Die Evangelie volgens Lukas: Jesus waarsku teen Fariseërs en wetskenners (Luk 11:37-54) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Lukas plaas die gedeelte weer by ’n feesmaal (vgl. 5:29 saam met die tollenaarvriende van Levi; 7:36 by ’n Fariseër; 10:38 by Martha en Maria), hier vir die tweede maal by ’n Fariseër. Tydens die tafelgesprek spreek Jesus drie ‘wee julle’ (ouai) uit oor die Fariseërs se lewenswyse en drie ‘wee julle’ oor die wetskenners, om sy intense smart oor hulle dwalings en die vreeslike gevolge daarvan vir hulle, uit te druk. Die gedeelte sluit af met die reaksie van die Fariseërs en wetskenners op Jesus se vermanings. Die Fariseërs se reinheid is bedekte onreinheid, en die rabbi’s se kennis verhinder ware kennis van God. Die godsdienstige leiers van die volk se leiding verskil radikaal van Jesus se lering om  die volk na sy Vader toe te lei. Met sy direkte aanslag wil Jesus hulle tot besinning en tot bekering lei.

11:37 Terwyl Jesus praat oor die teken van Jona en die oog as die lig van die liggaam, nooi ’n Fariseër Hom vir ’n ete, waarskynlik die kleiner middagete (ariston teenoor deipnon die groter aandete). Hy was blykbaar beïndruk deur Jesus se opmerkings, en wou meer daaroor hoor.

11:38 Die Fariseër was verbaas dat Jesus nie voor die maal gewas het nie (baptizo was, of in water insteek om ritueel rein te word, word ook vir doop as inlywing gebruik). Om met ongewaste hande of liggaam die gawe van die Here, voedsel, te ontvang was nie eerbiedig nie. Dit gaan nie om higiëne nie, maar om ritueel rein te wees. Dat Jesus as ’n leraar van die volk dit nie doen nie, verbaas die Fariseër.

11:39 Die Fariseërs se godsdiens het gedraai om gehoorsaamheid aan die wet en aan die baie gebruike wat die tradisie van die rabbi’s voorskryf. Maar ’n wet kan slegs reël wat ’n mens moet doen, nie wat hy is nie. In enige wettiese godsdiens word gewoonlik gekonsentreer op dié aspekte van optrede wat maklik in ’n gedragskode opgesom kan word, altyd op die mees oppervlakkige aspekte daarvan, soos om jou hande te was voor jy kos, wat God voorsien, eet.  Jesus sê dit is soos om ‘die buitekant van die beker en skottel skoon te maak, maar van binne is julle vol gewelddadige inhaligheid (harpagê) en ’n bose natuur (ponêria moreel korrup en boos).’  Vir God gaan dit om die hele mens, veral oor ’n rein hart, die bron waaruit ’n mens optree (vgl. Luk 11:35 ‘Pas op dat die lig in jou nie duisternis is nie;’ Gen 6:5; 8:21).

11:40 Jesus noem hulle soort godsdiens ‘n dwaasheid, en openbaar hulle as dwase (afrones mense wat nie hulle verstand gebruik nie). God het die buitenste en die binneste as een geheel geskep. Jesus redeneer met hulle vanuit ’n mensbeeld wat die mens se binneste en sy liggaam as ’n eenheid beskou, waarby die binneste die leidende deel van jou persoon is. Om jou binneste, jou denke, gevoel en wil, buite rekening te laat, is dwaasheid (vgl. Matt 15:16-20).

11:41 ‘Gee liewer die inhoud (van die beker en die skottel) as aalmoes, dan sal alles vir julle skoon wees’ (vgl. Titus 1:15). Nie die weg van hebsug nie, maar die weg van oorgawe aan God en vrygewigheid lei daartoe dat alles vir die mens rein word.

