Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (2) – Adrio König

5.4.2 Liefde – Selfliefde

Dis nie vreemd dat ons juis liefde kies nie. Ons het reeds daarop gewys dat daar ’n direkte verband is tussen God se liefde en sy opdrag dat ons moet liefhê. Jesus vat die ganse wil van God vir ons lewe saam in twee gebooie: Liefde tot God, en liefde tot mekaar. En ons kon dit eintlik verwag, want Hy het mense gemaak met die doel om sy beeld te wees, en Hy is liefde. As ons liefhet, sal ons dus iets van Hom sigbaar maak. Maar onthou dis ’n analogiese eienskap. Ons liefde kan nooit identies wees aan Syne nie. Maar daar moet beperkte ooreenkoms wees.

 

Eerstens is God se liefde sy wese, dit is nie ’n bysaak nie, dit kom uit sy hart. Dit beteken dat ook ons liefde uit ons hart moet kom. God hoef nie Homself met moeite te oorreed om lief te hê nie. Ons sien dit in Jesus. Hy het spontaan lief. Hy reik vanself uit. Hy hoef nie eers te redeneer of dit paslik sal wees om die straatvrou toe te laat om agter Hom te staan en huil, of om die vrou wat op owerspel betrap is, te verdedig nie (Luk 7:36 ev; Joh 8:1 ev).

 

Dit beteken dat ook ons net iets van God se liefde kan wys as ons spontaan liefhet, met hart en siel. Voorwaardelike en berekende liefde is die naam nie werd nie. Ons moet leer wat dit beteken dat “jou hart uitgaan na ander”.

 

Maar daar is ook verskil tussen God se liefde en ons s’n. Hy het na onder lief, Hy het hulle lief wat dit nie werd is nie. Dit beteken Hy motiveer self sy liefde. Hy het ons nie lief omdat ons so baie vir Hom beteken nie. Hy het ons lief ondanks die feit dat dit Hom baie kos, selfs sy enigste Seun aan die kruis! En ons? Terwyl Hy na onder liefhet, vir ons wat dit nie waardig is nie, het ons na Bo lief, vir Hom wat dit oor en oor werd is. Hy het vir ons oneindige waarde. Dit “betaal” ons om Hom lief te hê. Dit beteken dat, terwyl ons nie sy liefde werd is nie, maar Hy uit sy eie, spontaan, ons liefhet, is Hy dit duisend maal werd dat ons Hom liefhet. Dus motiveer Hy nie net sy liefde vir ons nie, maar ook ons liefde vir Hom. As ons regtig besef wie Hy is, is dit nie moeilik om Hom lief te hê nie. Daar is dus verskil tussen sy liefde en ons s’n.

 

Maar daar is ook ooreenkoms. Hy roep ons ook op om soos Hy na onder lief te hê, om hulle lief te hê wat dit nie werd is nie, om soos Hy lief te hê waar dit ons baie kan kos. Maar hierdie soort liefde kom nie vanself nie. Ons kan net deur sy Gees beweeg word om dit te doen. Trouens dis presies wat Johannes skryf: “Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Terwyl Hy dus self sy liefde vir ons motiveer (ons is dit nie werd nie), motiveer Hy óók ons liefde vir Hom én ons liefde vir ander. Hy motiveer dus alle vorms van liefde. Waarlik, God is liefde!

 

Daar is dus te midde van die ooreenkomste ook groot verskille tussen God se liefde en ons s’n. Hy het altyd spontaan lief, Hy motiveer altyd sy liefde, maar ons liefde is eintlik nooit spontaan nie, Hy moet dit altyd motiveer, aanwakker. Maar uiteindelik het ons tog ook lief, en dit is die sin van ons lewe: Om iets van Hom in ons lewe te wys. Verder is God se liefde ’n beweging weg van Homself na ander terwille van die ander. Iets hiervan moet ook in ons liefde sigbaar word.

 

Daar is ’n bekende Griekse woord vir liefde wat nie eintlik in die Nuwe Testament gebruik word nie, eros. In plaas daarvan gebruik hulle by voorkeur ’n baie onbekende woord, agape. Eros het nie noodwendig in die algemeen ’n negatiewe of ’n seksuele betekenis gehad nie. Dit het meestal gegaan oor liefde vir die eie soos nasionalisme. Baie wonderlike heldedade word gemotiveer deur eros. Dit is nie waar dat dit net altyd deur selfsug gemotiveer is nie. Dit kan in werklikheid baie omgee en groot offers vir ander bring, selfs ’n geneentheid en ’n warmte vir ander hê. Ons kan God met hierdie soort liefde met toewyding en oorgawe dien, en ook vir Hom groot offers bring (1 Kor 13:3). Maar die uiteindelike doel van hierdie liefde is die voordeel wat die ander uiteindelik vir die eie sal hê. Die ander word gedien terwille van die voordeel vir die eie. Jy het nie die ander terwille van die ander lief nie, maar terwille van jouself. Uiteindelik word die ander gebruik, staan die ander in jou diens.

 

Daarteenoor is God se liefde ’n gee-liefde. Dis ’n beweging weg van Homself, na ander terwille van ander. Dit soek nie waarde nie, maar gee waarde. Dit offer tot voordeel van die ander, al is dit tot eie nadeel. Wat het dit God nie gekos om ons lief te hê nie!

 

Só het Christus as beeld van God liefgehad. Christus het ons lief terwille van onsself, terwille van ons voordeel, om ons te red. En Hy het ons onvoorwaardelik lief. Trouens Hy het ons lief gehad toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8), en dit het beteken Hy het ons liefgehad op die gevaar af dat ons sy liefde sou minag en verwerp, dat ons selfs in ons vyandigheid sou volhard. Hy het gegee sonder dat Hy eers seker gemaak het dat Hy iets gaan terugkry.

 

Natuurlik verwag God wederliefde as antwoord op sy liefde. Maar dit is weens die aard van liefde: liefde wil altyd gemeenskap skep. Onbeantwoorde liefde is gefrustreerde liefde, halfpad-afgekapte liefde, liefde wat nie sy doel bereik het nie. Maar God was bereid om só lief te hê. Immers Hy het in Christus die wêreld so liefgehad dat Hy sy Seun gegee het, en ons weet vandag die wêreld het nie as geheel positief gereageer nie.

 

Om God se beeld te wees, moet ons Hom en Jesus hierin navolg, moet ons só liefhê. Selfs al sou ons liefde nie sy doel van wederliefde bereik nie, verloor dit nie sy waarde nie. Vir dié wat nie positief reageer nie, is my liefde nogtans ’n voorbeeld en getuienis van God se liefde, en ’n appèl om hulle aan sy liefde (wat deur ons na hulle uitgaan) prys te gee. En vir ons is dit deel van die vervulling van ons bestaansdoel: om sy beeld te weerspieël. Maar om só lief te hê is teen-natuurlik. Dit kos iets. Hierdie liefde kan net deur God self gemotiveer word, God wat in werklikheid alle liefde motiveer, Syne vir ons, ons s’n vir Hom en vir ander. Dit is deel van die wonderlike betekenis daarvan dat God die inisiatief in die verbond neem.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na selfliefde kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...