Alle Paaie lei na Jesus: Oorgange binne die Nuwe Testament

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Oorgange binne die Nuwe Testament – Adrio König

6.5 Oorgange binne die Nuwe Testament

Kom ons kyk ook na twee oorgange binne die Nuwe Testament. Tydens sy aardse bediening tree Jesus op soos die profete uit die Ou Testament: Hy roep die volk tot bekering. Hy gaan nie na die heidene nie, maar rig Hom uitsluitlik op Israel (Matt 1:21; 10:5-7; 15:24). Hy roep hulle op tot bekering soos ’n tipiese Ou-Testamentiese profeet. Sy doel is dieselfde as dié in die Ou Testament:

As Israel aan die Here getrou is, sal Hy hulle só seën dat die heidene na Jerusalem sal stroom om die Here daar saam met Israel te dien (Ps 22:28; Jes 2:2-5; Jer 3:17). As Hy teen die einde van sy bediening besef dat die leiers van die volk nie na Hom luister nie, begin Hy hulle ernstig waarsku dat God die koninkryk van hulle  sal wegneem en aan die heidene sal gee (Matt 21:31, 43; 22:1-14; 23:37 ev). As hulle Hom dan finaal verwerp en kruisig, kom daar ’n dramatiese keerpunt. Ná sy opstanding gee Hy uitdruklik die bevel dat sy dissipels nou na die heidene moet gaan (Matt 28:19). Dit is ’n radikale oorgang binne die Nuwe Testament, ’n oorgang van wat ons die Ou-Testamentiese sendingmetode kan noem, na die Nuwe-Testamentiese metode (3.3).

 

’n Tweede voorbeeld binne die Nuwe Testament raak die tempeldiens. Aanvanklik gaan die tempeldiens, die priesterorde, die offergebruike en selfs ook die Sabbatsviering van die Ou Testament onveranderd in die Nuwe Testament voort. Tydens die aardse optrede van Jesus neem Hy self daaraan deel en gee opdragte daaroor (Matt 5:23-24; Luk 4:16). Trouens tot laat in die Nuwe Testament gaan die Christene nog gereeld tempel toe en bring Paulus spesiaal ’n offer in die tempel (Hand 3:1 ev; 21:26). Eers daarna kom daar ’n definitiewe breuk tussen die Jode en die Christene – dus weer ’n radikale oorgang binne die Nuwe Testament, en nie tussen die twee Testamente nie. ’n Mens kan dus nie vra na die verhouding tussen die tempelkultus in die Ou Testament en in die Nuwe Testament nie, maar tussen die tempelkultus soos dit nog lank in die Nuwe Testament voortgegaan het, en die einde van die tempelkultus vir die Christene wat eers baie laat in die geskiedenis van Handelinge kom.

 

In ’n sekere sin kan ons dus nie die Ou Testament en die Nuwe Testament as twee blokke met mekaar vergelyk nie. Terwyl ons enersyds bepaalde sake in die twee Testamente met mekaar kan vergelyk (en só op groot verskille in die verhoudings afgekom het), moet ons andersyds besef dat van die mees dramatiese oorgange binne die twee Testamente self plaasvind, en nie tussen hulle nie.

 

Geen kortpad nie

In die lig van hierdie sterk gevarieerde verhouding is elke “lekker” kort formule vir die verhouding Ou Testament – Nuwe Testament op sy beste maar net ’n baie klein faset van ’n baie ingewikkelde saak, en op sy slegste ’n vertekening van die werklikheid. Dis een ding om met mooi formules te speel,  maar dis heeltemal iets anders om na die werklikheid te kyk, na die talle verskillende verhoudings wat daar tussen bepaalde dinge in die twee Testamente is. Daar is geen moontlikheid om “die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament” in ’n enkele formule vas te lê nie. ’n Mens moet eenvoudig elke keer kyk na die spesifieke dinge wat met mekaar in verband gebring moet word.

 

Wanneer ’n mens nou die titel van die boek in gedagte hou en terugkyk in hierdie hoofstuk, besef jy omtrent alles wat aangehaal is oor die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament het direk met Jesus in verband gestaan. Alle paaie lei na Jesus.

 

In die volgende artikel gaan ons na ‘n interessante vraag kyk: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan?

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...