Uitverkiesing – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Willem vra:

Hoe verduidelik mens die Bybelse uitsprake oor uitverkiesing (bv Rom 8:28-30) aan iemand wat dit as ’n onderdrukking van die mens se vryheid van keuse beskou. Die persoon verklaar dat hy nie aan so ’n onregverdige God kan glo nie. Ek het die emeritaatrede van prof Dirkie Smit oor die goeie boodskap van die uitverkiesing gelees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In my antwoord gaan ek nie op alle aspekte van die uitverkiesing in nie, maar slegs op die vraag of uitverkiesing teenoor persoonlike keuse staan – die kwessie wat ons vraagsteller aanroer. (Daar is reeds uitstekende bydraes op die Bybelkennis-webblad oor die uitverkiesing; die vraagsteller kan net “uitverkiesing” by die soekfunksie intik en so al die artikels vind.)

Wanneer uitverkiesing as ’n teoretiese konsep hanteer word, los van hoe die saak in die bladsye van die Bybel voorkom, word dit inderdaad ’n probleemkwessie en word allerlei besware daarteen opgewerp, soos wat ons vraagsteller aan die orde stel. Dit word dan maklik so voorgestel asof uitverkiesing alle menslike keuse en verantwoordelikheid by voorbaat uitskakel, asof God ons soos pionne op ’n skaakbord rondstoot sonder dat ons enige sê het. Maar laat ek dit onomwonde stel: Goddelike uitverkiesing onderdruk nie menslike vryheid van keuse nie, maar roep dit juis op. Laat ek verduidelik.

Een van die klassieke tekste in die Nuwe Testament wat oor die uitverkiesing handel, is Efesiërs 1:3-14. In v4 word gesê dat God voordat die wêreld geskep is, ons uitverkies het. Hierdie woorde word soms so verstaan asof God eensydig besluit het wie Hy uitkies om aan Hom te behoort en dat die mens nie ’n keuse daarin het nie. So voorgestel, maak dit inderdaad van die uitverkiesing ’n saak van Goddelike willekeur en menslike onmag. Die mens moet maar eenvoudig aanvaar wat God in sy almag besluit het: is jy uitverkies, is jy een van die gelukkiges; is jy nie uitverkies nie, het jy dit ongelukkig sleg getref. Maar as mens so redeneer, gebeur presies waarteen ek hierbo gewaarsku het, dat van die uitverkiesing ’n teoretiese konsep gemaak word, los van die uitleg en bedoeling van die Bybelteks. En met Bybelteks word altyd bedoel dat mens nie woorde en uitdrukkings op die klank af uit hulle verband haal en dan ’n hele teorie daar rondom bou nie. Nee, mens moet noukeurig lees om die bedoeling van die teks self te peil en te verstaan. Kom ons pas dit toe op Efesiërs 1. Dan ontvou ’n heel ander verstaan van die uitverkiesing. Ons kyk na drie sake.

1   Daar word telkens in hierdie verse gesê dat God ons in Christus uitverkies het. Soos ’n refrein loop dit deur v3-14: in Christus het God ons uitverkies (v4), God skenk sy genade vrylik in die Geliefde (v6), deur die bloed van sy Seun is ons verlos (v7), God het die geheimenis van sy wil deur Christus tot uitvoering gebring (v10), dit was God se doel om alles op aarde onder een hoof, Christus, te verenig (v10), deur Christus het ons deel geword van die volk van God (v11,13), in Christus het die Heilige Gees ons tot God se eiendom beseël (v13), en ons het ons hoop op Christus gestel (v12). Die punt is: die uitverkiesing is nie ’n onbekende besluit van God wat in groot duisternis gehul is en waaroor mense maar net in onsekerheid kan wonder nie. Nee, God se ewige uitverkiesing van mense vind in en deur Christus plaas. God het voor die grondlegging van die wêreld reeds besluit dat Hy mense in Christus na Hom toe sal trek. En hierdie besluit het God in die geskiedenis van Israel waar gemaak. Hy het sy redding, wat vir die hele wêreld beskikbaar is, deur die kruis en opstanding van Christus kant en klaar voorberei. Wanneer jy nou in Christus glo en deur die Heilige Gees beseël is, is die doel van God se uitverkiesing voltrek en weet jy vir seker dat jy deel van sy volk, sy gemeenskap van gelowiges op aarde is. Daar is dus nie ’n uitverkiesing wat skuilgaan agter en buite Christus om en wat ons in groot onsekerheid laat oor ons ewige heil nie. Die heil wat deur die bloed van Christus beskikbaar is, is die onteenseglik sigbare bewys van God se ewige verkiesing. Niemand hoef dus te wonder hoe God se uitverkiesing werk nie; dit werk wanneer jy in Christus glo. Dan is jy deel van die heil wat God beskikbaar stel op aarde. En wáár is dit beskikbaar? Dit bring ons by die volgende punt.

