Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus bereik God se doel met bepaalde dinge (2) – – Adrio König

11.2.2 Israel (hoofstuk 8)

Daar is nogal ooreenkoms tussen Israel en die mens. Beide loop vas. Nie een van die twee bereik God se doel met hulle nie. En net soos met die mens kom Jesus dan vir Israel ’n nuwe begin gee. God se doel met hulle het nie gewerk deur Abraham se eerste nakomeling, Isak, en sy nageslag nie. Nou kom daar ’n nuwe nakomeling, Jesus (Gal 3:16).

En weer net soos met die mens, los Jesus dan nie vir Israel langs die pad en vervang hom nie, maar gee hom ’n nuwe vorm. Aan die kruis maak Hy die verbond met Abraham oop vir alle mense (Gal 3:14), sodat van toe af “Israel” bestaan uit alle mense wat deur die doop en die geloof aan Jesus verbind is. Die stam van die olyfboom is nog dieselfde: die ware Godsvolk van die Ou Testament. Maar die takke het verander. Die ongelowige Jode is die takke wat afgebreek is, en toe is daar wilde takke op die mak boom geënt, die heidene wat tot geloof gekom het in Jesus as die Here (Rom 11).

 

Dit beteken dat Jesus ’n duidelike onderskeid maak tussen blote afstammelinge/nageslag van Abraham en kinders van Abraham (Joh 8:34-39; Rom 9:6-7). Maar hierdie onderskeid het altyd bestaan, sedert Sara en Hagar, en Isak en Ismael (Gal 4:21-31). Paulus verwys dan ook met hierdie soort onderskeid terug na die Ou Testament (Rom 2:25-29).

 

God se doel met Israel was om deur hulle die heidene nader te trek omdat die God van Israel ook die God van alle nasies is. Maar dit het nie gebeur nie. Inteendeel, Israel was so aanhoudend ontrou en ongehoorsaam aan die Here dat Hy hulle so moes straf dat die nasies later die spot met die Here gedryf het oor dit so sleg met sy volk gaan (Eseg 36:16-32).

 

Toe het Jesus gekom as God se laaste profeet om hulle tot bekering te roep. En toe hulle uiteindelik ook vir Hom verwerp, is hulle uit die besondere posisie verwerp wat hulle gehad het in God se heilsplan (Matt 21:43; 22:8; 23:37-39).

 

Na Jesus se opstanding kom dan die radikale omkeer en as ’t ware die herstrukturering van God se heilsplan en van Israel as die volk van God. Van toe af is die gelowige heidene op presies dieselfde vlak as die gelowige Jode in die verbond. Hulle is saam die ware Israel (Ef 2:6). En terwyl Israel in die Ou Testament net getrou aan die Here moes wees en dan so geseën sou word dat die heidene na Jerusalem sou stroom om saam met hulle die ware God te kom dien, moet die nuwe vorm van Israel, die kerk, nou uitgaan na die heidene toe en hulle tot geloof in Jesus oproep. En die Jode wat Jesus as Messias verwerp het, toe en nou? Die heidene wat tot geloof gekom het en nou die kerkbanke volsit, moet die Jode jaloers maak op hulle Messias. So kan hulle nog altyd deel in die heil en weer deel word van die ware Israel. Dit beteken dat die huidige Joodse volk nie meer deel van God se heilsplan is nie, en dat hulle land en geskiedenis nie meer in ’n besondere verhouding tot die Here staan nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...