Psalm 2

image_pdfimage_print

 

Language had created the word ‘loneliness’ to express the pain of being alone. And it has created the word ‘solitude’ to express the glory of being alone – Paul Tillich

 

Psalm 2

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

Let op dat Psalm 2 geen opskrif het nie. Daarom dat sommige teoloë voel dat Psalm 1 en 2 oorspronklik ‘n enkele psalm was. Ons kan hierdie psalm in vier dele onderverdeel.

 

Vers 1 – 3: Die planne van die volke.

Die volke bedink nuttelose planne. Hiermee gaan hulle nêrens kom nie Mense maak hulle moeg en dit tevergeefs. Dit is veral die konings en leiers wat so optree. Hoekom sal hulle nêrens met hulle planne kom nie? Hulle span saam teen die Here.

 

Vers 4 – 6: Die Here se reaksie op die planne van die volke

Die Here woon in die hemel. Hy sit egter nie net daar nie, maar Hy kyk wat op die aarde aan die gang is. Hy sien die konings besig om planne te maak. Wat is sy reaksie hierop? Hy lag hulle uit en spot met hulle. God neem hulle glad nie so ernstig op soos wat hulle hulleself opneem nie. Daarna word Hy toornig. Toe praat God met hulle en jaag hulle op loop.

 

Vers 7 – 9: Die koning se reaksie

Die koning van Israel vertel wat die Here gesê het: die Here is die koning van Israel se Vader; Hy gee die hele aarde as die koning se besitting; die koning van Israel sal die ander konings verpletter. Soos erdewerk sal jy hulle stukkend slaan verwys na ‘n ou gebruik om potte met jou vyand se naam daarop flenters te slaan – dit is ‘n gebed vir hulle vernietiging.

 

Vers 10 – 12: Die implikasies vir die volke

In die psalms is daar geen probleem om die magtiges te konfronteer nie. Die konings word gewaarsku om verstandig te wees. Hoe moet hulle dit doen? Die psalmis gee vir ons drie antwoorde:

  • Dien die Here met ontsag;
  • Juig Hom toe met bewing; en
  • Soen sy seun (dit verwys waarskynlik na die koning as God se seun). Om die koning te soen, is ‘n teken van erkenning en eerbetoon.

As jy egter opstandig is, sal jy op die pad omkom. Die leiers sal daarby baat as hulle goeie raad aanvaar. Hierdie psalm sê vir die konings hoe hulle hulleself teen die toorn van die Here kan beskerm.

 

Psalm 2 plaas weer twee bestemmings voor die volke – hulle moet die een of die ander kies. As hulle voortgaan om hulle eie planne te maak, sal dit ernstige negatiewe gevolge vir hulle inhou. Die Here is bereid om sterk op te tree.

 

Ons leef vandag in die Weste in ‘n post-Christendom wêreld. Die huidige kultuur het al die beperkings van die Christelike geloof afgeskud. Hierdie psalm rig ‘n ernstige waarskuwing tot ons: Hierdie is nie die einde van die verhaal nie.

 

image_pdfimage_print