2.   Wat treffend is in Efesiërs 1:3-14 is die “ons” en “julle” wat deurgaans voorkom. Dit is telkens ons wat in Christus uitverkies is en julle wat deel geword het van die volk van God. Hierdie meervoude is nie om dowe neute daar nie. Ons wil dikwels van die uitverkiesing ’n individualistiese saak maak, maar hierdie “ons” en “julle” verwys na Israel en die kerk wat as heilsinstansies uitverkies is om God se redding op aarde te verwesenlik, instansies waardeur God sy genade na almal op aarde laat vloei. Elkeen wat glo, word deel van hierdie uitverkore gelowige volk van God. Die uitverkiesing werk dus eintlik via die volk van God na elke individu toe; ’n mens kry deel aan die uitverkiesing wanneer jy ingelyf word by daardie instansie wat God uitverkies het om sy heil op aarde te vergestalt. Hierdie siening verlig ook die druk wat ons laat opbou rondom die uitverkiesing dat elke individu voor die grondlegging van die wêreld persoonlik deur God uitverkies is. In ’n sekere sin ís dit so, maar dis eintlik indirek so: jou uitverkiesing word in die geskiedenis ’n werklikheid wanneer jy die heil wat beskikbaar is in God se uitverkore voertuie – die volk Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament – in die geloof aangryp en jou eie maak. Dan word jy opgeneem in hierdie stroom van genade wat God uitgekies het om sy heil op aarde te versprei.

3.  Hierbo het ons telkens van geloof gepraat. Dis nou nodig om dit duideliker uit te spel in terme van die uitverkiesing. Die uitverkiesing in Christus en die inskakeling by die kerk hou in dat dit mense se geloofskeuses oproep en insluit. Efesiërs 1:13 sê duidelik dat ons die uitverkiesing in Christus ’n werklikheid gemaak het deur die evangelie te hoor en tot geloof te kom. Verre sy dit dus daarvan dat die uitverkiesing ’n mens sonder die vryheid van keuse laat of menslike verantwoordelikheid uitskakel. God maak nie van ons stokke en blokke wat Hy na willekeur manipuleer nie. Die mens het nog steeds die verantwoordelikheid om gehoor te gee aan die heil wat God beskikbaar stel. Natuurlik, presies hoe Goddelike verkiesing en menslike geloof in mekaar pas, is nie deursigtig nie. As ’n mens kies om in Christus te glo, kan jy nie sê dis jou eie prestasie nie, want dan word geloof ’n goeie werk op grond waarvan God jou beloon. Nee, ook jou geloof is deel van God se misterievolle werking wat ons deur sy Gees van binne-af nuut maak deur die wedergeboorte (Joh 3:3-8). Daarom word die werk van die Heilige Gees ook spesifiek genoem in Efesiërs 1:13-14: Die Gees beseël ons as God se eiendom en is die waarborg dat ons alles sal ontvang wat God belowe het. Menslike keuses het egter ook ’n slegte keersy: ’n Mens kan ook nee sê vir God se heil; jy het die keuse om God se verkiesing in Christus te verwerp. Maar as jy hierdie heil verwerp, kan jy nie Gód die skuld gee daarvoor nie. Dit staan volledig op jóú rekening; dis jou keuse. God verwerp niemand van alle ewigheid af nie; Hy verwerp alleen dié wat Hóm volhardend verwerp, wat eintlik daarop neerkom dat God jou oorlaat aan jou keuse. God neem ons besluite dus baie ernstig – hetsy ons keuse van geloof, hetsy die keuse wanneer ons sy heil verwerp. Die verkiesing in Christus staan van alle ewigheid af vas. Wie dit in die geloof aangryp, maak daarmee God se verkiesing in Christus effektief en is seker van God wat red. Maar wie dit in eiesinnigheid verwerp, het slegs homself te blameer.

Uit bostaande oorsig oor Efesiërs 1:3-14 behoort dit duidelik te wees dat die uitverkiesing allermins beteken dat menslike keuses uitgeskakel word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...