Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Luk 18:9-14) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Na die gelykenis van die weduwee en die regter oor God se aanneming van Jesus se volgelinge, gaan hierdie gelykenis, wat ook net in Lukas voorkom, oor die voorwaardes vir hulle aanneming deur God. Die eerste gelykenis verwys na die noodsaaklikheid van voortgaande gebed met die oog op Jesus se wederkoms. Hierdie gelykenis wys na die regte gesindheid in ons daaglikse gebede. Dit handel oor die Jode se verkeerde opvatting dat ’n mens God se koningsheerskappy deur die vervulling van die wet kan laat kom. Dit is die rede vir die Fariseër se regverdiging van homself.

 18:9 Jesus vertel hierdie gelykenis aan mense wat oortuig is van hulle eie geregtigheid, dat hulle verhouding met God reg is, en daarom op ander mense neersien. Hulle vertroue op hulle eie goedheid verdring hulle vertroue op God se goedheid. Geregtigheid wat gebou is op  selfvertroue is liefdeloos en lei tot die veragting van ander mense wat nie hulle geregtigheid uit die wet kan aanwys nie, en daarom as onrein sondaars beskou word (vgl. Joh 7:49). Die selfgeregtigdes besluit self of hulle regverdig voor God is. God hoef niks te doen aan hulle geregtigheid nie – daarom kan hulle Jesus se boodskap van vergiffenis nie aanvaar nie. Met die selfbeoordeling kom ook die vergelyking met ander mense, en kan hulle maklik besluit dat ander se verhouding met God nie reg is nie. Vir hulle is dit onmoontlik om ander hoër as hulleself te ag (Flp 2:3).

 18:10 Twee mense gaan op dieselfde tyd na die tempel in Jerusalem om in die voorhof persoonlik te bid, moontlik nie in die gewone gebedstye in die oggend om 9vm en die aandgebed om 3nm nie, waar daar meer mense teenwoordig sou wees. Daar is egter ’n groot onderskeid tussen die twee bidders; en tollenaars word ook nie in die Fariseërs se gemeenskap opgeneem nie (Mark 2:16).

 18:11 Die Fariseër bid staande, met oë wat opkyk en hande na bo uitgestrek. Hy bid oor/tot (pros) homself – dit is juis sy probleem. Eintlik praat hy net oor homself en met homself, ’n monoloog, al spreek hy God aan. Dit is ’n dankgebed. Hy dank God dat hy die goddelike gebooie onderhou, die maatstaf waarmee hy ander beoordeel. Hy is nie soos ander mense nie: rowers wat ander se goed met geweld vat (teen die 8e gebod, Eks 20:15); ongeregtigdes (wat nie die wet onderhou nie, Eks 20:2-17), egbrekers (wat die 7e gebod verbreek, Eks 20:14), en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Hy verbind sy dank met sy veragting van hierdie tollenaar wat mense beroof met die insameling van belastings, ’n onreine volksverraaier wat met die heidense Romeine omgaan en vir hulle werk.

 18:12 Na sy dank begin hy sy besondere deugde opnoem waarmee hy God dien: hy vas twee keer per week, wat nie deur die wet voorgeskryf is nie, maar deur die rabbi’s as ekstra vrywillige goeie werk beskou is. Hy gee ’n tiende van alles wat hy verdien, meer as wat Deutr.14:22-29 voorskryf (vgl. Luk 11:42). Met al sy ekstra goeie werke en sondes wat hy nie doen nie, hoef hy niks van God te vra nie. Hy is oortuig dat God hom met welgevalle aansien en is God dankbaar vir wat hy self is en doen. Hy het geen sondebesef of behoefte om nederig afhanklik van God te wees nie. Hy het God amper gelukgewens met hom as die uitstekende dienaar van God. Hy kyk na Bo maar dink aan homself. Na sy aanroep van God verwys hy nie weer na God nie, maar is self nooit uit die prentjie wat hy van sy lewe skilder nie. Hy is nie regtig in God geïnteresseerd nie, maar slegs in homself. Al sy werkwoorde is in die eerste persoon, ‘ek.’ Hy vertrou op sy eie regverdigheid en godsdienstige prestasies, met die gevolg dat hy ander verag wat nie sy standaard van lewe bereik nie. Vroomheid kan ’n skeidsmuur tussen die mens en God word.

 18:13 Die tollenaar staan ver weg van die Fariseër af, moontlik selfs in die voorhof van die heidene, en nie in die voorhof van die Jode nie. Hy waag dit nie om na die hemel na God op te kyk nie. Sy houding is dié van iemand wat tot bekering kom, wat op sy bors bly slaan (etupten imperfektum) as teken van berou (vgl. Luk 23:48 as teken van rou en vertwyfeling oor die gestorwe Jesus) – hy durf nie sy hande in gebed na God uitsteek nie; vgl. Ps 141:2 ‘mag my opgehefde hande soos die aandoffer wees;’ Esra 9:5-6; 1 Tim 2:8 ‘met heilige hande ophoog’); nie in ’n gebedshouding nie, maar ’n uitbarsting van onwaardigheid en vertwyfeling omdat sy toestand hopeloos is. So roep hy die gebed om barmhartige vergifnis uit: ‘O God, wees my, die sondaar, genadig (met die werkwoord hilasthêti ‘wees genadig’ word ook gevra om God se vergifnis van sy sonde).’ So het Dawid in Ps 51:3 gebid na sy oortreding met Batseba. Daarmee plaas die tollenaar homself onder die genadewoord van Ps 51:19 ‘’n gebroke en verpletterde hart sal U, o God, nie minag nie.’ Anders as die Fariseër het die tollenaar niks om God aan te bied nie, maar werp hom op God se genadige vergifnis. Dit is al wat hy van God kan vra.

 18:14 ‘Ek sê vir julle’ – daarmee tree Jesus uit die geheimenis van die gelykenis, en staan voor sy hoorders aan God se kant, as God se Regter op aarde. Die Fariseër wat op homself vertrou dat sy verdienste genoeg is om geregverdig voor God te staan en van sy gebed ’n selfgesprek maak, ervaar nie God se regverdiging wat verniet beskikbaar is nie, maar bly by sy selfregverdiging. Die tollenaar ervaar egter Ps 51:19 se belofte. Die passiewe woord dedikaiōmenos verwys na God wat vir hom sy skuld vryspreek, terwyl sy vlug na God toe, hom in die regte verhouding tot God plaas, hom regverdig voor God maak. Selfverhoging is selfvertroue wat ander verag. Nederigheid word gebou op ware selfkennis dat jy ’n sondaar is voor God, wat jou aan die barmhartigheid van God uitlewer. Jesus se ewige oordeel oor die lewe van mense is: ‘want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar hy wat homself verneder, sal verhoog word.’ 

 Die twee gelykenisse in hoofstuk 18 verduidelik wat Jesus van die koninkryk van God in 17:20-37 gesê het, dat die dag van die Seun van die Mens onverwags kom en skeiding maak tussen mense. Die gelykenis van die weduwee en die onregverdige regter beklemtoon dat ons altyd moet bid en nie moedeloos moet word nie, sodat ons gereed sal wees vir die dag van sy wederkoms om te oordeel. Die gelykenis van die tollenaar en die Fariseër verduidelik die maatstaf vir die skeiding tussen mense, oor wie se saak met God reggestel is en wie s’n nie; dat dit juis dié mense is wat hulleself voor God verneder, wat aangeneem en verhoog word, en dié wat hulleself verhoog wat agtergelaat en verneder sal word. 

image_pdfimage_print

You may also like...