Amos(17) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Amos 8:7-8

8:7 Die HERE het by die trots van Jakob gesweer, ‘Voorwaar, Ek sal al hulle dade tot in ewigheid nie vergeet
nie.’

Dit is die derde keer dat die HERE ’n eed aflê: in 4:2 by sy heiligheid, dit is by sy heilige wese; in 6:8 by sy siel/lewe,
by Homself, die Ek is van Exodus 3:14. Hy het gesweer dat Hy die trots, die hoogmoed van die afstammelinge van
Jakob verafsku, hulle paleishuise haat, en hulle daarom in ballingskap stuur; hier in 8:7 sweer Hy by die voortreflikheid
van Jakob, egter nie by hulle bose dade nie, maar dat Hy hulle misdade, wat in verse 4-6 beskryf word en ingelei is met
‘luister hierna,’ in ewigheid nie sal vergeet nie. Die HERE sweer hier by die uitsonderlike posisie van Israel as die
HERE se uitverkorene onder die volke (Amos 3:2). Dat hulle die HERE se volk is, is sy trots, wat hulle gekrenk het met
hulle bose dade. Hulle lewenswyse het ’n totale ontkenning van hulle besondere posisie geword. Daarom gaan Hy hulle
in ballingskap verstrooi onder die volke. Die trots van die HERE sal vervul word deur Jesus aan die kruis, uit die
nageslag van Abraham (Matt 1:1). Met Abraham het die HERE sy verbond gesluit, in wie al die volke van die aarde
geseën sal wees (Gen 12:2-3). Jesus kom neem die sonde van die wêreld op Hom (Joh 1:29); die Heilige Gees oortuig
mense uit alle volke oor Jesus en verander hulle om soos Jesus te word (2 Kor 3:17-18). Die HERE se uitverkiesing van
Israel sal dan vervul word deur sy Seun en almal wat aan sy Seun verbind word in geloof (Ef 1:4).

Die korrupte trots van Jakob, hulle korrupte dade, sal die HERE egter in ewigheid nie vergeet nie. Dit bly ’n
permanente bedreiging van die ware trots van die HERE. Daarom moes Israel verdwyn, opgaan in die heidendom
waarin hulle inwendig lankal gelyk geword het. Later sal hulle saam met die heidene geroep word.

Die tweede uitspraak – die aardbewing (Amos 8:8)

8:8 ‘Sal die aarde nie hieroor skud en elkeen wat daarop bly, nie treur nie? Dit sal in sy geheel styg soos die Nyl,
dit sal ontstuimig wees en terugsak soos die rivier van Egipte.
LXX ‘En sal die aarde nie opgeroer word oor dié dinge nie en elkeen wat daarin woon treur nie?
En vernietiging opstyg soos ’n rivier en sak soos die rivier van Egipte nie?

Die tweede uitspraak van die HERE is ’n retoriese vraag waarop nie ’n antwoord verwag word nie. Die straf van die
HERE ‘hieroor’ verwys na die oortredings wat in verse 4-6 uitgespel is, wat die HERE nooit sal vergeet nie (vers 7).
Die HERE se straf word vergelyk met ’n geweldige aardbewing (vgl. 1:1). Die hele aarde gaan styg, skud, en terugsak.
Die Nyl styg in die reënmaande tot oor sy walle, met water wat alles meesleur, en sak dan weer . So gaan die aarde
oplig, skud en terugsak binne enkele minute. So word hele gebiede platgevee. Die inwoners sal treur oor al hulle
paleishuise en besittings wat met kullery en verdrukking van die armes verkry is, en deur die aardbewing verwoes is
(3:15; 6:11). Elkeen wat sy rug op die HERE draai en die reg in die samelewing verdraai, trek die aarde en sy inwoners
die verderf in.

