Waarsêery

image_pdfimage_print

Waarsêery – Francois Malan

Jan Smith vra:

Ek weet nie of daar al iets geskryf is oor waarsêery nie. Saul roei diesulkes uit maar in sy nood besoek hy die Heks van Endor en versoek dat Samuel vir hom moet verskyn. Sommige kenners sê dit was ‘n demoon ander reken dat God dit uitsonderlik toegelaat het om vir Saul te wys dat Hy klaar is met hom. Soms lyk die demoonstorie vir my reg maar dan profeteer “Samuel” dat Saul en sy twee seuns die volgende dag by Hom sal wees. Saul en sy seuns sterf inderdaad en dit bevestig die tweede siening waarna ek hierbo verwys. Wil u dalk help met ‘n verduideliking, Asb

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Waarsêery was bekend in die Midde-Ooste en is ook beoefen deur Israeliete wat nie op die Here vertrou het nie, ten spyte van die Here se uitdruklike afwysing daarvan.

Eksodus 22:18 ‘Jy mag nie ‘n towenares laat lewe nie.’ Met ‘towenares’ word verwys na iemand wat haar met okkulte sake inlaat, verborge, geheime, bonatuurlike sake.

Deuteronomium 18:9-14: ‘Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou sal gee,

moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie…Daar mag nie ‘n besweerder by jou wees nie en ook nie ‘n towenaar of iemand wat voortekens lees, of ‘n goëlaar of ‘n slangbesweerder, of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. Die Here het ‘n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens dit is juis oor dié afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf. Jy moet opreg wees voor die Here jou God. Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.’

In Nahum 3:4 word verwys na Nineve met haar towerkunste wat nasies met haar towerkunste

vernietig.

Eksodus 7:11 verwys na die Farao se reaksie op Moses se wondertekens, wat die Here aan

hom gegee het. Die Farao se goëlaars, die Egiptiese towenaars, doen toe met hulle towerkunste

presies dieselfde as Moses, hoewel Moses se slang daarna al hulle slange ingesluk het.

Maleagi 3:5 ‘Dan sal Ek na julle toe kom as regter. Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat

hulle met towery ophou….teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.’

Behalwe in gevalle van Israel se dekadensie, wanneer hulle die gebruike van die heidense volke

begin aanneem (2 Kon 17:17; 21:6), word slegs van towenaars gepraat in verband met vreemde

volke. So roep Nebukadnesar sy towenaars, die voorspellers, die goëlaars, en die sterrekykers om

sy droom vir hom uit te lê (Daniël 2:2), en die Filistyne hulle waarsêers om raad te gee

(1 Sam.6:2).

Die beoefening van okkultisme is vir die Here ‘n gruwel. Om die Here se guns te wen het Saul  die ‘dodebesweerders’ en waarsêers uit die land verban na Samuel se dood (1 Sam 28:3).

Dodebesweerders – letterlik: voorvaderaanbidders, wat die geeste van die gestorwenes

 oproep – die Griekse vertaling daarvan reeds in die 3e eeu v.C., is ‘buiksprekers’. Die 

vroue towenaresse het gewoonlik daarvan gebruik gemaak om die dooies se stemme na te 

maak.

 

Waarsêers – die beskouing was dat die dooies dinge geweet het wat op die aarde aangaan 

 en sal gebeur, en het dit deur die waarsegster te kenne gegee.

 

Maar toe Saul so iemand nodig gehad het, het sy amptenare goed geweet waar hy ‘n dodebesweerster in Israel se gebied kon kry. Saul vra haar om vir hom ‘n gees van ‘n gestorwene op te roep, en toe hy sê dit moes Samuel wees, besef sy dit is Saul wat met die versoek gekom het, 1 Sm 28:7,11. Saul sien self nie die ‘wese uit ‘n ander wêreld’ nie (letterlik: ‘n god of ‘n geestelike wese), maar die vrou vertel wat sy sou gesien het. Die gesprek wat volg tussen Samuel en Saul is ‘n herhaling van woorde wat Samuel in die verlede vir Saul gesê het en waaroor Saul tob en worstel (vgl. 1 Sm 15:14-30).

Saul kla dat God hom verlaat het. God antwoord hom nie meer nie, en die Filistyne veg teen hom (1 Sm 28:15). Nou wil Saul vir God dwing om met hom te praat deur ‘n waarsegster. Saul wou nie na die Here luister nie, en het selfs die priesters van Nob laat doodmaak, wat vir hom die woord van die Here kon gee (1 Sm 22:6-18). Eintlik hoop Saul die afgode van die heidene sal vir hom leiding te gee, omdat hy die Here en die pad van die Here verlaat het. Die verhaal word hier ingevoeg om te wys hoe vér Israel van die Here af weggedwaal het onder hulle koning wat hulle so graag wou hê, ‘soos dit by al die nasies is’ (1 Sam 8:5), dat hulle die gebruike van die nasies volg teen die wil van die Here in.

Al is daar in die okkulte van die nasies baie dinge en kragte wat ons nie verstaan nie, en waaroor mense hulle verwonder en laat lei, is dit in wese wantroue in die Here. Wat volgens 1 Samuel 28 presies gebeur het, weet ons nie. Maar dat waarsêery deur die Here veroordeel word, is duidelik.

Galasiërs 5:20 stel afgodery en towery onder die praktyke van die sondige natuur. Vgl Paulus se optrede teenoor die waarsegster in Hand 16:16-18 wat hulle in die openbaar as dienaars van God, die Allerhoogste aangekondig het, en Jesus se optrede teen die twee mense wat in die mag van die duiwels was en Hom as die Seun van God aangespreek het (Matteus 8:28-34).

Die woord van die Here deur Samuel aan Saul was: ‘…weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp (1 Sam 15:23).

Vir sy dissipels het Jesus gesê: Hy stuur vir hulle die Heilige Gees (Jn 16:7). Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan gebeur, aan julle verkondig.’ (Jn 16:13). Hy is die bron van ons kennis van die waarheid, en Hy gebruik daarvoor die woord van die Here om ons te oortuig van die waarheid..

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print