11:42  Die eerste bedroefde ‘wee julle’ uitspraak oor die Fariseërs, gaan oor hulle skynvroomheid: Wettiese godsdiens konsentreer daarop dat jy nie iets verkeerds moet doen nie, in plaas van op aktiewe en positiewe goedheid, met vrees vir die slegte in plaas van met liefde vir die goeie. Die nougesetheid met die tiendes van alles wat hulle gee, maar verwaarlosing van die reg teenoor alle mense en die liefde vir God, kan slegs floreer waar mense hulle sin vir proporsie verloor het, van wat belangrik is en wat minder belangrik. Dit wys ook na ’n godsdiens waar die mens sy saligheid moet verdien met sy goeie werke, en nie uit liefde vir God en sy medemens lewe nie. Dit is ’n vertoon van hulle sogenaamde vroomheid met die tel van hulle plantjies in die tuin om hulle nougesette gawe aan God af te meet, maar getuig nie van hulle liefdesoorgawe aan God nie. Jesus wys nie die gee van tiendes af nie, maar in hulle ywer vir kleinigheidjies verwaarloos hulle die belangrike reg teenoor mense en liefde tot God.

11:43 Die tweede ‘wee julle’ gaan om die eersug van die leiers. Om op die groot morele verpligtinge te konsentreer, waaroor niemand kan spog dat hy dit vervul het nie, lei tot nederigheid. Maar om op ’n lys klein verpligtinkies te konsentreer, wat binne die vermoë van die entoesiaste val, lei tot selfbevrediging, verwaandheid en die verwagting van erkenning. Die Fariseër is geneig om hom opvallend te maak, om so wetsgetrou te wees dat almal dit kan sien. Hy wil eerbiedwaardig wees en verlustig hom as dit gebeur. Hulle hou van die ereplek in die sinagoge en begroetings op die markte. So straal hulle as leiers nie die lig van die evangelie uit nie (Luk 11:36; vgl. Joh 5:44).

11:44 Kontak met ’n lyk of ’n graf maak dat jy vir sewe dae seremonieel onrein is (Num 19:16). Grafte is daarom dikwels wit geverf om mense teen onreinheid te waarsku. Jesus huil oor die Fariseërs as leiers van die volk en die ellende wat vir hulle wag. Hulle is soos ongemerkte grafte waaroor mense loop sonder om dit te besef. Hulle lering en lewenswyse mislei die hele niksvermoedende volk met hulle valse leer oor God. Hulle reputasie van heiligheid verberg vir die gewone mense die verraderlike kwaliteit van hulle invloed.

11:45 Die wetskenners (nomikoi) is juis die mense wat die Skrif bestudeer en vir die volk die woord van die Here moet uitlê, en het meestal uit die kring van die Fariseërs gekom. Jesus se radikale afwysing van die Fariseërs se leer en wandel raak die wetskenners direk en hulle beskou die opmerking oor die ongemerkte grafte as ’n belediging na hulle kant toe ook. Die wetskenner spreek Jesus wel aan as ‘Leermeester’ (didaskalos) omdat hy Hom as ’n rabbi erken, maar oor wat Jesus leer oor die verhouding tussen God en mens is daar skynbaar geen plek in hulle opvattings en leringe nie. Lukas beskou die Fariseërs as die leiers ten opsigte van mense se gedrag, en die wetskenners as die leiers in die onderrig van die mense.

11:46 Die groot omvang van die wetgewing en die tradisie wat die wetskenners bygevoeg het by die wet van God, wat hulle alles beskou het as bindend op elke Israeliet, het ’n las geword wat niemand kon dra nie (Hand 15:10), en self raak die wetskenners nie met ’n vinger aan die laste nie. Die woord vir ‘aanraak’ (prospsao) kan beteken om self iets aan ’n saak te doen of om iets te doen om ander te help. Die wetskenners voer die wette self nie uit nie, hulle konsentreer net op die kennis van die wette en die redenasies daaroor, sonder om dit toe te pas omdat dit vir hulle ook te swaar is, of hulle lê diie wet so uit dat hulle dit nie hoef te doen nie (vgl. Mark 7:8-13), of hulle help nie die mense om die laste te dra nie. Hulle moes die wet van God so verklaar dat dit mense gehelp en geïnspireer het. Jesus huil ook oor hulle: ‘wee julle’ want daar wag ellende ook op julle. ’n Sisteem wat van godsdiens ’n las maak, is duidelik ’n wanvoorstelling van die Vader se wil vir sy kinders.

