Die Evangelie volgens Lukas: Liefde vir vyande (Luk 6:27-36) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die gedeelte kom nie in Markus voor nie, maar die grootse deel wel in Matteus se bergrede wat op plekke verkort en ander uitgebrei word, en verskillend aangebied word. Die vyande sou wel die Romeine gewees het, maar die interne twiste en partye in Israel was baie vyandig en ook gewelddadig. Agter die gedeelte se saligsprekings en waarskuwings skyn Jesaja 61:1; 57:15-21 en 58:6-12 se oproepe deur.

6:27 Jesus spreek nie net sy dissipels aan nie, maar ‘julle wat na My luister,’ almal daar teenwoordig, maar ook almal  deur die eeue wat sy woord hoor. Die vervolgdes en verdruktes word opgeroep tot liefde wat nie grense het nie, want ook hulle vyande word ingesluit as mense vir wie hulle moet liefhê. Dit is so anders as die Jode se beperking in Levitikus 19:17-18 wat naasteliefde tot jou volksgenoot beperk. Die Griekse woord agape verwys nie na liefde omdat die persoon vir jou aanneemlik is nie, maar omdat jy gekies het om ’n liefhebbende persoon te wees, soos jou Here. Die eerste kenmerk van die nuwe lewe wat Jesus gebring het, is ’n totale ommekeer van die wêreld se waardes. Hier word nie na die ander twee Griekse woorde vir liefde verwys nie: sy volgelinge moet nie verlief raak (eros) op hulle vyande nie, of hulle soos vriende en familie liefhê (filia) nie; maar agape, met ’n genadige, besliste en aktiewe belangstelling in die egte welsyn van die ander, gebaseer op die natuur en aard van God. Liefde vergeld nie (6:27-31), soek nie beloning nie (6:32-36), is nie wraakgierig nie (6:37-38).

In die vorige verse is die onderdruktes genoem die geseëndes deur die Here. Hulle is nou deur Jesus se woord wat die Here se seën aan hulle toegesê het in ’n nuwe verhouding met die Here geplaas. Die nuwe verhouding tot die Here is hier die grond vir ’n nuwe verhouding tot mense, en hulle nuwe verhouding met die mense getuig van hulle nuwe verhouding met die Here. Daarom regverdig die slegte behandeling wat hulle ontvang het, nie hulle haat nie. Dit word in die volgende gedig uiteengesit. Die gedig het ’n stygende lyn: van gesindheid/haat, na woord/vervloeking, na daad/mishandeling.

In plaas van ’n gesindheid van haat, sê Jesus (vgl. ‘Ek’) julle moet dié wat vir julle haat, liefhê; ’n haatvolle gesindheid weerspreek en bestry die goeie daad.

6:28 In plaas van ’n woord van vervloeking wat die medemens van God wil skei, sê Jesus: seën die mens wat vir julle vervloek, want ’n seënwoord verbind die mens met God.

In plaas van iemand te mishandel, sê Jesus: bid vir diegene wat julle sleg behandel, want in die gebed wat uit liefde gedoen word, tree jy by God in vir dié wat jou sleg behandel.

So word jy ook ’n seun van die Allerhoogste saam met Jesus, die Seun van die Allerhoogste  (Luk 6:35; 1:32) in ’n ander soort kindskap. Agape is ’n oproep om saam met Jesus aan God se kant te kom staan teenoor jouself en teenoor ander mense, om hulle te sien soos God hulle in sy onverdiende genadige liefde sien.

6:29 Wat Jesus met liefde selfs vir jou vyand bedoel, word duidelik gemaak met ’n aantal teenstellings/paradokse, wat wys hoe anders geseëndes van die Here optree as Hy hulle deel maak van sy koningskap:

a Die eerste teenstelling praat van die gewone bakleiery op straat of in huise, ens. In plaas van terugslaan, bied jy jou ander wang aan vir ’n tweede  hou. As jy nie deur die bose beheer word nie, probeer jy nie vergeld nie en gee jouself prys, maar oorwin so die bose deur die goeie, soos ons Meester (Rom 12:21; Jes 53:5 ‘deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom’).

b Die tweede teenstelling verwys na ’n roof, waar die rower jou bo-kleed/mantel gryp (hairo vat en wegdra). Vir die arm man was sy mantel sy kombers vir die koue nag. Vir die rower moet jy selfs nie jou onderkleed weier nie, nie jou teen hom verset nie (vgl. Luk 10:30). Vir die arm man is sy bo-kleed sy kosbaarste besitting. Die beroofde se naaktheid behoort die rower te beskaam en is ’n roep om hulp en reg. Ons Here het vir ons naak aan ’n kruis gehang. Jes 53:7: ‘Hy is mishandel maar het geduldig gebly, hy het nie gekla nie.’ Om af te sien van vergelding en verdediging is slegs moontlik deur onvoorwaardelik te vertrou dat God werklik die koning is wat die wêreld in sy hand hou. Die Here stel regerings aan om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4), maar gelowiges is geroep om hulle eie belange op die agtergrond te skuif wanneer hulle te na gekom word (vgl. ook 1 Kor 6:7; Rom 12:17-19).

