Restitusie – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Johan vra:

As ’n mens Christus aangeneem maar afgedwaal het en baie jare in erge sonde geleef het, en jy wil na God toe terugkeer – kan mens dadelik vergifnis kry as jy waarlik jammer is? Of moet mens eers regmaak teenoor mense wat jy te na gekom het deur bedrog, leuens, skinder, ontrouheid? Vrees vir gevolge om meer kwaad te doen as goed deur openbaarmaking van die sonde hou mens terug om volheid vir God te lewe. Hoe hanteer mens dit? Almal het verskillende opinies en sieninge.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller se vraag gaan ten diepste oor die verhouding tussen vergifnis en restitusie. Ons kan sê dat vergifnis die hart van die verhouding tussen God en mens, en mens en mens, is. Dis waar alles begin. Hiersonder kan nuwe verhoudings nie regtig van die grond af kom nie. Wie met ’n wrok in sy hart teen ander rondloop, besef nie wie hy of sy self voor God is nie. As vergifnis die hart is, is restitusie (of: herstellende geregtigheid) die hande en voete van verhoudings. Vanuit ’n nuwe visie op God se genade en my eie sonde kry ek nou ook ’n nuwe visie op skeefgeloopte verhoudings, op al die skade wat deur my optrede veroorsaak is, en ontstaan daar die behoefte om verhoudings en uiteindelik ’n samelewing waar God se geregtigheid heers, tot stand te help bring. Restitusie het dus te doen met geregtigheid, met wat reg is voor God; hoe Hy graag wil hê dat mense sal lewe.

Die Ou Testament het uitgebreide reëls oor restitusie gehad, kyk byvoorbeeld Eksodus 22:1-15; Levitikus 6:1-5. En so kry ons dit ook in die Nuwe Testament met die gebeure rondom Saggeus, die hooftollenaar van Jerigo. Volgens Lukas 19:8 is hy bereid tot restitusie, om so ver dit in sy vermoë is dinge reg te stel wat hy verbrou het. Hy is bereid om die geld wat hy onregmatig van mense verhaal het, terug te betaal.

Tollenaars was Jode wat as belastinggaarders vir die Romeine opgetree het. Hulle is daarom deur hulle volksgenote as buitestanders van die verbond beskou – volksverraaiers, nie kinders van Abraham nie. Maar Jesus sê vir Saggeus: Ek moet by jou tuisgaan, want vandag het daar redding vir hierdie huis gekom. Hierdie man is ook ’n kind van Abraham; ja, hy is deel van die verbondsvolk, nie ’n buitestander nie.

So het Jesus Saggeus se status in die Joodse gemeenskap herstel. Daar het redding vir hom gekom, sy sondes is vergewe. Sy posisie as volle lid van die Joodse gemeenskap is herstel. En dis onmiddellik van krag. Jesus sê vir die omstanders: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom … .” (Lukas 19:9). Logies gesproke kom vergifnis dus voor restitusie. As ek eers moes gaan restitusie doen vóór ek vergifnis ontvang, is ek eintlik besig om my eie vergifnis te verdien. En dit kan nie; God vergewe uit genade, nie op grond van ons goeie dade nie. En so behoort ons ook teenoor mekaar te handel. Maar wat nou uit vergifnis voortvloei, is ’n lewe van dankbaarheid, waarvan herstellende geregtigheid deel vorm. Dit doen Saggeus dan ook. Vanuit sy herstelde posisie voor God en in die gemeenskap is Saggeus nou bereid om restitusie te doen vir wat hy verbrou het. Die helfte van sy goed gee hy vir die armes, en hy betaal vierdubbeld terug waar hy iets van iemand afgepers het. So is hy presies die teenpool van die ryk jongman wat nie bereid was om iets vir die armes te gee nie (Lukas 18:23). Dis eintlik ironies: Die ryk man was ’n persoon van aansien in die gemeenskap en kenner van die wet, tog is hy nie bereid tot herstel nie. Maar Saggeus – die veragte, die uitgeworpene – gee veel meer (4x) as wat vereis is deur die wet. (Die wet het die volle bedrag + 20% rente vereis.) Dit is teken van sy egte berou en aanvaarding van God se vergifnis. Hy wil hê al die verhoudings waarin hy staan, moet herstel word.

Ware berou en ontvangs van vergifnis vertaal altyd in die bereidheid tot herstel van verhoudings en van skade wat aangerig is. Daarom sê Jesus ook vir die vrou wat in owerspel betrap is: “Gaan heen, en sondig nie meer nie” (Johannes 8:11). Die “gaan heen” is die kwytskelding en vergifnis van sonde, en die “sondig nie meer nie” is die oproep tot ’n nuwe lewe waarin sy afstand doen van haar ou lewe en die nuwe lewe as herstelde mens aanvaar en uitleef.

