Amos(1) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Indeling van die res van die boek Amos

Na die inleiding (1:1-2) bestaan die boek Amos uit vier hoofdele: 1:3-2:16 agt gedigte oor die Here se oordeel oor die nasies in Siro-Palestina; 3:1-6:14 aankondigings oor die Here se oordeel oor Israel; 7:1-9:10 vertel van vyf visioene, vier visioene elkeen met ’n begeleidende tweegesprek tussen Amos en die Here oor die einde van Israel, wat oploop tot die vyfde visioen dat die tyd vir genade verby is. Die oordeel van God kom oor die gemaks-lewenstyl van Israel, hulle verdrukking van die armes en hulle oneerlike besigheidspraktyke; 9:11-15 het ’n sprankie hoop, ’n belofte van verlossing in die verre toekoms. Amos is die eerste van die skrifprofete wat die tienstammeryk waarsku oor die Here se oordeel oor hulle. Hy word gevolg deur Hosea wat die wegvoering van die tien stamme na Assirië tot in 722 v.C. aankondig. Jesaja 1-39 waarsku Israel voor 722 v.C., maar waarsku ook vir Juda oor hulle wegvoering na Babel in 586 v.C. wat nog aan die kom is. Jeremia tree op tussen Juda se eerste en tweede wegvoering in ballingskap na Babel (597 v.C. en 587 v.C.). Esegiël wat reeds in ballingskap in Babel sit, waarsku die Jode wat ná die eerste wegvoering nog in Israel agtergebly het, dat hulle ook weggevoer gaan word oor hulle verwerping van die Here.

Die Here se oordeel oor agt nasies (Amos 1:3-2:16)

Amos, ’n boer uit die suidryk Juda, daag by Israel, die noordryk, se jaarlikse fees op. Volgens 1 Kon 12:32 het Jerobeam I vir hulle in die agste maand ‘n eie fees bepaal, teenoor Lev 23:26-36 se fees in die sewende maand. Dit is vir die feesgangers vreemd dat die Judeër, wat nie ’n profeet is nie, by hulle kom sê dat die HERE aan hulle ’n boodskap stuur. Sy eerste woorde, dat die HERE hulle vyande, die nasies rondom hulle gaan straf ,sou hulle seker met blydskap aanvaar het. Maar die sewe kort oordele is slegs die inleiding tot ’n uitgerekte aankondiging van die HERE se oordeel oor Israel. Dat die ander volke betrek is onder die oordeel van die HERE wys dat die HERE oor alle volke regeer. Dit is ’n manier om Israel te oortuig dat hulle ook skuldig is, en nog meer skuldig is as die heidene rondom hulle. As selfs Juda (die sewende nasie), waar die tempel van die HERE is, onder God se oordeel staan, hoeveel te meer Israel (die agtste nasie) wat hulle beroem op hulle diens van die HERE met hulle twee goue bulkalwerbeelde in Bet-el (‘huis van God,’ Gen 28:16-19 ) en in Dan, om die God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, te verteenwoordig (1 Kon 12:26-32). En dit het hulle begin doen nadat die HERE 470 jaar tevore al vir Moses die tien gebooie gegee het wat bepaal dat hulle geen gesnede beelde mag maak, vereer of dien nie (Eks 20:4-5; Deutr 5:8-9).

