Beproewings en versoekings (2)

image_pdfimage_print

 

Christian, beware of thinking lightly of sin. Take heed in case you fall little by little. —C.H. Spurgeon

 

Beproewings en versoekings (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

Watter doel bereik God deur beproewings? In vers 3 begin Jakobus vertel hoe God beproewings in ons lewens gebruik en hy doen dit tot in vers 12. Ons moet beproewing aanvaar vir dit wat God deur hulle bereik. Ons leer ten minste vier dinge van beproewings wat sal veroorsaak dat ons bly is. Ons kom nou by die tweede ding wat ons leer.

 

  • Ons leer om op sy wysheid te vertrou

Die implikasie van vers 5 is duidelik: As dit kom by wysheid is ons nog nie daar nie. Ons kort iets en daardie iets is wysheid. Ons het dit nodig as ons beproef word. Hier kry ons ‘n opdrag: Bid dit van God. In verhouding met die wysheid van God groei ons wysheid deur drie faktore: kennis, perspektief en ondervinding. Omdat ons in al drie hierdie gebiede tekortskiet, is ons wysheid beperk. As ons beproef word, besef ons dat ons nie alles weet wat besig is om te gebeur nie (kennis); dat ons nie ons situasie uit alle moontlike hoeke sien nie (perspektief); dat ons nie die nodige ondervinding het nie. God besit alle kennis; Hy het ‘n ewigheidsperspektief; in Christus het Hy elke soort toets ondervind – en volhard. Ons kan Hom vra, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

 

God gee wysheid – oorvloedig, sonder diskriminasie, sonder huiwering. Dit gebeur nie outomaties nie – jy moet daarvoor vra. God gee nie vir ons ‘n maklike antwoord nie. As ons beproef word, is al wat ons wil hê dat ons omstandighede reggestel moet word. Maar God sê: “Kom na My en vra My om jou te help verstaan hoekom dit gebeur sodat Ek vir jou perspektief kan gee oor wat jy besig is om deur te gaan. Ek, as die Een wat al die kennis en ‘n ewigheidsperspektief en die ondervinding het, sal saam met jou loop.”

 

Die soewereine Koning van die skepping stel sy wysheid beskikbaar vir al sy volgelinge. As ons dus beproewings ondervind, vra vir God om vir jou wysheid te gee. Maar Jakobus sê dat as ons vra ons nie moet twyfel nie. Glo dat God wys is en dat Hy met jou is.

 

  • Ons leer om op sy hulpbronne te vertrou

In Jakobus 1:9 – 11 lees ons van armes en rykes. Maar hoekom in die gedeelte oor beproewings? Beproewings herinner jou dat geld nie jou probleme kan oplos nie. Sal jy jou lewe op hierdie fisiese hulpbronne bou of op die geestelike hulpbronne wat God voorsien?

 

  • Ons leer om vir sy beloning te leef.

Jakobus sê dat almal wat in versoeking standvastig bly gelukkig is. Hier sien ons dat Jakobus baie verwys na Jesus se bergrede. Hy sê dat die man wat standvastig bly in versoeking sal as oorwinnigsprys die lewe kry. Hierdie verwys nie na ‘n fisiese oorwinnaarskroon nie, maar die ewige lewe. Daarom kan ons gelukkig wees, want beproewing herinner ons aan die beloning wat nog sal kom.

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:17).

 

 

In die volgende blog gaan ons na ‘n tweede waarheid oor beproewings en versoekings kyk: Ons is verantwoordelik vir ons eie versoekings.

 

image_pdfimage_print