Vervulling met die Gees

image_pdfimage_print

Vervulling met die Gees – Kobus Kok

Ronel Pistorius vra:

 

“Kan iemand asseblief vir my verduidelik wat is die verskil tussen die “indwelling of the Holy Spirit” en “being filled by the Holy Spirit”? Is daar ‘n verskil?”

 Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Is daar ʼn verskil tussen die “indwelling of the spirit” en die “being filled with the spirit”?

Ons moderne maniere om oor die saak te praat is dikwels verwarrend, veral omdat verskillende tale die begrippe anders uitdruk omdat hulle ander woorde het om bepaalde konsepte mee uit te druk. Verder is baie van die maniere waarop ons vandag, veral in die Charismatiese kringe daaroor praat, vreemd aan die wyse waarop die Bybel self daaroor gepraat het. So is die gedagte dat mens die Heilige Gees nooi om deel te word van die erediens eintlik heeltemal vreemd aan die Bybel self. Die vroeë Christene het geglo dat hulle die Gees ontvang het, en dat die volheid van God se Gees reeds in die kerk teenwoordig is. Lees maar net Efesiërs 1:23. Die beste is om na die oorspronklike Bybelse tekste in die Grieks self te gaan kyk, en die begrippe en terme wat die Bybel self gebruik, jou eie te maak en nie vreemde konsepte in die proses “in te voer” nie.

In Johannes 20 lees ons hoe Jesus na sy opstanding oor die dissipels blaas en gee dan vir hulle die opdrag om die Heilige Gees te “ontvang” (labete). Die wat glo het ook die Gees ontvang – hulle is vervul met die Gees.  Ons lees in Handelinge 2:4 Lukas se weergawe van die gebeure en Lukas gebruik weer ander woorde om dieselfde saak mee te beskryf. Lukas sê dat die dissipels vervul is met die heilige Gees wat soos wind die vertrek gevul het, en toe soos vuurtonge op die dissipels se koppe  gaan rus het. In Handelinge 4:2 sê Lukas dat hulle toe vervul is met die Heilige Gees en dat hulle in ander tale begin praat het wat die hoorders erken het – synde dat hulle almal die evangelie in hulle eie taal gehoor het. Die woord vir vervul wat Lukas in Hand 4:2 gebruik is eplêsthêsan (hulle was vervul) wat in die Aoristos (verlede) Indikatief (feit) Passief (God doen die aksie) vorm van die werkwoord voorkom. ʼn Werkwoord in Grieks wat in die passief voorkom, dui aan dat die subjek nie die aksie van die werkwoord verrig nie, maar dat die aksie van die werkwoord (om te vervul) deur iemand anders aan die subjek gedoen word. In hierdie geval is hulle deur die Heilige Gees vervul.   Dit wat daar in Handelinge 2 met die dissipels gebeur was so effens anders as wat later met ander gelowiges gebeur. Dit verwys na die eerste uitstorting van die Gees. Gelowiges wat later tot bekering kom, ontvang die Heilige Gees. Gelowiges wandel in die dampkring van die Gees – hulle is mense wat reeds van die bestaanstoestand van dood na die bestaanstoestand van lewe oorbeweeg het (vgl. Joh 5:24). Volgens die Bybel werk die heilige Gees in en deur die gelowige. Die Gees wat reeds in die gelowige is, lei die gelowige in waarheid en bemagtig die gelowige om die vrug van die Gees te doen (vgl. Gal 5:22). In Galasiërs sê Paulus mens moet “wandel in die Gees” en nie die begeertes van die vlees bevredig nie. Die woord vir “wandel in die Gees” word in die Grieks uitgedruk met die woorde “pneumati [Gees] peripateite [wandel]” (Gal 2:16). Die woord peripateite in die Grieks kom voor in die Praesens Imperatief Aktiewe vorm van die werkwoord. Dit beteken dat Paulus vir hulle die opdrag gee (imperatief) om self (aktief) as ʼn gewoonte/permament (praesens) te wandel (dwell) in die Gees. Die Gees is immers in die gelowige, maar ʼn gelowige moet ook daarvolgens wandel. ʼn Beeld wat ons daarmee kan help is die van ʼn akteur op ʼn donker verhoog in die staatsteater. Indien die lig op die akteur skyn, wandel hy/sy in die lig. Die persoon is beide vervul met die lig, maar wandel ook in die lig. Net so moet gelowiges, op wie God se lig skyn, en in wie die Gees reeds teenwoordig is, binne die dampkring van die lig wandel.

Die gedagte dat mens op een of ander mistieke wyse meer indwelling van die Gees kan kry is eintlik vreemd aan die Bybel self. Dit is wel so dat indien mens vas en bid dat mens nader aan die Here voel, maar dit moet nie verwar word met die “indwelling” van die Gees nie. Gelowiges het reeds die volheid van God se Gees wat in en deur hulle werk. Deur geloofsgewoontes verbind jy jouself net sterker aan God, maar dit beteken nie dat jy soos ʼn houer is waarin die Gees minder of meer teenwoordig kan wees nie. Jy het die Gees ontvang of jy het nie die Gees ontvang nie. Gelowiges wat nie in die Gees wandel nie kies egter teen God en verwerp die werking van God se Gees in hulle.

Bestudeer gerus die volgende tekste wat verbind word met die ontvangs van die Gees:

•         Luk 1:35; 11:13

•         Joh 20:22

•         Hand 8:15, 17:19; 19:2

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...