Voorwaardelike redding – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Kobus vra:

Ek glo vas dat enige persoon gered kan en sal word as die persoon Jesus aanneem en sy sonde bely. God skep alle mense, maar party verval in sonde en sal nie die ewige lewe saam met God hê nie.

My vraag is nou: Skep God hierdie mense met die doel om hulle te straf? As ek Spreuke 16:4 lees, wil dit so voorkom, maar ek kan nie verstaan hoekom God dit sal wil doen nie. Hoekom sal hy lewens so mors? En sê nou maar ek is een van daardie siele, gaan ek dan my geloof verloor en teen Jesus draai?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller se vraag kan die beste teen die agtergrond van die sogenaamde dubbele uitverkiesingsleer beantwoord word. Hiervolgens is daar twee soorte uitverkiesings: Sommige mense word tot die lewe uitverkies, maar ander word “uitverkies” tot die dood. Laasgenoemde mense is dan die voorwerp van God se wraak en oordeel oor die sonde, en sal die ewige dood sterf, ongeag of hulle tot bekering gekom het. Hulle is immers “verordineer” tot die ewige dood, en hulle keuses speel gevolglik geen rol in hulle ewige bestemming nie.

Hierdie siening (dubbele uitverkiesing) is egter nie hoe ons die uitverkiesing moet verstaan nie. By die uitverkiesing moet mens baie versigtig wees om nie in determinisme te verval nie. Dit beteken dat God “voor die grondlegging van die wêreld” sou bepaal (“gedetermineer”) het dat sekere mense uitverkies word tot die ewige lewe (hulle name is opgeskryf in die boek van die lewe) en dat ander verwerp word tot die ewige verdoemenis. Hierdie getalle en name is dan voor die tyd reeds vas en afgesluit. Dit maak dus nie saak wat elke kategorie mense in hulle lewe op aarde doen nie, maar hemel toe sál jy gaan as jy uitverkies is, en die hel ís jou voorland as jy verwerp is; om dit in sulke krasse terme te stel. Hierdie voorstelling van sake bring mee dat ’n mens se lewe dan eintlik volgens ’n vooraf opgestelde program verloop waarin jy nie veel keuses het nie. Jou lewensloop is vir jou bepaal (gedetermineer), en so sal jou lewe verloop.

Hierdie siening klop egter nie met die gegewens in die Bybel nie; hiervolgens staan mense in ’n dinamiese verhouding tot God en ander mense. Mense maak foute, verhard daarin, of kom tot bekering. En selfs God kan van plan verander oor besluite wat Hy geneem het om uit te voer. Dink hier aan sy plan om Nineve te vernietig, maar dan verander Hy van plan as hulle tot bekering kom. Die een wat by die oorspronklike plan wou bly – Jona – en wat God verkwalik dat Hy nie by hierdie plan hou nie, is die een wat bedroë daarvan afkom, terwyl die Een wat “van plan verander” juis die genadige God is. God is dus in voortdurende interaksie met mense se gedrag en besluite. Die enigste besluit wat onveranderlik vasstaan in God se raad, is dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe. God stel alles in werking om mense na Hom te trek om hulle van hulle doodsbestaan te red. Die verhouding tussen God en mense is dus baie meer dinamies as wat in ’n deterministiese uitverkiesingsleer uitgebeeld word.

