Die Evangelie volgens Lukas: Jesus bevry die besetene van demone (Luk 8:26-39) – Francois Malan

image_pdfimage_print

In die tweede wonderverhaal volg Lukas Markus 5:1-20 amper onveranderd, met enkele stilistiese veranderings en omstellings.

8:26 Na die storm bedaar het vaar hulle na die land van die Geraseners, inwoners van Gerasa, ’n belangrike stad van die Griekse Dekapolisgebied (tien stede wat ’n verbond gehad het), ongeveer 50 km suidoos van die See van Galilea, waarvan die stad se buiteveld moontlik tot by die see van Galilea sterk (codeks Vaticanus lees Geraseners; Sinaiticus lees Gergeseners wat ’n dorp Gergesa naby ’n steilte aan die See van Galilea sou wees, soos deur Origenes genoem word, die huidige Kersa;  codeks Alexandrinus: Gadareners, soos in Mat 8:28; Gadara is 15 km suid-oos van die See van Galilea). Die gebied is nie meer in die Joodse land nie, met ’n oorwegend heidense bevolking wat nie ’n verbod op die eet van varkvleis het soos die enkele Jode wat daar woon nie (vgl. Lev 11:7-8; Deutr 14:8).

8:27 Toe Jesus aan wal stap kom ’n besetene uit die dorp hom tegemoet (hupantao kan vriendelik of vyandig tegemoetkom aandui), waarkynlik om Jesus en sy dissipels leed aan te doen. Die kaal man wat in die rotsgrafte bly (grotte wat as grafte gedien het) het ’n demoon gehad (Markus 5:2 ’n onreine gees) wat hom beheers het. Terwyl mense ’n afkeer aan verrottende lyke het, en Jode vrees vir verontreiniging deur lyke en grafte (Num 18:11,16) het waansinniges soms die begeerte na die dood en ontbinding.

8:28-29 Die man het skreeuend voor Jesus neergeval (prospipto; Markus 5:6 prokuneo neergekniel) en met ’n groot stem uitgeroep: ‘wat vir/aan my en vir jou?’ – los my uit! ‘Jesus, Seun van God die Allerhoogste!’ In die teenwoordigheid van die Heilige Here weet die demoon dat daar vir hom en sy trawante slegs straf wag.

Die man was gewelddadig. Die mense het probeer om hom aan hande en voete te bind, maar met brute krag het hy die boeie verbreek en is deur die demoon na verlate plekke toe gedryf, weg van die mense wat hom probeer tem het. Voor die Seun van die Allerhoogste God is die bose geeste, wat die man so gemartel het en van hom ’n monster gemaak het, magteloos en vreesbevange.

8:30 Om die man te laat besef dat hy ’n persoon is wat apart van die bose geeste kan bestaan, vra Jesus na sy naam. Sy antwoord wys egter dat hy nie kan losbreek van die bose geeste met wie hy hom geïdentifiseer het nie. Hy noem homself Legioen, waardeur hy aandui dat hy besit word deur ’n horde geeste (’n Romeinse legioen het gewoonlik uit 6000 man bestaan). Die besetene het homself van mense vervreem, ’n sondaar wat homself verloor het omdat hy God verloor het. Hy is sy eie vyand wat nie meer weet wat hy doen nie. Maar toe Jesus die besetene ontmoet, moes die mag van die bose geeste wyk.

8:31 Die bose geeste word nie verban nie, maar onderwerp hulle aan Jesus. Hulle smeek Jesus om hulle tog nie na die bodemlose diepte toe te stuur nie, die plek waar hulle gestraf word volgens die Joodse opvatting (abussos die figuurlike vorm van ‘put’ wat in die Nuwe Testament gebruik word vir ’n baie diep plek waar die bose geeste gevange gehou word, vgl. Openb 20:3). Hulle voorsien reeds iets van wat hulle einde gaan wees (vgl. Matt 25:41). Volgens Markus 5:10: het hulle Hom gesmeek om hulle nie uit die (heidense) gebied te stuur nie.

8:32-33  Twee maal smeek die demone by Jesus: eers om hulle nie weg te stuur nie, en dan om in die varke te vaar. Jesus gee nie ’n opdrag nie, maar sy toestemming. Die doel van demone is vernietiging, en hulle vernietig ’n hele trop varke. Vir die Grieke van hierdie gebied was varke met hulle spek die aangewese offerdiere aan hulle afgode, en het Antiogus Epifanus 300 jaar tevore varke aan Zeus laat offer op die altaar op die tempelplein. Vir die Jode was die eet van varkvleis verbied as onrein (Lev 11:7-8).

8:34 Uit vrees oor die ongewone gebeure met die besetene en die varke vlug die herders en versprei die nuus daaroor in die stad en omstreke.

8:35-37 Die mense wat kom kyk na wat gebeur het, word ook bang toe hulle die geweldenaar aan Jesus se voete sien sit, ten volle gekleed en by sy volle verstand. Maar in plaas daarvan dat hulle Jesus verwelkom as verlosser uit die mag van die demone, vra hulle Hom om hulle gebied te verlaat, waarskynlik oor die verlies van hulle eiendom, die varke, maar ook oor hulle vrees vir hulle gode se reaksie, omdat hulle offers daarmee heen is.

8:38-39 Die legio demone het twee keer deur die mond van die besetene vir Jesus gesmeek (parakaleo om met respek dringend te vra/smeek/pleit): om hulle nie na die bodemlose diepte te laat weggaan nie, en om hulle toe te laat om in die varke in te vaar (8:31-32). Die besetene het in 8:26 voor Jesus neergeval en Jesus, Seun van die Allerhoogste God, gesmeek (deomai – pleit/ in nood vra, in die Nuwe Testament word dit slegs gebruik vir pleidooie tot God) om hom nie te pynig nie, en Jesus het die demone beveel om uit die man uit te gaan; in 8:38 smeek (deomai) die geneesde man om by Hom te bly, maar Jesus stuur hom terug na sy huis toe om alles te vertel (diêgeomai in besonderhede en sistematies oor te dra) wat God vir hom gedoen het. Hy gaan toe en verkondig (kêrusso) deur die hele dorp wat Jesus vir hom gedoen het.

Volgens 4:41 het Jesus in Kapernaum die baie mense uit wie Hy die demone uitgedryf het en geskreeu het dat Hy die Seun van God is, nie toegelaat om te praat nie; waarskynlik vanweë die Jode se valse verwagting van ’n Messias wat hulle met geweld gaan bevry van die Romeinse oorheersing. Hier in die Romeins-Griekse Dekapolis-gebied is daar nie so ’n verwagting nie en is dit belangrik dat Jesus ’n getuie oor die groot dade van God onder die heidene agterlaat. Jesus werk deur sy gelowiges, hier deur sy eerste getuie onder die heidene, die voorloper van al sy gelowiges wat die opdrag het om in sy Naam die vergewing van sondes aan alle nasies te verkondig (Luk 24:47).

Lukas gaan nie verder met die geskiedenis van hierdie man nie. Volgens Markus 5:20 het die man nie slegs in sy stad vertel nie, maar in die hele gebied van die tien stede (Dekapolis) bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. In Markus 7:31 kom Jesus weer in die gebied van Dekapolis. Die mense bring toe ’n doofstomme vir genesing en daarna stroom mense na Jesus waar Hy na ’n daglange prediking ongeveer 4,000 mense voed (Mark 8:9).

image_pdfimage_print

You may also like...