Wat is die kerk? Wat is die kerk?

image_pdfimage_print

Good works do not make a good man, but a good man does good works – Martin Luther.

Wat is die kerk?  Wat is die kerk?

Ek gaan baie gebruik maak van Andy Stanley se boek: Deep and Wide: Creating Churches Unchurched People Love to Attend (2012).

In Matteus 16 vra Jesus vir sy dissipels: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? Die dissipels sê vir Jesus wat hulle gehoor het: Johannes die Doper, Elia, Jeremia, een van die profete. Toe wou Hy by die dissipels weet wie hulle sê Hy is. Petrus antwoord dat Hy die Christus, die Seun van die lewende God is. Jesus antwoord: Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.

 

Die Griekse woord wat hier met kerk vertaal word, is ekklesian.  Die hoeksteen/fondament van hierdie nuwe entiteit – die kerk – is die geloof dat Jesus die Christus  die Seun van die lewende God is. Twee millennia later is dit steeds die faktor wat die kerk verenig.

Daar is egter iets anders in hierdie gesprek wat ook van groot belang is. Ekklesian word hier met kerk vertaal. Die oorspronklike betekenis was ‘n vergadering of ‘n byeenkoms – burgers wat vir ‘n doel bymekaar geroep is. Dit verwys nie na ‘n spesifieke plek of spesifieke vergadering nie. Die woord verwys dus na ‘n byeenkoms van mense verenig deur ‘n gemeenskaplike identiteit en doel.

Hoekom vertaal die Bybel nie ekklesian met vergadering/byeenkoms nie? Voor Konstantyn was die aanbidding van Christene redelik informeel. Hulle het in huise bymekaar gekom, saam geëet, gesing, die Skrifte gelees, ‘n bespreking gehad en nagmaal gebruik. Later begin hierdie aanbidding elemente van die keiserlike protokol insluit: weelderige klere, kore en dramatiese vertonings. Aanbidding word formeel en hiërargies –  die gemeente word toeskouers. Daar word geboue opgerig waar die gemeente dan formeel bymekaar sou kom. Kerk word ‘n plek. Die Germaanse kulture begin die woord kirika – kerk – gebruik. En daarna word die woord algemeen gebruik. Jy kan die deure van die kerk sluit, maar nie deure van die ekklesian van Jesus nie.

 

Ons kry nou ‘n dramatiese verskuiwing in klem en rigting. Die kerk is nie meer ‘n beweging gebou op die verstaan van wie Jesus is nie – die kerk word nou ‘n plek. Wie die kerkgebou beheer, beheer die kerk en ook die Skrifte – en dus die mense. Die beweging  word nou ‘n instelling wat na binne fokus, hiërargies is en vol rituele – beslis nie die oorspronklike bedoeling nie.

Wat beteken dit alles? Kerkleiers en lidmate moet ‘n paar ernstige vrae begin vra:

  • Vergader ons of beweeg ons?
  • Maak ons ‘n meetbare verskil in ons plaaslike gemeenskap of hou ons net eredienste?
  • Is ons om ‘n roeping georganiseer of om ou bedieningsmodel  wat ons van die vorige geslag geërf het?
  • Allokeer ons hulpbronne asof Jesus die hoop van die wêreld is of dryf die kultuur van die gemeente die begrotingsbesluite?
  • Is ons ekklesian of is ons tevrede om Kerk te wees?

Nou kom ons by die tweede belangrike vraag: Vir wie is die kerk? Daarna kyk ons volgende keer.

 

image_pdfimage_print

You may also like...