Selfmoord opvolg

image_pdfimage_print

Selfmoord – Jan van der Watt

Vraag:

ʼn Leser het vantevore ʼn vraag gevra oor sy seun wat selfmoord gepleeg het. (Die vraag en antwoord is op die webblad beskikbaar.) Hy vra nou ʼn opvolgvraag

Baie dankie vir die antwoord. Dit beantwoord my bekommernis oor wat van my seun geword het. Ek glo hy is vergewe vir sy dade en ook vir die daad van selfmoord.

Ek sit nog steeds met n’ onbeantwoorde vraag:

Deur die Bybel is dit duidelik dat ons lewensdae aangeteken is en dat geen mens God se besluit kan verander nie. Ek wil God nie beskuldig dat Hy my seun laat selfmoord pleeg het nie, glad nie dit nie, daarvoor het ek Hom te lief en respekteer ek Hom te veel. Wat ek wel wil weet is die volgende: As God ons lewensdae opgeteken het en dit beheer, hoe kan ʼn mens dit verander, jou dae korter of langer maak?

Verhaal

ʼn Man in sy jong dae beleef n’ moeilike tyd en besluit om selfmoord te pleeg, dit slaag nie. Hy probeer nog verskeie kere en dit slaag nie. Uiteindelik probeer hy nie meer nie. Hy jaag teen hoe spoed op die land se paaie, maar kom niks oor nie. Hy beland in n’ ernstige ongeluk, hy sterf nie. Uiteindelik sterf hy aan ouderdom.

Vraag: Wie het gemaak dat hy nie gesterf het in al die pogings en die ongeluk nie? Dit moet God wees wat gesê het Hy wil dit nie toelaat nie, want God wyk nie van sy plan af nie.

Kan ek se my seun het gesterf presies op sy beplande tyd? Ek worstel werklik hiermee

Help my asseblief met n’ goeie klinkklare antwoord

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die essensiële punt is of God besluit wanneer mens doodgaan ook al pleeg jy selfmoord of probeer jy selfmoord pleeg en dit slaag nie.

Dit is ‘n moeilike vraag om presies te beantwoord, want dit vat ons so bietjie in die ‘studeerkamer van God’ in waar Hy sy besluite neem en wie kan werklik die gedagtes van God daar ken of deurgrond. Nogtans het teoloë oor die eeue probeer om tog antwoorde te probeer formuleer. Daar word onderskei tussen dit wat God toelaat maar nie noodwendig wil nie en dit wat Hy direk wil. Byvoorbeeld: dit is nie God se wil dat daar mense verlore gaan nie. Op baie plekke in die Bybel staan daar dat Hy graag wil hê dat almal gered moet word en dat Hy sy Seun vir die wêreld gegee het. Tog gaan mense verlore. Dit is ook nie God se wil dat ons vloek of steel of Hom onteer nie. Tog gebeur dit. Nou kan ons vra of God vooraf geweet het dit gaan gebeur. God weet alles en weet dit ook waarskynlik, maar wil dit nie aktief nie. As ons dus sê dat daar dinge gebeur wat God wel weet, maar nie aktief wil nie, moet ons vra wie die verkeerde dinge wil. Natuurlik die mense; en dit beteken weer dat mense wat kies om sonde doen (wil sonde doen) teen God se wil kan ingaan wat graag wil hê hulle moet nie sonde doen nie. Teologies kan daar dus gesê word dat God dit toegelaat het dat mense teen sy wil kan optree en so dus op ‘n sekere manier hulle eie lewe kan ‘stuur’ selfs sodat dit teen God se wil kan ingaan. Laat ons nog verder gaan – dit beteken dus dat God nie ‘n meesterplan uitgeskryf het wat elke oomblik van elke mense se lewe vasgeskryf het nie. Jy kan deur jou keuses doen wat God nie wil hê nie.

Nou kom ons by die feit dat iemand probeer om selfmoord te pleeg maar dit is nie suksesvol nie. Wat is God se rol daar? Weereens is dit nie maklik om te beantwoord nie, want ons het nie ‘n direkte lyn na God se studeerkamer toe om Hom te vra waarom dit gebeur het nie. Ons kan maar net in so geval sê dat God ook soms teen ons wil kan ingaan soos ons teen sy wil kan ingaan. Hy kan ook, as Hy dit goed dink, onklaar maak wat ons wil doen.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...