Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Bekeer julle en word gedoop

image_pdfimage_print

God knows nothing of solitary religion. No man ever went to heaven alone – John Wesley

Bybelverse wat verkeerd gebruik word:  Bekeer julle en word gedoop

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang (Handelinge 2:38).

Petrus preek sy eerste preek na die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag. Hy eindig sy preek met hierdie woorde: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak. Dit was ‘n goeie preek: By die aanhoor hiervan is die mense diep getref – hulle het hulle eie Messias vermoor. Hulle is skaam en voel skuldig; hulle het berou. Daarom vra hulle vir Petrus en die ander apostels: Wat moet ons doen, broers.

Petrus antwoord met: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Petrus sê hulle moet hulle hartsverandering wys deur hulle sonde te bely en berou daaroor te hê, maar terselfdertyd moet hulle in geloof na Christus draai.

As Paulus met die ouderlinge van Efese praat, sê hy basies dieselfde: Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo (Handelinge 20:21). Bekering en geloof is gawes van God, wat die gelowige beoefen in reaksie op die evangelieboodskap. God gee ‘n nuwe geestelike lewe aan ‘n dooie hart. In sy gesprek met Nikodemus noem Jesus dit wedergeboorte (Johannes 3:3). Hierdie is die soewereine werk van God en op daardie oomblik word jy ‘n nuwe mens: Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17). Die Heilige Gees was en vernuwe ons en kom permanent in ons woon. Daarom sê Petrus dat ons sondes nie alleen vergewe word nie, maar dat ons ook die Heilige Gees as gawe ontvang.

Om in die openbaar ons bekering en geloof te verklaar, sê Petrus dat ons ook gedoop moet word as uiterlike simbool van ons innerlike reiniging. Die doop is ‘n optrede wat volg en het geen verlossingskrag nie, want ons word deur geloof alleen gered. Baie lees hierdie vers asof die doop ‘n noodsaaklike voorwaarde vir verlossing is. Die hele Nuwe Testament leer vir ons dat ons deur geloof alleen gered word.

As doop ‘n voorwaarde vir verlossing is, was die misdadiger aan die kruis nie werklik verlos nie – daar was nie tyd om hom nog te doop nie. Dan was Jesus se belofte (Vandag sal jy saam met My in die paradys wees – Lukas 23:43) ‘n leuen. Later sê Petrus: Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis (Handelinge 3:19). Toe die bewaarder in Filippi vir Paulus vra wat hy moet doen om gered te word, antwoord Paulus: Glo in die Here Jesus en jy sal gered word (Handelinge 16:31).

Doop is nie die manier waarop ons verlos word nie, maar is die simbool dat ons verlos is. Ons moet baie versigtig wees om nie allerhande voorwaardes bo en behalwe geloof vir ons verlossing by te voeg nie. Ons lees gereeld in Paulus se briewe dat die mense die besnydenis en onderhouding van die wet as voorwaardes vir verlossing wou byvoeg. Paulus se reaksie is skerp: Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig (Galasiërs 3:3). Hoekom glo ons dat die werking van die Heilige Gees in ons nie voldoende is nie? Hoekom wil ons dan nog iets byvoeg?

Ons moet altyd dat die Skrif die Skrif interpreteer. ‘n Teks mag dalk nie beteken wat ons dink dit moet beteken as dit nie ook elders in die Skrif bevestig word nie.

image_pdfimage_print

You may also like...