die twyfel voorskryf, is geloof. Geloof  aanvaar die teenwoordigheid van God in jou lewe. Dit is die vertroue dat Hy ook betrokke wil wees by jou sake. Daarom kan ‘n mens met vertroue bid.

Ek gebruik my gesonde verstand.

Maar wat bedoel ‘n mens as jy sê dat geloof jou sal help as jy aan die twyfel raak oor die wil van die Here? Dit is een ding om te sê jy moet glo, maar wat moet jy glo? Hoe weet jy jy moet glo dat dit die Here is wat praat?

Iets wat ons baie kan help, nie net met hierdie probleem nie, maar ook in die algemeen, is dat die Here gewoonlik op ‘normale maniere’ met ons werk. Ons is geneig om die Here te sien as die Een wat altyd anders of  bonatuurlik werk. Hy doen dit wel soms, maar werk normaalweg deur die alledaagse, die natuurlike.

Hoekom is dit so? Die Here het die hemel en die aarde gemaak. Van vroeg af het almal erken dat jy Hom ook deur sy skepping kan leer ken. Hy sal mos nie iets maak wat totaal vreemd is aan Hom nie. As jy dus orde en harmonie in die skepping sien, kan jy ten minste daarvan aflei dat die Here van orde en harmonie hou. So leer jy iets van Hom. Die natuurwette en normale verloop van dinge staan dus nie teenoor God en sy wil nie. Daar is wel plekke waar die sonde gevaarlike wonde in die skepping van God ingeslaan het en daarvoor moet ons wel versigtig wees.

Dieselfde geld vir ons verstand. Die manier waarop die Here wil hê dat jy moet leef is met jou verstand. Jy moet met jou verstand en wil besluite neem en dinge laat gebeur. Dit is hoe Hy ons gemaak het. Sal God dan nou skielik as ons ‘n baie belangrike besluit moet neem ons verstand heeltemal wil uitsluit? Sal hy op baie belangrike oomblikke die gawe wat Hy vir ons gegee het om mee te besluit, ignoreer? Nee, God gebruik ons gesonde verstand om besluite te neem. Dit beteken dat ons al die elemente wat in die oorweging van die saak ‘n rol speel, goed sal weeg. Daarna moet ons die besluit neem.

God lei jou deur die Gees en jou gesonde verstand.

Jy moet altyd onthou dat die Heilige Gees in jou woon. As jy klaar gebid het, bly die Heilige Gees nie daar by die bed waar jy gekniel het, agter nie. Die Gees gaan saam met jou, waar ook al jy deur die dag mag gaan. Die Gees los jou nie alleen nie. Hoewel die Gees jou soms ook op ander maniere kan lei, maak die Gees gebruik van jou gesonde verstand om aan jou lewe rigting te gee. As ‘n mens dus die Gees se leiding gevra het, rig die Gees jou ook deur jou gesonde verstand.

Veronderstel dus dat jy  nou ‘n belangrike besluit moet neem. Verlaat die Here jou nou skielik? Onttrek die Heilige Gees Hom nou skielik op hierdie belangrike oomblik aan jou sodat jy een of ander spesiale teken van buite as antwoord moet verwag? Logies gesien is die antwoord: ‘Nee’. Dit is ons ongeloof wat dink dat God nou skielik van buite af moet ingryp. Ons sukkel om te glo dat God ons op die normale manier – soos Hy ons gemaak het –  sal lei om ‘n besluit te neem nie.

Maar hoe herken ek die leiding van die Gees deur my gesonde verstand? Een ding wat seker is, is dat die Gees jou nie sal lei om iets te doen wat teen die wil van God is nie. Daarom is die belangrik om jouself gedurig af te vra waarom jy die betrokke keuse maak. As jy voel God sal nie met die keuse gelukkig kan wees nie, is dit vir jou ‘n besliste aanduiding van ‘n verkeerde keuse.

As die keuse egter ‘neutraal’ is, met ander woorde as nie een van die moontlikhede jou verhouding met die Here sal benadeel nie of vir die Here sleg sal wees nie, moet jy die een neem wat vir jou die beste lyk. Die keuse moet egter in biddende afhanklikheid en toewyding aan God gemaak word, soos reeds telkens gesê is. Dit vereis van jou absolute eerlikheid in gebed.

Maar wat nou as ‘n mens ‘n belangrike keuse moet maak, byvoorbeeld of jy met iemand moet trou, of ‘n nuwe werk of besigheid moet begin? Die risiko’s lyk vir jou hoog en jy wil nie graag die verkeerde besluit neem nie. Dieselfde geld hier. Vra die Here se leiding en oorweeg die saak noukeurig. Neem dan die besluit. Maak met jouself vrede dat dit na die beste besluit op daardie stadium gelyk het.

Geliefdes, moenie dit vir jou te swaar maak nie. Gebruik jou gesonde verstand in afhanklikheid van die Gees. Dit is die belangrikste manier waarop God jou help om besluite te neem wat volgens sy wil is. Op jou knieë, in toewyding aan Hom, met ‘n helder verstand kan jy na die wil van die Here vra!

Uit bogenoemde is dit natuurlik meer as duidelik waarom ons nie ‘ver van God af’ moet begin leef nie. Ons toewyding aan Hom mag nie verslap nie. Ons kontak met die ’beheerkamer’ mag nie skade lei nie. Soos ons hele lewe onder die leiding van die Heilige Gees is, so moet ons ook glo dat ons besluite wat ons biddend en toegewyd neem, onder die beheer van die Gees is.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...