11:47-51 Die mense wat glo dat God alles wat Hy wou sê in die wet laat opteken het, luister nie maklik na ’n nuwe openbaring uit die mond van ’n lewende profeet nie (vgl. Luk 4:24). Wettiese mense is baie bereid om monumente vir gestorwe profete te bou, maar hulle verering van die tradisie gaan gewoonlik hand aan hand met dieselfde gees van onverdraagsaamheid wat tot die profete se dood gelei het.

Die finale krisis in die geskiedenis van Israel het met die koms van Jesus aangebreek. Sedert Jesus se tyd moet Israel met hulle geskiedenis breek deur ’n radikale bekering, of boet vir die opgehoopte skuld van vorige geslagte. Dieselfde wetskenners gaan deel wees van die veroordeling tot die dood van Jesus. Ten spyte van hulle vroom redenasies en verering van die ou profete deur vir hulle monumente te bou, is hulle vervul met dieselfde haat teen die boodskappers van God  en veral teen Christus oor wie die profete juis geprofeteer het.

Abel was die eerste martelaar (Gen 4:8) en Sagaria die laaste in die Hebreeuse Ou Testament  (2 Kron 24:17-22).

In 11:49 word óf aangehaal uit ’n onbekende geskrif ‘die Wysheid van God,’ óf dit verwys na die wysheid van die woord van God wat Jesus in die naam van sy Vader spreek: ‘Ek sal profete en apostels na hulle stuur, maar hulle sal sommige doodmaak en vervolg’ (vgl. Jesus se gelykenis van die huurders in Luk 20:9-19). Tydens die Joods-Romeinse oorlog van 66-70 n.C. is meeste van die leiers van die Jode doodgemaak en het die hele volk gely.

11:52 Die derde ‘wee julle’  oor die wetskenners gaan oor die sleutel van kennis wat aan hulle toevertrou is. Die funksie van die wetskenners was om die Skrifte vir die mense te ontsluit om daarin kennis van God te vind. Maar in plaas daarvan het hulle gekonsentreer op sekondêre sake en op sake aan die rand van die boodskap. Daarom het hulle die boek vir die mense gesluit  en die sleutel weggegooi deur dit te weier vir diegene wat daar wou ingaan. Self het hulle ook nie met die sleutel in die woord van God ingegaan nie. Omdat hulle self nie die God van die Bybel leer ken het nie, kon hulle Hom ook nie aan ander bekendstel nie. Die metode waarvolgens hulle die Skrif uitgelê het,  het dit vir die volk onmoontlik gemaak om Jesus se verkondiging van die genadetyd van God wat aangebreek het, te herken.

11:53 Die godsdienstige leiers wou nie Jesus se bekeringswoord aanvaar sonder om hulle aansien onder die volk te verloor nie. Hulle wou nie hulle aansien verloor nie en kon nie daarsonder klaarkom nie. Daarom het daar ’n haat teen Jesus in hulle ontbrand. ‘Toe Hy van hulle weggegaan het, het die skrifkenners (grammatoi, ’n ander naam vir die wetskenners)  en die Fariseërs hewig (deinõs) vyandig teenoor Hom begin word.’  Daarom het hulle Hom fyn begin dophou om te sien of daar nie iets is waaroor hulle Hom kon vastrek nie (thêreuo letterlik: jag maak op, ’n valstrik stel). Die leiers wat die volk na God toe moet lei, grawe ’n vanggat vir die Seun van God wat die koningskap van God na hulle toe gebring het. Hy ís die sleutel tot die kennis van God, wat hulle van die volk weggeneem het (Luk 11:52).

image_pdfimage_print

You may also like...