Psalm 11 (1)

image_pdfimage_print

 

Our relationship to God is to be the supreme cause of joy (David Martyn Lloyd-Jones toe hy terminale kanker gehad het).

 

Psalm 11 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Psalm 11 is ‘n uitdrukking van vertroue. Dit bevat geen pleidooi nie.

 

11:1a: Opskrif

Vir die musiekleier. Van  Dawid

 

11:1 – 3: Waarskuwings van die ander mense van die gemeenskap. Waar is die mens veilig?

 

11:1: By die Here skuil ek; hoe kan julle dan vir my sê: “Vlug soos ‘n voël na die berge.”

By die Here skuil ek. God/die Here is dus die direkte of indirekte onderwerp van elke reël in verse 4 – 7. Sy Naam word vier maal genoem in daardie gedeelte. Drie maal kom sy Naam aan die begin van die reël voor. Dit is ‘n verwysing na God se plek in die lewe van die gelowige – eerste. Die vriende noem nie eers God se Naam nie.

 

‘n Verklaring dat die psalmis op die Here vertrou, kom meestal aan die begin van ‘n psalm. Dit dien gewoonlik as basis vir die psalmis se oproep tot God vir beskerming. Hier is dit egter die basis vir die psalmis se reaksie op vriende wat dit goed bedoel. Hulle stelling bring die vraag van vertroue en die behoefte aan ‘n veilige plek na vore. Die psalmis word voorgestel as ‘n voël. Die verwysing na vlug soos ‘n voël na die berge suggereer dat die psalm se begin – ek skuil by die Here – reeds hierdie vermaning in gedagte het. Berge is plekke van skuiling – hoog, onbereikbaar, baie bome en grotte, baie plekke om weg te kruip. Die psalmis is reeds in Jerusalem en die berg. Dit is waar die gevaar vir hom skuil. Maar voëls kan in die berge skuiling vind – of op die kranse of in die bome. Hierdie hele vers is dus ‘n beeld. Sy vriende moedig die psalmis aan om hom soos ‘n voël te gedra – soek skuiling in jou geliefkoosde berg. Waarheen die spreker in werklikheid sou gaan, is ‘n ope vraag.

 

11:2: 2 Want kyk, die goddelose mense span die boog, hulle sit die pyl op die boogsnaar om in die donker op die opregtes van hart te skiet.

Hoekom moet die spreker vlug? Die beeld van die voël word verder ontwikkel. Die goddeloses is soos jagters wat hulle regmaak om die voël te skiet – hulle span hulle boë, hulle lê aan met hulle pyle. Hulle is gereed om te skiet – die boog is oorgehaal. Maar hoekom jag hulle? Hulle skiet in die donker. Hulle skuil in die donker; hulle mislei en bedrieg. Hulle teiken is die opregtes van hart.  Hier is dus ‘n teenstelling tussen jagters wat in die donkerte jag en opregtes wat met integriteit optree. Almal wat opreg van hart is, moet vlug.

 

11:3: 3As die fondamente afgebreek word, wat kan die regverdige dan doen?”

Ons is nie seker wie hier praat nie – die vriende of is dit die psalmis se nadenke? Die fondament waarna hier verwys word, is die fondament van die gemeenskap. Die regverdige is iemand wie se saak voor God reg is. As mense die regverdige aanval net vir persoonlike gewin is die fondamente daarmee heen. Die wet van geweld heers. Die regverdige kon niks gedoen het om hierdie verval te keer nie. Hy het elke rede om te vlug.

 

In die volgende blog gaan ons na die psalmis se geloofstelling kyk.

 

image_pdfimage_print