Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (4)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (4) – Adrio König

2.3.4 Die ewige lewe

Ons het hier, net soos met die opstanding, een van die opvallendste verskille tussen die Ou Testament en die Nuwe. Net soos in die geval van die opstanding, kom die begrip “die ewige lewe” net in Daniël 12:2 voor. En ons weet reeds Daniël is deel van die oorgangsliteratuur tussen die twee Testamente. Daar is dus vroeër in die Ou Testament geen sprake van ewige lewe nie.

Ons het reeds gekyk na die dood in die Ou Testament (2.2), en na die feit dat die gelowiges die heil in hierdie lewe geniet het omdat die dood die beëindiging was van hulle gemeenskap met God. Dis tog ’n aangrypende gedagte dat om te lewe en om die Here te loof vir hulle direk aan mekaar verbonde was. As die Here nie meer aan die dooies dink nie, kan die dooies Hom nie meer loof nie, en dan leef hulle nie meer regtig nie al het hulle nog ’n soort skimbestaan in die chaotiese duisternis van die doderyk. “In die doderyk kan niemand U loof nie … Net hulle wat nog lewe, kan U loof … ” (Jes 38:18-19).

 

In die tyd van die Nuwe Testament het die verwagting van die opstanding alreeds sterk na vore gekom, ook onder sekere groepe onder die Jode soos die Fariseërs. In die meeste gevalle is dit in die Nuwe Testament nog ’n toekomsverwagting, maar by Johannes is dit nou al die gelowiges se deel (Joh 3:36).

 

Wat is die ewige lewe? Dit is natuurlik om die heil vir ewig in  gemeenskap met God te geniet, en Hom ewig daarvoor te dank. Maar hiermee is al dadelik sekere beskouings oor die ewige lewe afgewys. Die ewige lewe is baie meer as om net altyd aan te hou lewe. Dit moet onder sekere omstandighede ’n verskrikking wees om te dink jy moet ewig aanhou lewe. Dink maar net aan mense wat aan ’n smartlike siekte ly of in ’n onhanteerbare verhouding vasgevang is, vir wie die toekoms uitsigloos is. Hulle sal ineenstort as hulle ewig daarmee moet aanhou. Sulke mense sou ewige lewe net sinvol vind as hulle lewensomstandighede en lewenskwaliteit radikaal sou verander. En dit is inderdaad wat ewige lewe is.

 

Veral volgens Johannes is die ewige lewe direk verbonde aan Jesus self. Hy is self “die lewe” en wie in Hom glo, het die ewige lewe. Ook elkeen wat sy liggaam eet en sy bloed drink, het die ewige lewe (Joh 14:6; 3:36; 6:54). Dit beteken dat die ewige lewe lewe-in-gemeenskap-met-Jesus is. En dit kan ons maklik verstaan. Hy is die lewe, Hy het die dood oorwin, deur die geloof en die doop deel ons in sy sterwe vir die sonde en in sy oorwinningslewe oor die dood (Rom 6). Wat is dit anders as die ewige lewe waaraan ons deel het omdat ons aan Hom deel het?

 

Maar ook in gemeenskap met sy Vader. Let op na Johannes se “definisie” van die ewige lewe: “Dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh 17:3).

 

Omdat die ewige lewe dus in werklikheid die gemeenskap met Jesus en sy Vader is, is dit vanselfsprekend dat dit nie net iets is wat net in die toekoms lê nie. Ons leef nou reeds deur die geloof aan Hom en sy Vader verbonde, en in daardie sin deel ons nou reeds in die ewige lewe. Die ewige lewe is dus nie maar net ewig aanhou lewe nie. Dis ewig in die gemeenskap van God en sy Seun op die nuwe aarde om sy gawes van rykdom en oorvloed te geniet en Hom daarvoor te loof en te dank.

Dit is heil, aardse heil, heil soos God dit van die begin af bedoel het. Alle paaie, óók die pad van die heil, lei na Jesus.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...