Wie verdien hulp?

image_pdfimage_print

“God has one destined end for mankind – holiness! His one aim is the production of saints. God is not an eternal blessing-machine for men. He did not come to save men out of pity. He came to save men because He had created them to be holy.” – Oswald Chambers


Wie verdien hulp?

God se werk om lewens te verander, gaan meer oor God se liefde as oor verdienste. Niemand verdien God se hulp nie. Wat ons nodig het, is God se genade. Maar ons is geneig om armes te verdeel in dié wat hulp verdien en dié wat nie hulp verdien nie. Armes wat dit nie verdien nie, glo ons, probeer nie hard genoeg nie – hulle is lui, hulle drink te veel, hulle rook dagga …

 

Om te vra of mense ons hulp verdien of nie, is die verkeerde vraag. En as jy die verkeerde vraag vra, gaan jy elke keer die verkeerde antwoord kry. In Jesus se tyd is gestermdheid en armoede gesien as die gevolg van sonde. Jesus verwerp hierdie siening. Jesus en sy dissipels kom by ‘n man wat blind was. Sy dissipels vra: Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n? (Johannes 9:2). Jesus besluit om op ‘n belangriker vraag te fokus: Dit is nie deur sy sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

 

Jesus maak dit baie duidelik dat God se werk om lewens te verander, gaan oor God se liefde en nie verdienste nie. In Matteus 25 plaas Jesus nie die mense in kategorieë – sondaars of nie sondaars – nie. Sy oproep was eenvoudig om uit te reik na diegene met behoeftes en om hulle lief te hê. “Ek was honger; Ek was dors; Ek was sonder klere; Ek was siek.”

 

As ons met mense wat ons glo nie ons hulp verdien in aanraking kom, moet ons drie beginsels  in gedagte hou.

  1. Gee aan hulle dieselfde genade as wat ons ontvang het

Doen aan ander wat ons graag wil hê dat hulle aan ons moet doen. Almal van ons het gesondig; almal van ons skiet tekort aan God se standaarde in ons lewens. As ons sou meet hoeveel genade, vergifnis of liefde ons verdien, skiet ons ver tekort. Ons weet nie genoeg om ons naaste te oordeel nie. Ons weet nie wat werklik in hulle lewens aangaan nie. Net God weet dit. My rol is om lief te hê, te dien en te bid vir verandering.

 

  1. Probeer om te verstaan en nie te oordeel nie

Ons is baie gou om diegene wat ons glo nie ons hulp verdien te oordeel – hulle is nie ons liefde en pogings werd nie. Weerspieël hierdie gesindheid die liefde van Jesus? Probeer eerder verstaan wat met hierdie persoon op ‘n persoonlike vlak aangaan. Hoekom is hy ontmoedig? Hoekom neem hy aan vernietigende gedrag deel? Maar ons moet ook probeer om die sistemiese oorsake vir armoede te verstaan. Hoekom word mense uit die sisteem uitgesluit? Vir mense wat uit ‘n bevoorregde agtergrond kom, probeer jou voorregte verstaan. Onthou dit is makliker vir iemand met hulpbronne om hulp vir sy verslawing te kry.

 

  1. Vra die regte vrae

Die vraag is nie of hierdie persoon my hulp verdien of nie. Die vraag is: “Hoe kan ek God se liefde aan hierdie persoon bewys?” oF: “Watter optrede sal die meeste liefde en verandering in hierdie persoon se lewe teweegbring?” Hierdie vrae beteken dat ek nie oordeel nie. My klem is nou op lewensverandering. Dit laat my toe om in genade te reageer – die genade wat Jesus aan ons gebied het. Jesus kan hierdie mense “wat dit nie verdien nie,” genees. As Hy na hulle kyk, sien Hy ‘n geliefde seun/dogter wat desperaat liefde, genade en vergifnis nodig het.

 

Daar is so baie mense wat ons dink nie genade en hulp verdien nie. Ek verdien dit ook nie. Dit maak van ons die volmaakte kandidate vir genade. Kom ons reik in hierdie Kerstyd uit na mense “wat dit nie verdien nie.”

 

image_pdfimage_print