Twee jaar ná Amos se optrede was daar ’n aardbewing (Amos 1:1). Met Jesus se sterwe en opstanding was daar
aardbewings (Matt 27:54; 28:2). Die aardbewing in Filippi het die tronkbewaarder tot geloof gelei (Hand 16:26). In die
eindtyd skeur die magtigste aardbewing die bose stad Babilon (‘Rome’ as verteenwoordiger van die bose stede van die
wêreld, Openb 16:18). Aardbewings is nog nie die einde nie, maar die begin van die nuwe tyd (Matt 24:7-8).


Die derde uitspraak – ’n dag van duisternis en rou (Amos 8:9-10)

8:9 ‘Op daardie dag – is die Godspraak van my Heer, die HERE – ‘sal Ek die son laat ondergaan (letterlik ‘inbring)
op die middaguur, en helder oordag sal Ek dit donker maak op die aarde.
8:10 En Ek sal julle feeste verander in ’n tyd van rou (2020: ’n rouplegtigheid) en al julle liedere in klaagliedere
(2020: treursange), en om alle heupe ‘n sak (2020: ’n roukleed) hang en op elke kop ’n kaal plek maak.
Ek sal dit soos ’n rouplegtigheid vir ’n enigste kind maak en die einde daarvan soos ’n bittere dag.

Na die aardbewing in vers 8 volg die duisternis in vers 9. Die aarde sal geen vastigheid bied nie, en die hemel geen lig
nie. In 8:3 word dit ook genoem ‘daardie dag;’ in 5:18 ‘die Dag van die HERE met duisternis en geen lig nie.’ Die
HERE se oordeel word hier met twee beelde beskryf: duisternis (vers 9) en rou (vers 10). Die klem lê egter op die
HERE wat dit bewerk – ‘Ek’ word vier keer gebruik en word ingelei met ‘is die Godspraak van my Heer, die HERE’.

Op die dag van Israel se einde, waaroor die tempelsangers (8:3) en die mense van die aarde (8:8) almal sal treur, sal die
hemel saam treur (soos Jesaja 50:3 later ook sê). Die son word ‘ingebring,’ soos die Skepper volgens 5:8 die dag sal
verduister tot nag; 5:18,20: die dag van die HERE bring donker, nie lig nie. Die son sak skielik in die middel van die
dag. Vir dié wat nie tot bekering kom nie, sal die son van voorspoed op die middaguur ondergaan.

Die profesie is waarskynlik gelewer tydens die nuwemaan se herfsfees wat Jerobeam I ingestel het (1 Kon 12:32). Die
HERE vervang die mooi klere van die feesgangers met sak om almal se heupe, en skeer almal se koppe kaal; albei
tekens van rou, en Hy vervang skielik op die middaguur hulle feesliedere met treursange, soos in 5:1 voorspel. Die
HERE dompel die hele volk in rou soos gerou word oor ’n enigste kind, wat die laaste hoop op ’n nageslag en ’n
toekoms vir Israel is. Die rouplegtigheid se einde is’n bitter dag waarop die rouklaers as ballinge uit hulle land
aangejaag word (4:2-3; 5:5). In Egipte was die negende plaag drie dae pikdonker (Eks 10:21-22) voor die dood van die
eersgeborenes (Eks 12:29-30) voordat Israel uit Egipte verlos is. Nou gaan dieselfde rampe vir Israel tref.

Die duisternis en rou is beelde van die verwoesting wat die HERE binne dertig jaar na Amos se profesie gaan aanrig
deur die Assiriese leërs in Israel van 732-722 v.C. Hulle het die land stelselmatig ingeneem, baie mense doodgemaak en
die res in ballingskap weggevoer (2 Kon 17:6).

Die finale einde is egter die groot Dag van die HERE se oordeel met Jesus se wederkoms. Dan word die aarde geskud,
die son word swart (Openb 6:12-17; vgl. 2 Petr 3:10-13) en gelowiges en ongelowiges word van mekaar geskei (Matt
13:30; 25:32,45). Jesus het uitgeroep: ‘Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel:
die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom op die laaste dag veroordeel’ (Joh 12:48).

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...