1 Teen die Arameërs met hulle hoofstad Damaskus, noord-oos van Israel 1:3 So sê die HERE: ‘Oor drie opstande (pêsja’ rebellie) van Damaskus en oor vier sal Ek dit (hulle straf) nie verander nie, oor hulle vertrapping van Gilead met ysterwerktuie’ – hulle het met ysterdorssleë gedors. (2020: …Oor drie oortredings van Damaskus, ja oor vier, sal ek dit nie herroep nie… (LXX se weergawe van die derde sin lui: ‘want hulle het die swanger vrouens van Gilead met ystersae gesaag’ – vgl. die Here se opdrag aan Elia om Gasael te salf as koning van Aram, 1 Kon 19:15-16 en Elisa wat huil toe hy die opdrag gaan uitvoer, 2 Kon 8:12). Die HERE, Jahweh, Die Ek is, van Eksodus 3:14-15, is die God van Abraham en Isak en Jakob wat ’n verbond met Israel gesluit het, wat lui : ‘Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees,’ (Gen 17:7; Jer 31:33). Drie en vier – is die Hebreeuse segswyse vir herhaalde kere. Damaskus was die hoofstad van die Arameërs (hedendaagse Siriërs), die noordoostelike vyandige bure van Israel. Gilead verwys na die Oos-Jordaanse deel van die tienstammeryk waar die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam gewoon het. Oor koning Gasael van Aram se wrede behandeling van die Israeliete, vergelyk 2 Konings 8:12; 10:33; 13:22. Terwyl die HERE vir Gasael gebruik het om Israel te straf oor hulle ontrou teenoor die HERE, het Gasael te ver gegaan met sy wrede optrede, en so sy rol as die Here se roede met sy geweld oorskry.

1:4 ‘Ek stuur vuur in die huis van Gasael wat die paleise van Ben-Hadad sal verteer’ (LXX ‘fondamente’ in plaas van paleise; 2020: het ‘vestings’). Die woord vir paleishuise ’aremōn verwys na ’n versterkte gebou met verskillende verdiepings van die konings en rykes. Die verwoestende vuur is ’n teken van God se toekomstige oordeel (vgl. Jer 49:23-27). Hadad was die antieke Sumeriese en later die Kanaänitiese god van storms, donderweer en reën. In die Ou Testament word drie konings van Damaskus genoem met die naam Ben-Hadad, ‘seun van Hadad’ as ’n titel vir hulle konings. Gasael het vir Ben-Hadad II vermoor. Volgens 2 Kon 13:7 het Gasael Israel soos stof vertrap. In 2 Kon 13:3,24-25 word vertel dat die HERE vir Joahas van Israel drie maal teen Ben-Hadad III (783 v.C.) seun van Gasael verlos het. Amos verwys in 1:4 waarskynlik na Ben-Hadad II en Gasael en sy seun Ben-Hadad III wat aldrie Israel verdruk het. Die Here se oordeel oor die huis van Gasael is waarskynlik voltrek deur die Assiriërs onder Tiglat-Pileser III wat Aram se magte in 732 v.C. verslaan het en die inwoners van Aram in die ryk van die Assiriērs verstrooi het (vgl. 2 Kon 16:9; Jesaja 7:3-7).

1:5 Die HERE gaan teen die hele Aramese (Siriese) volk optree: ‘Ek sal die grendel van Damaskus (waarmee sy poorte gesluit word) stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen en die een wat die septer swaai in Bet-Eden uitroei. Die volk van Aram sal in ballingskap na Kir gaan, sê die HERE.’ Oorspronklik het die Here die Arameërs uit Kir gered (vgl. Amos 9:7). Met hulle nuwe ballingskap word hulle hele geskiedenis in die nuwe land wat die Here vir hulle rondom Damaskus gegee het, uitgewis en is hulle terug in hulle oorspronklike ballingskap in die Ooste. Die vryheid wat die Here aan hulle gegee het, het hulle teen hulle bure misbruik om hulle land te vergroot, die land wat die HERE aan hulle gegee het. Die straf van die Here is dat Assirië die Arameërs in ballingskap in die Ooste gaan versprei om as onderhoriges opgeneem te word. Dit moes reeds ’n waarskuwing aan Israel gewees het, vir wie die Here uit hulle Egiptiese slawerny bevry het. Omdat hulle Hom vergeet het en nie meer in die beloofde land lewe volgens sy woord nie, sal hulle ook in ballingskap gaan. Die name Bikat-Awen (vallei van gruwels) en Bet-Eden (huis van genot) dui die Arameërs se wellustige en afgodiese kultuur aan. Vir Israel is dit reeds ’n waarskuwing teen hulle afgodiese lewe vir genot, wat vir die HERE ’n gruwel is (vgl. 2 Kon 9:22).

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...