Die getuienis oor Jesus Christus (2)

image_pdfimage_print

 All of our failures are prayer failures –  John R. Rice

Die getuienis oor Jesus Christus (2)

In Johannes 5 praat Jesus oor die getuies van sy bediening. Hy noem vier. In die vorige blog het ons na die eerste getuie gekyk – Johannes die Doper. Ons kyk nou na die ander drie.

  • Die werke van Jesus self

Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor my getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het (5:36). Die wonderwerke en tekens getuig van Jesus Christus. Hy doen dit voor die oë van die mense, maar hulle weier om die tekens te sien vir wat hulle was. Die tekens was bedoel om Jesus se identiteit en gesag te openbaar – om te getuig dat Jesus God se Gesalfde en sy Seun is.

 

In Hoofstuk 6 lees ons van die vermeerdering van die brood om 5 000 mans en hulle gesinne te voed. Hierdie is ‘n illustrasie van Jesus se werke. Maar net ‘n dag later lees ons: Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? (6:30). Hulle weier om te sien en leef voort asof niks gebeur het nie.

  • Die Vader self getuig van Jesus

En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê (5:37). In Deuteronomium 4 sê Moses vir die volk dat hulle nie vir God gesien het nie, maar Hom gehoor het. Watter mense het die stem van die lewende God wat uit die vuur uit praat, gehoor soos ons en bly lewe? (Deuteronomium 5:26). God se mense hoor sy stem. Maar: Sy stem het julle nog nooit gehoor nie … En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie (5:37 – 38). Hulle het selfs nie gehoor toe God by Jesus se doop uit die hemel gepraat het nie.

  • Die Skrif getuig van Jesus

Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lig daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie (5:39 – 40). Om die Skrif te ondersoek, is ‘n goeie ding. Tragies egter is dat mense hulle lewe daaraan kan wy en tog nie verlos word nie. Onthou die Skrif waarna Jesus Christus hier verwys, is die Ou Testament. Jesus sê dat die Ou Testament oor Hom getuig. Jy kan nie die Ou Testament lees sonder om van Jesus Christus te lees nie. Mense wat dus die Skrif geken het, moes gereed gewees het vir Jesus se koms – hulle moes Hom verwag het en na Hom verlang het.

Ons moet Jesus in die Ou Testament vind. Die mense in Jesus se tyd het Hom nie gevind nie, want hulle het geweier om Hom daar te vind. Jesus kla hulle aan. Ook Moses, hom wat hulle as hulle gesag aanvaar het, sal hulle aankla: As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want Hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo? (5:46 – 47). Hulle het hulle hoop op Moses gevestig; Moses het sy hoop op die Messias – Jesus Christus – gevestig.

Hierdie vier getuies wat van Jesus getuig is nie verborge nie – dit is daar reg voor ons oë. Hulle getuig, maar die mense (ons) weier om hulle getuienis te hoor en te glo. Ons verraai Hom nie uit onkunde nie, maar omdat ons Hom doelbewus verwerp – ons is blind en doof vir sy getuies.

image_pdfimage_print

You may also like...