Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (6)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (6)Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (6) – Adrio König

Maar naas die lof aan die Here is daar ’n tweede lyn. Dit is die beklemtoning van die negatiewe rol van Israel in die woestyn. En ons sal sien hulle negatiwiteit word met verskillende oormerke uitgelig. Ons gaan na drie gedeeltes kyk:

  1. 1.Esegiël 20
  2. 2.Psalm 106
  3. 3.Psalm 95

Psalm 106

Hierdie Psalm het heeltemal ’n ander karakter as Esegiël 20, maar dit gaan nog steeds oor die negatiewe rol van Israel.

Dit is ook interessant dat twee Psalms wat albei die uittog as tema het (105 en 106), direk na mekaar in die Psalmboek staan, maar so radikaal van mekaar verskil in hulle interpretasie van die uittog. Ons het vroeër in die hoofstuk reeds na Psalm 105 gekyk en gesien dit is eintlik naïef-onskuldig in sy verwysings na die rol van Israel. Daarteenoor is Psalm 106 skerp krities. Dit draai geen doekies om nie.

 

Psalm 106 teken ’n volkome negatiewe prentjie van die geskiedenis van Israel, nie net tydens die uittog nie, maar die groot nadruk is wel op die uittog. In ’n Psalm met 48 verse is daar net een enkele vers wat iets positiefs oor die volk sê (12), en dit is in die Hebreeus die kortste sinnetjie in die hele Psalm: ”Toe het sy volk sy beloftes geglo en sy lof besing.” Wat verder opval, is dat hierdie positiewe sinnetjie reg aan die begin staan, direk na hulle eerste verset teen die Here by die Rietsee (6-7). Dit beteken van hier af het dit net van kwaad tot erger gegaan. Immers die res van hulle geskiedenis word absoluut negatief weergegee. Hoe klop dit met die juigende inleidende deel? (1-2) Daar is uitleggers wat meen die kontras is so groot dat hierdie inleidende verse eintlik deel is van Psalm 105, waar dit goed sou aansluit by byvoorbeeld 105:43.

 

Maar ’n mens kan dit ook anders verstaan. Dit kan wel sinvol wees om die Here te loof in die lig van hierdie absolute negatiewe rol van Israel. Die blote feit dat die Here so lank met so ’n afvallige volk aangehou het, en dat Hy “in sy groot liefde” nog telkens weer aan hulle genade bewys het (45-46), is oorgenoeg rede om Hom uit volle bors te loof. Trouens vers 43-46 is ’n merkwaardige einde vir hierdie donker Psalm. Dit kan ons ook moed gee. Die Here het ’n “laaaang moed” (“lankmoedig,” verdraagsaam).

 

Die lang middeldeel van die Psalm het ’n redelik vaste struktuur. Dit gaan oor die volk se sonde en die Here se oordeel. Hierdie struktuur word sewe keer herhaal. Selfs dit kan die simboliese betekenis hê van “volheid”, van die volle maat van hulle sonde, maar ook die volheid van God se genade.

 

Vers 43-46

Die struktuur van vers 43-46 is interessant. Dit begin negatief: Al het die Here hulle soveel kere gered, “het hulle opstandig gebly en dieper in hulle sonde weggesink”. Dit is net logies om te verwag dat ’n mens dan sal lees: “Daarom het die Here besluit dis nie die moeite werd om hulle elke keer te red nie, en Hy het hulle oorgegee aan die vyand.” Maar die teendeel gebeur: “Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie; Hy het hulle smeekgebede verhoor.” Die “tog” is eintlik “nogtans”. En dis mos presies wat genade is. Ons verdien die oordeel van God. Nogtans kry ons vergifnis. Die profesie oor Jesus lui: “Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en ons smarte – dié het Hy gedra” (Jes 53:3-4, 1953-vertaling). Dis genade.

 

Dis ook opvallend dat hier van “hulle smeekgebede” gepraat word, terwyl daar nooit vroeër in die Psalm na sulke gebede verwys word nie. Dit kan net beteken dat dit nie regtig so ’n sterk element in die geskiedenis was nie, maar dat die Here selfs ons powere pogings ernstig neem, wie weet, dalk selfs ernstiger as wat ons dit self bedoel. Dis bepaald hier die geval. Dit lyk asof die Here ’n rede gesoek het om hulle genadig te wees. Sien ons nie Jesus hier “om die hoek loer” nie?

 

Wat dan volg, is belangrik. “Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink.” In Esegiël 20 was dit anders, soos herhaaldelik elders in Esegiël. Oor en oor lees ons dat die Here die volk nie vernietig nie omdat dit die eer van sy Naam in die gedrang sou bring (20:9, 14, 22). Dit is dan ook in Esegiël die groot beswaar van die Here oor Israel se sonde: Hulle het sy Naam onder die nasies oneer aangedoen (36:20, 23). Die opskrif van die 1983-vertaling bokant hierdie deel in Esegiël is dan ook tereg: “Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie.”

 

Hier in Psalm 106 is dit anders. Hier lees ons die teenoorgestelde: “Ter wille van hulle … ” Dit skep ’n sagter, mensliker indruk. Die nadruk op “die eer van my Naam” kan ’n harde, onmenslike indruk skep asof dit vir God net om Homself en sy eer gaan, wat ook al met mense gebeur. Dit is natuurlik nie regtig die bedoeling nie. Esegiël probeer op uiterste maniere om dit vir die volk aan die verstand te bring dat hulle tot besinning sal moet kom, dat hulle bepaalde grense deurbreek wat uiteindelik kan beteken dat God Hom aan hulle onttrek. Die Psalmdigter, daarenteen, wil die volk wat in die tempel vir ’n fees vergader is, beweeg om die Here uit volle bors te loof.

 

Die uiters negatiewe prentjie wat Psalm 106 van Israel teken, het dus eintlik nog altyd ten doel om die Here te verheerlik. Dit kom duidelik uit in die eerste verse en vers 43-46. Hoe negatiewer Israel se optrede geteken word, hoe helderder skitter die aanhoudende ontferming van die Here.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...