Maar hoe werk restitusie in die praktyk? Die volgende gedagtes kan dalk help:

Restitusie is ’n daad van vryheid. Dit is nie ’n absolute eis wat God aan ons stel in alle omstandighede en vir alles wat ons in die verlede verkeerd gedoen het nie. As dit die geval was, dan is restitusie nie meer deel van die evangelie nie, maar word dit ’n nuwe wet waardeur ons onsself probeer regverdig. Restitusie moet daarom altyd gesien word as iets wat voortvloei uit die feit dat God ons sonde vergewe het. Hy het dit van ons verwyder so ver as die ooste van die weste verwyder is; Hy dink nie meer daaraan nie; Hy reken ons dit nie meer toe nie; Hy het dit begrawe saam met Christus. Daarom dat Paulus kan sê: “Ek maak my los van die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Filippense 3:13). En onthou: Paulus het vreeslike goed gedoen in sy verlede: hy het die gemeente van God vervolg, mense in die tronk laat stop, en heel moontlik ook sommiges se dood veroorsaak. Daaroor het hy opregte berou gehad, maar hy het terselfdertyd gelewe uit die genade en vergifnis van God. As dit nie so was nie, word restitusie iets wat ‘n mens kan vernietig, of dit word ’n poging waar ek nie meer uit die genade en vergiffenis van God lewe nie, maar waar ek myself probeer loskoop van my verlede. En dit kan nie, daarvoor het Christus die losprys betaal.

Ons kan nooit alles wat ons verkeerd gedoen het, herstel nie. Restitusie kan nooit ’n manier wees om alle spore van ons verlede te probeer uitwis nie. Sekere goed kan nooit ongedaan gemaak word deur restitusie nie. Daarvoor is ons sonde net te groot. Daarom, dit is nie die bedoeling van restitusie om in ons verlede te bly grawe totdat die lei skoongevee is nie. Oor sekere goed moet mens maar net aanvaar: hier leef ek volledig uit die genade van God, iets wat jy in elk geval moet doen. Ons moet dus nie onmoontlike take vir onsself stel en laste op onsself lê nie. Restitusie is iets wat voor die hand liggend is, iets wat jy binne ’n redelike tyd en binne jou vermoë kan doen. Dis nie ’n angstige, patologiese grawe in jou verlede totdat jy na jou mening alles wat jy verbrou het, ongedaan gemaak het nie. Want daar gaan altyd nóg iets opduik wat jy nog nie herstel het nie.

Restitusie is ’n daad van genesing en vreugde. Restitusie moet nie meer wonde en ongelukkigheid veroorsaak as wat die verkeerde ding wat ek wil herstel in die eerste plek veroorsaak het nie. Dan trek dit ’n streep deur die oogmerk van restitusie, naamlik om genesing en herstel in verhoudinge te bring wat voorheen deur ons sonde vertroebel is. ’n Mens moet daarom met wysheid te werk gaan, want restitusie kan onbedoelde, slegte dinge tot gevolg hê. Restitusie moenie ou wonde oopkrap of nuwes veroorsaak wat weer nuwe spanning in verhoudings kan bring, net sodat jy beter kan voel oor jou verlede nie. Nee, per slot van sake leef ons uit God se genade en vergifnis, nie uit die verdienste van ons goeie dade van restitusie nie.

Die beste restitusie wat ‘n mens kan doen, is ’n lewe in diens van God. Ons moet vorentoe lewe. As Petrus herstel word as dissipel nadat hy Jesus drie keer verloën het, gee Jesus aan hom ’n taak: Pas my skape op. Met ander woorde, sy lewe word gevul met ’n nuwe visie en opdrag. Dít is hoe hy sy verlede gaan goed maak – deur dit vorentoe reg te lewe; dis sy restitusie vir wat hy in die verlede verbrou het. As dit nie so was nie, is restitusie nie meer restitusie nie maar patologie. Restitusie is nie ’n voortdurende skuld-vaart in jou verlede in nie, dis eerder die daarstel van nuwe moontlikhede. So gesien het restitusie nie eintlik met die verlede te doen nie, maar met die toekoms. ’n Mens kom nie los van jou verlede bloot deur die verlede te probeer herstel nie, maar deur die lewe elke dag uit God se hand te ontvang en om te doen wat jou hand vind om te doen. Ons word nie geroep om die verlede te probeer uitwis of ’n beter verlede daar te stel nie, maar om met ons oë gevestig op die einddoel te lewe, die voleinding van dinge, die volledige apokatastasis (wederoprigting en herstel) van God se skepping en van my eie lewe. En dit doen mens deur ’n lewe van diens aan God, nie deur terugwaarts te lewe nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...