6:30 Die derde en vierde teenstellings maak die aanwysing om die rower nie teen te staan nie, duidelik.

c Om te gee aan elkeen wat iets van jou vra

d en nie terug te eis (apaiteo) as iemand iets van jou vat, optel en wegdra (hairo) nie.

Dit kan jy doen as jy glo dat alles wat jy het, deur die Here aan jou gegee is (vgl Luk 11:3 ons daaglikse brood en wat jy van die Here gevra en mildelik ontvang het; Luk 11:9-13). As jy verlos is van jou beheptheid met en verknogtheid aan jou eie besittings deur te vertrou op die God wat gee, kan jy iets gee aan elkeen wat iets van jou vra (vgl. 2 Kor 9:6-11), en kan jy afsien daarvan om dit wat van jou gevat is, terug te eis.

Die voorbeelde is so verbasend in die lig van die gewone reëls en gebruike in ons samelewing wat so anders as die Here se pad is. Die sirkelgang van bose werke en die vergelding daarvan word slegs deurbreek deur ’n nuwe soort lewe met nuwe verhoudings. Die opdrag ‘gee’ is in die teenwoordige tyd, wat voortduur aandui. Om te gee en te gee en te gee is ’n spieëlbeeld van ons hemelse Vader wat sy sonskyn en reën gee oor slegte en goeie mense (Matt 5:45). ,

6:31 Die voorbeelde word afgesluit met die Goue Reël (vgl. Matt 7:12): Soos julle wil hê dat die mense vir julle moet doen, doen ook so vir hulle. Wat die mens van ander mense soek is liefde en gemeenskap. Die goue reël is ’n kort stelreël wat die toets is vir jou optrede en dit vat die vooragaande voorbeelde saam as Jesus se opdrag: doen! so aan ander. Dit is Jesus se grondslag vir die menslike samelewing, wat Lukas hier aanbied aan die Hellenistiese wêreld met hulle groot sosiale  probleme, en ook vir almal wat na Jesus luister (Luk 6:27).

6:32 Soos die gedeelte in 6:27-28 begin het met drie teenstellings wat liefde selfs vir die vyand verduidelik het, nl. goed doen aan jou haters, seën dié wat jou vervloek, bid vir wie jou sleg behandel, sluit die gedeelte in 6:32-36 af met drie parallelle voorbeelde:

a om lief te hê wie jou liefhet, word ook deur die sondaars, tipies menslik, gedoen. Dit is niks uitsonderlik nie  maar is op eiebelang gebou, en kan van God geen guns of genade verwag of by Hom daarop aanspraak maak nie.

6:33      b die sondaars doen ook aan mekaar goed om daardeur van hulle medesondaars goed doen aan hulleself te verwag.

6:34      c die sondaars leen ook geld aan mekaar, maar teken die bedrag aan wat hy/sy moet terugkry. Die Griekse woord wat vir uitleen gebruik word (danizo) impliseer dat daar rente bykom. Hulle is aan mekaar gedienstig sonder die risiko van verlies. In die wêreld bepaal doelmatigheid en voordeel eintlik die beginsels waarvolgens ’n mens optree, soos die priester en die Leviet in Lukas 10:31-32. Selfbelang is die dryfveer. Maar gelowiges moet verder gaan.

6:35-36 Die gelowige doen meer as die sondaars deur ook sy vyande lief te hê, goed doen sonder grense, uitgee met die risiko van verlies, veral waar daar geen hoop is om iets terug te ontvang nie, met dieselfde geduld as wat die Here met die mens het. So ‘sal julle loon groot wees en sal julle kinders van die Allerhoogste wees,’ wat sy optrede vertoon in die wêreld en dit verkondig deur hulle optrede. Om sy barmhartigheid uit te lewe is ’n bewys dat Hy jou Vader is.

Die loon word in 6:23 beskryf as die groot beloning in die hemel. As kinders van God ontvang hulle egter nou reeds die genade om soos hulle Vader te word. Hy is barmhartig en goed vir die ondankbares en die slegtes. So moet sy kinders ook barmhartig wees en hulle vyande liefhê. Die koningsheerskappy van God word vertoon deur sy kinders se barmhartige en liefdevolle optrede teenoor hulle vyande, wat vir hulle haat, vervloek en sleg behandel. Jesus is self dié voorbeeld van die kindskap van die Allerhoogste met sy liefde en barmhartigheid teenoor swak en behoeftige mense, en teenoor sondaars!

image_pdfimage_print

You may also like...