Sonde en volmaaktheid

image_pdfimage_print

Sonde en volmaaktheid – Francois Malan

Bertie vra:

Ons lees so baie dat sonde verwyder ons van God en die Hemel. Al is ons bekeer & glo dat Hy vir ons gesterf het, doen ons tog steeds sonde. Ons kan net nie volmaak lewe nie al probeer ons hoe hard. Wat dan nou van bogenoemde ?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Nadat Jesus die voete van sy dissipels gewas het, sê Hy vir Petrus: Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon (letterlik: rein); hy hoef niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon (rein), maar nie almal nie. Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: ‘Julle is nie almal skoon (rein) nie  (Joh 13:10-11). In Johannes 15:3 sê Jesus: Julle is alreeds reg gesnoei (letterlik: rein) deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Maar dit vereis dat ons in Hom sal bly en Hy en sy woorde in ons, soos die loot in die wingerdstok (Joh 15:4-8).

 

Die werk van die Heilige Gees is om ons te oortuig van ons sonde, dat Jesus ons verhouding met God reggemaak het, en van God se oordeel vir dié wat nie glo nie (Joh 16:7-11). Hy kom ons aan Jesus se dood en opstanding en aan sy woord verbind (Joh 16:13-15); Hy kom in ons woon en maak van ons kinders van God wat saam met Christus die ewige lewe erf en saam met Hom ly (Romeine 8:9-17).

 

Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Johannes 3:36).

 

As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons self en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1:8-9). As een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader (1 Joh 2:1).

 

Maar Jesus sê ons moet volmaak wees soos ons Vader in die hemel, deur ons vyande lief te hê en te bid vir dié wat ons vervolg (Mat.5:43-48). Om ons daartoe te kry is die werk van die Heilige Gees in ons en deur die woord van die Here wat ons hoor en lees en daarvolgens begin lewe, sodat ons al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor 3:17-18), deurdat Christus deur geloof in ons harte woon sodat ons in die liefde van God gewortel en gegrond sal wees (Efesiërs 3:16-19).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...