Skaapwagters

image_pdfimage_print

 “The best people often have terrible lives. Job is one example, and Jesus—the ultimate ‘Job,’ the only truly, fully innocent sufferer — is another.”  – Tim Keller

Skaapwagters

 Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het (Lukas 2:8).

As jy die aankoms van die Verlosser van die wêreld moes aankondig, sou jy jou boodskappers na skaapwagters in die veld gestuur het? Hoekom nie eerder die engele na die Joodse Raad in Jerusalem stuur nie? Of na koning Herodes? Of selfs na die keiser?

 

God kies die skaapwagters. Nou nie juis ‘n gesiene groepie mense nie. Arbeiders. Hulle verrig ‘n taak wat min mense bereid was om te doen. Hulle voorkoms is verslons; hulle ruik na skaap; hulle is gewoond om op die harde, koue grond te slaap. Volgens ons standaarde nie juis ‘n goeie keuse nie.

Die Bybel vertel vir ons van buitengewone skaapwagters. ‘n Duisend jaar vantevore was Dawid die koning. Hy het vir sy mense gesorg net soos hy vir sy skape op die velde buite Betlehem gesorg het toe hy nog ‘n seun was. Dawid kon die ongelooflike Psalm 23 skryf, want hy het geweet wat dit beteken om ‘n goeie skaapwagter te wees.. Hy het ook geweet dat God sy goeie Herder was:

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Dit is egter nie al nie: My Herder  lei my op die regte paaie; Hy beskerm my: In u hande is ek veilig.

Jesus, die afstammeling van Dawid, kom en word vir ons die goeie herder. In die Evangelie volgens Johannes sê Jesus:  Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape (10:14 – 15).

Kom ons dink weer. Op die nag van Jesus se geboorte word ‘n onkeerbare proses in werking gestel. Hierdie proses eindig toe Jesus aan die kruis vir die wêreld gesterf het. Hy is waarlik die goeie herder. Die besoek van die engele aan die skaapwagters – mense wat leiding en redding verstaan het –  was die beste manier om die storie van Jesus te begin.

Ons gebed vir vandag is Psalm 23.

Die Here is my herder

23 ’n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,

want U is by my. In u hande is ek veilig.

5U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

image_pdfimage_print