Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (6) – Adrio König

8.3.5 Romeine 9-11

Hier het ons die enigste deel in die Nuwe Testament wat enigsins breedvoerig aandag gee aan die toekoms van Israel. Die agtergrond is die feit dat die kerk in Paulus se tyd vol heidene sit met baie min Jode, en dit terwyl Jesus die Jode se Messias is. Dit is vir Paulus ‘n hartseer saak (Rom 9:1-4).

Die rede waarom die heidene “oorgeneem” het in die kerk, is eenvoudig: hulle het die evangelie van vrye genade geglo, terwyl Israel self hul heil deur die wet wou verdien (Rom 9:30-33).

 

En wat nou van die toekoms? Met ‘n baie interessante beeld verduidelik Paulus dit, die beeld van die twee olyfbome (11:16ev). Die mak olyfboom is die volk van God, die wilde boom is die heidene. Die stam of wortel van die mak boom is die gelowiges van die Ou Testament. Die Jode wat nie vir Jesus as Messias wou aanvaar nie, is die takke van die mak boom wat afgekap is. Die heidene wat tot geloof kom, is takke wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom geënt is (11:17-24). Hierdie beeld verduidelik die huidige situasie baie goed. Die kerk sit vol heidene, en Israel is in die geheel gesien, in ongeloof. 

 

En die toekoms? In ‘n sekere sin is die toekoms oop. Die Jode kan nog inkom. Dié van hulle wat Jesus as Messias aanvaar, is soos afgebreekte takke wat weer op die mak boom geënt word (11:23). En die heidene wat hulleself verhef en nie in die geloof volhard nie, is soos takke wat van die mak boom afgebreek word (11:22).

 

Hier kom nog iets by. As die Here die wilde lote op die mak boom kon ent, sal dit soveel makliker wees om die mak lote wat afgebreek is, weer terug te ent op hierdie boom (11:24). Dit beteken dat Paulus verwag dat dit maklik gaan wees om die Jode te oortuig dat Jesus hulle Messias is. Trouens dit is ook sy eintlike oogmerk met sy sending onder die heidene. Hoewel hy die apostel vir die heidennasies is, strewe hy in sy bediening daarna om sy eie mense jaloers te maak deur die heidene wat tot bekering kom (11:13-14). Dit is sy hoop omdat Jesus eintlik hulle Messias is.

 

Dit beteken dat Paulus nie die bekering van Israel sien as ‘n massale gebeurtenis iewers in die verre toekoms wanneer die hele volk eensklaps vir Jesus as die Messias sal aanvaar nie. Dit kan nooit die betekenis wees van “die hele Israel” wat gered word nie (11:26). Een enkele geslag iewers ver in die toekoms is nie “die hele Israel” nie, maar net een geslag.

 

Daar is Christene wat meen 11:26 volg op 11:25, in plaas daarvan dat 11:26 ‘n  verduideliking is van 11:25. 11:26 begin nie met: “en daarna” nie, maar met “en op hierdie manier.” Hier staan nie dat die hele Israel gered sal word nadat die volle getal uit die heidennasie ingegaan het nie. Daar word niks gesê oor wat sal gebeur nadat die volle getal heidene ingegaan het nie (netsoos in Lukas 21:24). Wat hier gesê word, is hoe die hele Israel gered sal word: As gevolg van Israel se verharding word die evangelie nou aan die heidene verkondig om Israel jaloers te maak. Dus terwyl die heidene tot geloof kom, moet hulle Israel jaloers maak, en só sal “die hele Israel” gered word. Hierdie proses sal aanhou totdat die volle getal uit die heidennasies ingegaan het. Daar is nie goeie rede om te aanvaar dat daar dan op daardie stadium iets anders as die wederkoms van Christus sal plaasvind nie.

 

Daar is nie sprake van ‘n ander toekoms van Israel nie as dat hulle verharding sal voortduur en net dié wat jaloers gemaak word, gered sal word.

 

Die vraag is dan natuurlik hoe dit kan beteken dat die hele Israel gered sal word? Die eintlike vraag is wie “die hele Israel” is. Dit is moontlik dat ‘n mens ‘n antwoord kry in die slotgedeelte, 11:28-32. Dit eindig met die nadruk op die herhaalde woord “almal:” God het almal (Jode én heidene) aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal (Jode én heidene) kan ontferm.”  Hierdie “almal” is die Jode en heidene saam. Elders noem Paulus die gelowiges van die Nuwe Testament ook “Israel” (Gal 6:16). “Die hele Israel” is dus nie die hele volk Israel nie maar die nuwe gestalte van die volk Israel: die volle getal gelowiges uit die Jode en die heidene.     

 

Dit alles beteken dat Paulus nie vir Israel as volk ‘n ander toekoms sien nie as dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word en dus weer deel word van die eintlike “Israel,” die gemeente van die Nuwe Testament.

 

Van ‘n aparte toekoms vir die volk Israel is daar nie in die Nuwe Testament sprake nie.

 

In watter sin is Israel as volk dan ‘n teken van die nabye wederkoms van Christus? Israel se voortdurende verharding en die feit dat hulle deur die gelowige heidene jaloers gemaak moet word, moet ons daaraan herinner dat Christus enige oomblik weer kan kom. Van ‘n terugkeer van Israel na die staat Israel kort voor die wederkoms van Christus is daar nie sprake in die Nuwe Testament nie. Die profesieë oor die terugkeer van Israel in die Ou Testament is vervul in die terugkeer uit die ballingskap in Babel. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...