Die bedoeling van tekste wat praat oor God wat mense uitverkies “voor die grondlegging van die wêreld” (bv Ef 1), is nie dat ons daaruit allerlei afleidings sal maak oor die arbitrêre manier waarop God red nie (Hy kies en verwerp na willekeur), maar dat gelowiges die troos sal hê dat hulle verlossing vasstaan in God se raad. Let ook daarop dat die verkiesing “in Christus” plaasvind (Ef 1:4). Wat vasstaan van “voor die skepping” is dus nie die individuele name van mense nie, maar God se verlossingsplan “in Christus” wat in die kerk sigbaar word. Dit gaan oor die verlossing wat in Christus voorberei is en oor mense wat tot geloof moet kom voor hulle die voordele van “uitverkies” te wees, kan geniet. Om dit pront te stel: As jy in Christus glo, wéét jy jy is uitverkies. Maar as jy nie glo nie, is daar niks te sê oor jou uitverkiesing nie. God se ewige besluite en mense se daadwerklike bekering en geloof in Christus staan dus nie teenoor mekaar nie, maar is die Goddelike en menslike kant wat sáám die totale prentjie van uitverkiesing en ewige lewe uitmaak. Soos ’n bekende teoloog uit die verlede dit treffend gestel het: “God neem sy ewige besluite altyd op die allerlaaste oomblik.” Ons moet “ewig” dus nie gelyk stel aan iets wat vóór tyd, vóór die skepping van die wêreld plaasgevind het, en toe die wêreld tot stand gekom het (tyd ontstaan het), het God se ewige plan in werking begin tree en so loop dit onverbiddelik af tot by die einde nie. Nee, “ewig” is eerder ’n dimensie wat voortdurend die tyd oorspan. Op enige gegewe oomblik in die tyd kan God “vanuit die ewigheid in die tyd inbreek” (om dit baie simplisties te stel) om sy heilsplan in werking te stel – of te verander! Toegepas op die uitverkiesing beteken dit dus dat Goddelike alwerksaamheid vanuit die ewigheid en mense se reaksie daarop ’n dinamiese aangeleentheid is wat mense se keuses insluit. En presies hoe God se alwerksaamheid (ewige verlossing in Christus) en menslike werksaamheid (bekering en geloof in Christus) presies werk, is uiteraard ‘n misterie. Maar dit kan beslis nie in terme van ’n deterministiese uitverkiesingsleer verstaan word nie waar die mens geen keuses het nie.

Om dus die vraagsteller se vraag direk te beantwoord: God mors nie met menselewens nie; Hy skep nie lewens met die uitsluitlike doel om hulle vir die ewige verderf groot te maak nie. Nee, as jy glo en volhard in Christus, behoort jy aan Hom, vir tyd en ewigheid. Daar is nie ’n donker kant aan God waar jy dalk – ten spyte van jou geloof in Christus – die ewige lewe kan misloop net omdat God miskien “ander planne” met jou het waarvan jy nie weet nie. Niemand wil in so ’n God glo wat sulke speletjies met sy skepsels speel nie. Met so ’n God het jy nie ’n duiwel nodig nie. Maar gelukkig is dit nie soos die uitverkiesing werk nie, en ook nie hoe die Bybel God uitbeeld nie.

Wat Spreuke 16:4 betref, die volgende: Hierdie teks weerspreek oënskynlik ons slotsom hierbo, want hier staan dan dat God die goddelose gemaak het met die doel om hulle te straf. Beteken dit God vooraf besluit watter mense hel toe gaan, en dat sulke mense geen kans op redding het nie; of as hulle dalk tot bekering kom, hulle weer in ongeloof sal verval? ’n Mens mag egter nie uit Spreuke 16 aflei dat sekere mense nie ’n keuse het in die saak nie, dat hulle eenvoudig ewig gestraf sal word net omdat God so besluit het. Die bedoeling van hierdie gedeelte uit die Spreukeboek (15:33-6:9) lê in ’n ander rigting, naamlik dat God die lewe se struktuur bepaal – wat goed en wat sleg is. Hy bepaal die orde vir ware lewe. As jy ware geluk en seën wil vind, moet jy binne hierdie orde lewe. Daarom, die goddelose – die een wat self kies om buite hierdie God-gewilde orde te leef – moet weet dat hy opgeskryf is vir die oordeel, die dag van straf. So het God dit bepaal: Straf is gemaak vir hulle wat hulle eie weg wil volg en God se weg verwerp, dit is die goddelose van Spreuke 16:4. Hierdie vers het dus niks daarmee te make dat God sekere mense na willekeur “verordineer” tot straf nie; inteendeel, jy kies self jou lot as jy God se weg verlaat; dan plaas jy jouself buite God se orde vir ’n goeie lewe, dan beland jy daar waar God bepaal het dat goddeloses sal heengaan as hulle hulle nie bekeer van hulle eiesinnige weë nie.

Naskrif: Daar is heelparty ander artikels op Bybelkennis se webblad wat ook oor die uitverkiesing handel, en ons vraagsteller verder sal help. Sleutel net “uitverkiesing” by die soekvenster in om hierdie artikels te vind.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...