Die Evangelie volgens Lukas: God en Mammon? (Luk 16:9-13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

16:9 Jesus se tweede kommentaar op die gelykenis lui: ‘Maak vir julle vriende deur die oneerlike Mammon sodat, wanneer dit tot ’n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ Teenoor die verkeerde gebruik van besittings word die regte gebruik van besittings gestel. Dien jy God met jou besittings of het jou besittings ’n afgod geword? Mammon is ’n Aramese woord met ’n sterk negatiewe konnotasie wat rykdom en besittings aandui. Jesus noem dit ook die oneerlike (adikia onregmatige) Mammon omdat besittings dikwels onregmatig verkry word, ten koste van iemand anders, maar veral ten koste van God (vgl. Joh 8:42-44). Om jou besittings, wat jy regmatig van die Here ontvang, te gebruik om armes te help, sal die regte gebruik daarvan wees (Luk 11:41; 12:33; 19:8-9). Die ewige wonings, letterlik tente (skênê tent, tabernakel) verwys na die tent van ontmoeting waar die Here met Moses soos met ’n vriend gepraat het (Eks 33:7-11). Die verhouding met God as sy vriend word deur Lukas gebruik as ’n beeld van die hemel. In die ewige wonings in die hemel (vgl Joh 14:2) sal die armes, wat jy met jou besittings gehelp het, jou met vreugde as vriend ontvang en vir jou getuig oor wat jy aan hulle gedoen het (vgl. ook Matt 25:40). Die ‘hulle’ wat jou sal ontvang kan ook na God verwys – die Jode was geneig om die meervoud te gebruik om na God te verwys – dat die Here jou in die hemel by Hom sal verwelkom as sy vriend, soos vir Moses by die tent van ontmoeting .

 16:10 Na die uitdeel van jou besittings wat die Here alles aan jou toevertrou het, volg die volgende woorde oor die getroue omgang met die besittings wat die Here aan jou geleen het, wat weer in Luk 17:10 en 19:17-19 ter sprake kom.  Die aardse goed is die geringste van God se gawes, terwyl die ewige heil die ‘baie’ is wat God aan die mens toevertrou. Betroubaarheid in die bestuur van die aardse gawes van God veronderstel dat die mens betroubaar sal wees in die bestuur van die ewige heilsgawes. Oneerlikheid met die aardse gawes veronderstel dat die mens onbetroubaar sal wees met die ewige gawes.

 16:11 Die aardse gawes word as ‘onregverdige Mammon’ beskryf omdat dit die mens so maklik kan bedrieg en vang (Mark 4:19). Die ewige gawes word die ware rykdom genoem, die egte wat nie verlei en mislei nie. Iemand wat deur sy besittings weggelei word van die Here en sy pad af, kan nie met die egte gawes vertrou word nie. Ons is slegs tydelik bestuurders van die gawes wat die Here aan ons toevertrou. As ons sy gawes selfsugtig misbruiik, wys ons dat Hy nie sy permanente hemelse gawes aan ons kan gee nie.

 16:12 As julle onbetroubaar was met ander se goed wie sal dan julle eie goed vir julle gee? Alles wat ons nou het behoort aan God; Hy het sy gawes aan ons toevertrou (1 Kron 29:14). Ons eie goed is die permanente hemelse gawes wat die Here vir ons voorberei het (Matt 25:34). As ons egter ontrou is met die gawes van die Here wat Hy aan ons toevertrou het, hoe kan Hy ons vertrou met die ewige goed wat Hy vir ons berei het?

 16:13 Jesus stel die samevattende slotvraag: God of Mammon? Aan wie behoort jy? Die sin begin met ‘Geen huiskneg…’  Elke mens is iemand se kneg aan wie hy behoort. Aangesien jy net een heer se kneg kan wees, moet jy nadink oor waar jy staan. As jy twee here probeer dien (soos soms in Israel gebeur het), sal jy een voortrek en die ander verwaarloos. Jesus onderskei tussen God en Mammon, jou besittings, jou afgod. Op wie vertrou jy om jou lewe te bepaal? Behoort jy aan God as ‘seun van die Lig,’ of het jy verval om ’n kind van die wêreldtydgees te word, wat in die kloue van Mammon/ jou besittings, geval het. Jesus vra nie of jy die bose of die goeie kies nie, reg of verkeerd nie, vroom of goddeloos nie. Hy vra nie wat jy uit jouself wil kies of doen nie. maar aan wie behoort jy? (vgl. Deutr 6:4).  As jy aan God behoort sê Kol 3:1-5 dat jy dan saam met Christus gesterf het en sedeloosheid en gierigheid afgesterf het en saam met Christus opgewek is om te strewe na wat daarbo is.

 Die gierige Fariseërs (Luk 16:14-15)

 16:14 Die Fariseërs wat saam met die skare na Jesus se woorde geluister het, het minagtend gelag (ekmuktêrizō letterlik neus optrek vir iemand, smalend van Hom praat) toe Jesus die skerp keuse tussen God en Mammon en die onverenigbaarheid van diens aan God en die sug na geld vir hulle voorhou, want hulle was geldgierig (vgl. Luk 20:47). Gieriges hou daarvan om hulle sonde te verbloem en hulle besittings te sien as die seën van die Here op hulle aktiwiteite. Gierigheid is ’n probleem vir alle mense (vgl. bv. Luk 12:13 en die twee verlore seuns van hulle vader), ook vir Sadduseërs en tollenaars. [Rabbi Joganan wat in 279 n.C. gesterf het, het gesê: Alles hang van jou hart af, en jou hart hang van jou geldsak af]. Die Fariseërs het gemeen dat die verlange na geld onskuldig is en vir ’n vrome toelaatbaar is, terwyl hulle hulle nie bekommer oor hulle hart, waar die begeerte na geld ontstaan nie. En toe die arm Jesus met sy groepie arm volgelinge God en Mammon, die god van besittings en geld, teenoormekaar stel, het hulle Jesus geminag. Jesus en sy groep se armoede was vir die Fariseërs juis die bewys dat hulle nie deur God geseën word soos hulle Fariseërs geseën word nie.  

 16:15  Jesus ken egter die hart en begeertes van die mens en spesifiek van die Fariseërs: ‘Dit is julle wat julle voor die mense regverdig voordoen…’ (vgl. die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Luk 18:8-14), ‘maar God ken julle harte.’ Hy ken ons deur en deur, en wat vir mense beïndruk, beïndruk Hom nie. Die hart is die uitdrukking wat die persoon, sy binneste, aandui, waaruit sy denke, wil en optrede uitgaan. In God se oordeel is alles wat uit elke klein mensie se grootheid- en hoogheidswaan kom, alles wat deur mense hoog aangeskryf word, voor die grote God ’n gruwel, wat Hy verafsku (vgl. Jesaja 2:12-19;  5:14-16; Luk 1:51-53; 14:11). Die begeerte om mense te beïndruk is vir God afgodsdiens, waardeur die mens van homself ’n god maak voor mense. Die Fariseërs dien God vir hulle eie eer, om deur die mense gesien te word, maar vergeet dat God die hart van die mens, die hele mens, deur en deur ken en daarvolgens oordeel (Ps 139). Jesaja het die vernedering van die hoës op die dag van die Here aangekondig. Lukas het dit in sy inleiding opgeneem in Maria se loflied. Met Jesus se koms het die dag van die Here aangebreek soos die volgende verse verduidelik.

image_pdfimage_print

You may also like...