Leef in die waarheid

image_pdfimage_print

 

“If you are godly you will never suffer, except in this world.” – Jeremiah Burroughs

 

Leef in die waarheid

Die Galasiërs het ‘n probleem, want tussen hulle is mense wat ‘n verkeerde boodskap verkondig – wat verkondig dat God se genade nie genoeg is nie, maar dat hulle hulle ook moet laat besny en die wet van Moses moet onderhou.

 

Wat gebeur as jy die vals leermeesters se boodskap aanvaar? Paulus verduidelik vir ons in Galasiëes 5:6 – 12.

  • Jy sien Christus as onvoldoende

Jy sien dit wat Christus gedoen het as onvoldoende en daarom moet jy van jou kant af iets byvoeg. Maar Christus se werk is volmaak – ons kan daar niks byvoeg nie.

  • Jy moet die hele wet vervul

Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou (5:3). Jy kan nie net sekere dele onderhou nie. Die probleem is dat niemand die wet volkome kan onderhou nie.

  • Jy draai jou rug op genade

Julle het julle band met Christus verbreek; julle het die genade van God verbeur (5:4). As jy glo dat die wet jou kan vrymaak, is genade nie meer vir jou belangrik nie. Jy moet kies: of die wet of genade. Jy kan nie beide hê nie.

  • Jy verloor jou toekomsverwagting

Deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word (5:5). Waar kry ons hierdie hoop? Deur op Christus te vertrou deur genade alleen. Die besnydenis het geen waarde nie: Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

 

Vals lering gaan oor uitwendige rituele; Paulus sê die Christelike lewe gaan oor geloof wat bewys word deur liefdevolle diens.

 

Kom ons kyk na die vals boodskappe wat hierdie leermeesters versprei het. Die kenmerke van hierdie boodskappe is eintlik tipies van alle vals boodskappe.

  • Dit verhinder gehoorsaamheid aan die waarheid. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam (5:7). Dit geld steeds.
  • Dit kom nie van God nie. Wie het julle omgepraat? Nie God nie (5:8). Al sê iemand dat God hom geroep of gestuur het, moet jy hulle nie glo as hulle ‘n vals evangelie verkondig nie.
  • Dit kontamineer ander. ‘n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg (5:9). Vals leermeesters is ‘n groot probleem, want hulle beïnvloed baie mense.
  • Vals leermeesters sal geoordeel word. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf (5:10). Paulus is vol vertroue dat diegene wat waarlik in Christus is net soos hy sal dink – hulle sal die fout gou agterkom.
  • Vals leermeesters vervolg ware leermeesters. As ek nog verkondig dat ‘n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg (5:11). Ons moet onthou dat die kruis mense aanstoot gee – hulle sien dit as ‘n struikelblok. Hoekom gee die kruis aanstoot? Dit vee menslike prestasies van die tafel – die mens het niks om op trots te wees nie.

 

Wees versigtig vir vals leermeesters. Die gevolge van hulle leer is katastrofies. Leer om vals boodskappe te identifiseer.

 

 

image_pdfimage_print