Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (5)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (5) – Adrio König

10.1.5 Adonai Jahwe

NJB vertaal dit tereg met “The Lord Jahwe”. Die ouer vertalings soos 1953 het vertaal met “die Here HERE.” Dit beteken iets soos die Heer/Eienaar/Beskikker wat Jahwe is. Dit is om verskeie redes ’n interessante benaming van die Here.

Die Hebreeuse woord adon, die enkelvoud van adonai, kom skynbaar uit die Kanaänitiese kultuur. Daar is nie ’n ouer Hebreeuse woord waarvan dit afgelei is nie. Dit is as hoflikheidsvorm in die gewone omgang tussen mense gebruik, maar met iets meer in as ons “meneer”. Dit het eintlik beteken dat die persoon belangriker is as jyself. Abraham se slaaf verwys na Abraham as “my adon” (eienaar? Gen 24:12).

 

Dit is baie interessant dat sowel buite die Bybel as in die Bybel soms ’n meervoudsvorm gebruik word terwyl dit tog net om een persoon gaan. Ons lees byvoorbeeld dat die Here die Egiptenaars sal oorgee aan ’n “harde regeerder” en dan word die meervoud vir adon gebruik (adonim, Jes 19:4). ’n Mens kry dit ook by ’n woord vir “eienaar”, Baäl. Hier word die meervoud van die besitlike vorm gebruik in die woorde: ’n “esel ken die krip van sy eienaar” (Jes 1:3, 1953-vertaling).

 

Dit gebeur ook wanneer ons die benaming Adonai Jahwe kry. Adonai is tegnies ’n meervoudsvorm, maar soos Baäl word dit vir een persoon gebruik. Dit is waarskynlik iets soos die sogenaamde pluralis maiestatus, die hoogheidsmeervoud. ’n Belangrike persoon soos die hoof van ’n regering sal vandag ook nog sê: “Ons het besluit … ” Wanneer adonai so vir die Here gebruik word, het dit die betekenis van hoogheid, grootheid, mag, grootste mag. NLV vertaal: “Die oppermagtige Here” (Eseg 20:3). Die 1983-vertaling het ’n baie vreemde vertaling: “Die Here my God.” Dit het baie min, indien enige, ooreenkoms met die Hebreeus.

 

Terug na die meervoudsvorm. By elohim verwys ons na die oortuiging dat ons eintlik die meervoudigheid/drie-eenheid van God alreeds in die Ou Testament kry. Elohim is ’n  meervoudsvorm, en daaruit lei mense dan af dat dit na die Vader en die Seun en die Gees verwys. By die bespreking van elohim word hierdie siening afgewys. In die Ou Testament is nog geen aanduiding van enige meervoudigheid in God nie. Ons kry dit eers in die Nuwe Testament waar Jesus ook as God bely word.

 

Die meervoudsvorm Adonai word egter ook gebruik as argument vir die meervoudigheid van God in die Ou Testament. Maar ons het reeds daarop gewys dat dit net soos ander meervoudsvorme nie die betekenis van ’n meervoud het nie, maar eerder ’n waardigheids- of hoogheidstitel is. Vir dié lesers wat in ’n bietjie ekstra nadenke geïnteresseerd is, kan die volgende interessant wees. In die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is, was die Hebreeuse Ou Testament nog net in medeklinkers geskryf. Die Jode het die Bybel so goed geken dat hulle dit sonder klinkers kon lees. Ons het vroeër al daarna gekyk. Dit beteken dat die besondere vorm van adonai, die vreemde meervoudsvorm wat deur ’n besondere klinker aangedui word (’n qamez in plaas van ’n patah, dit is ’n “lang” a in plaas van ’n “kort” a), nog glad nie so in die Ou Testament gestaan het nie. Hierdie klinkers is eers meer as 500 jaar na Christus, deur Joodse geleerdes by die medeklinkers bygevoeg om die Ou Testament meer toeganklik te maak vir mense wat dit nie meer sonder klinkers kon lees nie. Dit beteken dat hierdie vreemde meervoudsvorm adonai glad nie sigbaar was voor hierdie tyd nie omdat dit net deur ’n klinker aangedui word wat toe eers bygevoeg  is. En ons weet goed die Joodse geleerdes wat later hierdie meervoudsvorm ingeskryf het, het dit nie gedoen om ’n meervoudigheid in God aan te toon nie, want die Jode is oortuig dat daar geen spoor van so iets in die Ou Testament is nie.Daar is dus taalkundig en histories geen gronde om in adonai ’n werklike meervoud te sien asof dit na ’n meervoudigheid in God verwys nie.

 

In die volgende artikel gaan ons na die benamings El, Elim en Elohim kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...