Bybelse beginsels oor geld

image_pdfimage_print

To follow the teachings of our Lord Jesus Christ and to walk in his footsteps – Franciskus van Assisi se “primitiewe reël.”

 

Bybelse beginsels oor geld

In die Bybel kry ons ten minste ses beginsels oor geld. As ons slegs een van hierdie beginsels aanvaar, is ons nie in balans nie – al ses moet aanvaar word.

  • God gee aan sommiges in oormaat sodat hulle met diegene wat minder het, kan deel.

Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig (2 Korintiërs 8:13 – 14).

God sal nie môre van ons vergeet nie. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopsprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte (Handelinge 4:34 – 35). Dit is hoekom God aan sommige van ons baie gegee het – om dit weg te gee. Om met die armes te deel, is ons plig en blye voorreg.

  • Jesus se radikale vrygewigheid teenoor ons dien as ‘n model en motivering vir ons radikale vrygewigheid.

In 2 Korintiërs 8 en 9 verduidelik Paulus aan die Korintiërs dat Jesus se vrygewigheid teenoor hulle die patroon van hulle vrygewigheid teenoor ander moet wees. As God ons vermoë om geld te verdien verbeter, moet ons dit gebruik, nie om ons lewenstandaard verder te verhoog nie, maar wel om ons standaard van gee te verhoog. God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer (9:10). Sy deernis teenoor ons moet ons natuurlik instel om diegene in nood te help.

  • Die Heilige Gees moet ons lei na watter offers ons persoonlik moet maak.

Hoe weet ek waar ek my beperkte hulpbronne moet gebruik? Oppas: as jy net gee waar die Heilige Gees jou sê jy moet, voer jy net bevele uit – jou hart loop nie oor van dankbaarheid nie.

  • God verheug Hom in ons genieting van sy materiële gawes

As julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Lukas 11:11 – 12). Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet I1 Timoteus 6:17). God gee wyn om mense se harte bly te maak (Psalm 104:15); God maak goeie wyn by Kana, want Hy weet dat as ons dit geniet ons God verheerlik (Johannes 2:1 – 11); na die wetboek ontdek is, was die volk treurig, maar Nehemia sê vir hulle dat hulle moet gaan  feesvier – eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie (Nehemia 8:10 – 11); toe Maria Jesus se voete met duur nardusolie salf, was Judas ontstel, want hulle kon tog die geld vir die armes gegee het. Jesus sê dat hulle Maria moes los: die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie (Johannes 12:1 – 8). Jy hoef dus nie skuldig te voel as jy baie geld maak of as jy daarvan geniet nie. Paulus sê: Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is (Filippense 4:12).

  • God, nie geld nie, moet ons primêre bron van skoonheid en veiligheid wees

Sommige spaar obsessief vir hulle ou dag – hulle bron van veiligheid; ander koop alle moontlike statussimbole – hulle bron van skoonheid. Vir diegene wat geld as sekerheid sien, sê Jesus: Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie: hulle hemelse Vader sorg vir hulle (Matteus 6:26). God kan jou beter versorg as wat geld ooit sal kan doen. Vir diegene wat geld as hulle bron van skoonheid sien, sê Jesus: Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, en tog was hulle mooier as Salomo gekleed (Matteus 6:28 – 29). As geld nie meer ons bron van sekerheid en skoonheid is nie, sal ons meer hê om weg te gee, want ons het minder van die wêreld nodig om gelukkig en seker te wees. Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak … Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar … Waar jou skat is, daar sal jou hart oor wees (Matteus 6:19 – 21).

  • Om rykdom te bou, mag wys wees

Luister na die skrywer van die Spreuke-boek: Wyse mense word bekroon met rykdom (14:24); rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk (13:11); ‘n Goeie mens laat ‘n erfenis na ook vir sy kleinkinders (13:22). Om rykdom te bou, vermeerder jou vermoë om vrygewig te wees. Die Goeie Samaritaan gee geld vir die man in nood, want hy het dit gehad. As ons hierdie beginsel in isolasie beskou, mag dit tot ongesonde opgaar van rykdom lei: verantwoordelike spaar en vrygewige gee, moet gebalanseer word. Jy kan geld spaar op ‘n manier wat God verheerlik.

 

Elke beginsel op sy eie kan misbruik word, maar as ons die beginsels as ‘n pakket sien en aanvaar, is ons getrou aan die Bybel se raad.

 

 

 

image_pdfimage_print