Sewe gevaartekens vir ‘n leier

image_pdfimage_print

Art is the elimination of the unnecessary. -Pablo Picasso

Sewe gevaartekens vir ‘n leier

Simon Petrus is ‘n baie gewilde figuur in die Bybel – hy is so menslik. Hy was die leier van die apostels; sy naam verskyn eerste op die lyste van apostels. Maar Hy het op ‘n dramatiese wyse geval (Lukas 22:31 – 62). Sy lewe is vol waarskuwingstekens vir vandag se leiers. Hierdie tekens gebeur nie altyd liniêr nie, maar elkeen van hulle is vir leiers ‘n rooi lig – gaan stadig en evalueer jou lewe.

 

  1. 1.Te veel selfvertroue

Jesus waarsku vir Petrus: Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Vol selfvertroue sê Petrus vir Jesus dat hy bereid is om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.  Petrus het dit bedoel. Kort daarna was hy bereid om Jesus in die tuin van Getsemane te verdedig. Ure daarna verloën hy vir Jesus – hy ontken dat hy Jesus ken. Hy het, sonder dat hy dit besef het, te veel selfvertroue gehad. Die oomblik as ek glo dat “dit nie met my kan gebeur nie,” flikker die rooi ligte.

  1. 2.Emosionele en fisiese uitputting

Die dissipels moes in Getsemane waghou en bid, maar hulle slaap.  Emosionele uitputting as gevolg van die toenemende teenkanting teen Jesus, eis sy tol. Uitputting maak hulle meer kwesbaar vir die vyand se pyle. Leiers het baie spanning wat tot uitputting kan lei.  Ook ons hou nie meer wag nie. Ons dra dikwels te veel laste en kry te min rus. Die gevolge kan ernstig wees.

  1. 3.Ons bid nie

Jesus se opdrag aan sy dissipels in Getsemane was duidelik: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. Maar hulle raak aan die slaap. Leiers bid dikwels nie, want hulle vertrou op hulleself en nie op God nie. As ek nie bid nie, is ek kwesbaar.

  1. 4.Daar is ‘n afstand tussen jou en Jesus

Petrus volg vir Jesus na Hy gevange geneem is: Petrus het op ‘n afstand agterna gekom. Ongelukkig ontwikkel daar gou ‘n afstand tussen sy hart en Jesus. Sy optrede sal gou hierdie stelling bewys. Hierdie man wat bereid was om saam met Jesus te sterf, staan nie by Hom toe hy daartoe uitgedaag word nie. As ons van God wegdryf, is van die eerste tekens dat ons minder ons Bybels lees en bid.

  1. 5.Probeer in die openbaar wegkruip

Petrus gaan sit by die manne om die vuur – dieselfde manne wat Jesus gevang het. Waarskynlik het hy gehoop dat niemand hom sou herken nie – dat hulle sy teenwoordigheid daar saam met hulle sou aanvaar. As jy in die versoeking kom om iets weg te steek, beweeg jy in die verkeerde rigting.

  1. 6.Vertel leuens

‘n Diensmeisie sien hom by die vuur sit, sy bekyk hom goed. Dié een was ook saam met daardie man. Petrus ontken dit – ek ken Hom nie. Jy weet dat jy as leier vinnig besig is om te val as jy ‘n leuen vertel as jy met die waarheid gekonfronteer word.

  1. 7.Ontkennings vinniger op mekaar

Drie keer praat ander oor Petrus se verhouding met Jesus; drie keer ontken hy so ‘n verhouding. Om te erken dat hy ‘n volgeling van Jesus is, kon sy dood beteken het. Dit was te erg vir Petrus. Sy ontkennings word al hoe heftiger: Man ek weet nie waarvan jy praat nie. Leiers wat besig is om te val, glo dikwels dat herhaalde en heftige ontkennings alles sal regstel.

Vir Petrus het die proses om te val vinnig verloop. Meeste leiers gly geleidelik. Die proses is dikwels so stadig dat hulle nie eers agterkom wat besig is om te gebeur nie. Daarom is dit belangrik dat ons hierdie waarskuwingstekens kan herken.

image_pdfimage_print