Christene moet groei – Diens

image_pdfimage_print

It (die kerk) is a ship tossed with storm and tempest; but it cannot sink, because Christ is on board –  J. C. Ryle

Christene moet groei – Diens

R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

 

Diens is ‘n genadegawe – soos ons dien groei ons in ons bediening. Diens is nie opsioneel vir Christene nie. Alle Christene moet dien. Toe Jesus vir Moses uit die brandende doringbos roep, sê Hy onder andere vir hom: Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dit wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid (Eksodus 3:12). God verlos sy mense uit Egipte, nie om outonoom te word en te doen net wat hulle wil nie – hulle moet Hom dien en aanbid. Hy roep hulle uit farao se diens in sy diens.

 

Paulus verwys graag na homself as slaaf of dienaar van God – een gekoop om te dien. Alle gelowiges moet onthou dat hulle teen ‘n duur prys gekoop is. Ons behoort aan Hom wat vir ons betaal het. Ons is geroep om te dien. Maar wie moet ons dien? Jesus self het gesê: Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie (Matteus 6:24). Ons moet soos Josua sê: Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien (Josua 24:15).

Ongelukkig is diens nou nie juis iets wat ons geniet nie. In ons kultuur sukkel ons maar met die beeld van ‘n dienaar. Jesus se dissipels het ook daarmee gesukkel. In Matteus 20:25 – 29 gee Jesus ‘n definisie van grootheid: Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees.

 

Om sy opdrag om die woord van God uit te dra, uit te voer, moes die kerk heelwat ander kleiner take ook uitvoer. In Handelinge 6 lees ons van die verkiesing van sewe diakens. Hulle moes die versorging van die weduwees in die gemeente doen. Dus die armes moes versorg word, die evangelie moet verkondig word, aanbidding moes plaasvind – al die take van die koninkryk moet uitgevoer word. Elke gelowige kan nie alles doen nie. Gelowiges kry gawes en hulle moet volgens hulle gawes dien. Maar elkeen word opgeroep om sy deeltjie by te dra.

Die motivering vir diens aan God is liefde vir God. Ons dien, nie om ons verlossing te verdien nie, maar omdat ons reeds verlos is. Dit moet vir ons ‘n vreugde wees om God te gehoorsaam. Ons mag nie die gawes wat ons van God ontvang het, vermors nie.

Volgende keer gaan ons ma ons laaste dissipline – rentmeesterskap – kyk

image_pdfimage_print