Die Groot Geloofswoordeboek: Gawes en vrug van die Gees

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Gawes en vrug van die Gees

Verbygaande gawes?

Dit gaan hier oor die gawes waarvan ons veral in 1 Korintiërs 12 lees, en die vrug van die Gees (Gal 5:22-23). Daar was vir baie lank in die historiese kerke groot teologiese ver­skille of die Gees­tesga­wes in die geheel nog voorkom. Veral onder sommige Gereformeerdes was daar ‘n sterk saak uitge­maak vir die sogenaamde “Streepteolo­gie”, die oortuiging dat die gawes net vir ‘n tyd lank bedoel was en daarna verdwyn het. Daar is veral na 1 Korintiërs 13:10 verwys: “Maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.”

In die voorafgaande vers stel Paulus die gawes as tydelik teenoor die liefde wat ewig is. Profesie en kennis het net beperkte waarde. Dit sal vergaan “wanneer die volledige kom”. Hierdie uitspraak bied natuurlik ‘n ideale geleentheid om die gawes as verbygaande en minderwaardig teenoor die vrug (liefde) te stel. Die vraag wanneer die gawes dan sou ophou, wanneer “die volledige” kom, is verskillend beantwoord, maar die bekendste is seker dat die “volledige” die volledige Bybel is, dus die tyd toe die kanon vasgestel is, wat so ongeveer in die vierde eeu was. (*Kanon) Daar is dan ook allerlei getuienisse aangebied wat sou bevestig dat die gawes juis in daardie tyd opgehou het, en daarom het sekere denominasies die gawes waarop veral die *Pinkster- en Charismatiese Kerke hulle beroep, sterk onder ver­denking gestel.

Dit is egter een groot misverstand. “Die volledige” wat kom, is die nuwe tydperk wat met die wederkoms van Jesus aanbreek. Dit sal die tyd van die volmaaktheid wees. Dan sal ons nie meer in ‘n dowwe spieël kyk nie, “maar alles sien soos dit werklik is”, dan sal ons nie meer net gedeeltelik ken nie, maar “ten volle”, soos God ons ten volle ken. Daar is nêrens enige sprake daarvan dat hierdie ga­wes sou ophou wanneer die kanon vasgestel is nie. En daar is nêrens in die Bybel enige aanduiding dat ons nie tot by die wederkoms die gawes sal nodig hê nie. Die waarde wat die gawes het, om die ge­meente op te bou, bly nodig solank die gemeente opgebou moet word. En dit is tot by Christus se koms.

 

Vrug én gawes

Daar was egter ook ‘n ander misverstand, naamlik dat ons ‘n keuse het: óf die gawes, óf die vrug. En juis omdat dit duidelik die ga­wes is, veral die tale, wat die spanning in die gemeente van Ko­rinte veroorsaak het, kies denominasies dan liewer die vrug: die liefde, vriendelikheid, getrouheid, ensovoorts. Maar ook dit is ‘n misverstand. Die gawes en die vrug vorm saam die wyse waarop die gemeente moet funksioneer.

Die gawes van die Gees is die gawes wat die Gees aan lidmate gee om mekaar te bedien. Die vrug van die Gees is die atmosfeer wat die Gees in die gemeente skep sodat die gawes goed en reg sal werk. As lidmate mekaar sal liefhê en nederig teenoor mekaar sal wees (die vrug), sal een se gawe hom of haar nie hoogmoedig maak of die ander jaloers nie.

 

Verskille tussen gawes en vrug

Daar is interessante verskille tussen die gawes en die vrug. Elke lidmaat kry een gawe om al die ander daarmee te bedien, maar elke lidmaat kry al die “dele” van die vrug, dus die volle vrug of lewensingesteldheid wat hom of haar in staat stel om die ander met sy of haar gawe te bedien. ‘n Mens kan nie die vrug in klein deeltjies opdeel (die een kry liefde, die ander vriendelikheid, die ander geduld) nie. Daarom is daar ook nie sprake van vrugte nie, maar vrug (enkelvoud). Dis ‘n pakket, miskien soos ‘n tros druiwe wat baie korrels het, maar een tros is. Die vrug van die Gees het ook nie ‘n direkte verband met ‘n mens se natuurlike aanleg nie, want almal kry dieselfde pakket. Elke gelowige kry dieselfde vrug in sy totaliteit: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goed­-hartig­heid, getrouheid, nederigheid, self­beheersing” (Gal 5:22-23; 1 Kor 13). Die vrug is die manier waarop, of die infrastruktuur waar­mee, gelowiges in staat is om mekaar te bedien met die gawe wat die Gees hulle gee. Daarteenoor kry elke lidmaat een gawe waarmee hy of sy dan die res van die gemeente moet bedien (1 Kor 12; Rom 12; Ef 4; 1 Pet 4).

 

Die interafhanklikheid van gawes en vrug

‘n Paar sake word hierdeur duidelik. Allereers kan ons nie kies tussen die vrug of die gawes nie. Beide is noodsaaklik om­dat die een van die ander afhanklik is. Jy kan nie ander met jou gawe bedien as jy nie vol liefde, vriendelik, geduldig, ne­de­rig, ensovoorts is nie. Dis mos presies die probleem wat daar in Ko­rin­te was. Hulle het wonderlike gawes gehad, maar hulle was jaloers op mekaar en die een het gedink hy of sy is be­lang­riker as die ander. Liefdeloosheid, hoogmoed en selfsug was hulle lewens­ingesteldheid, in plaas van liefde, nederigheid en goed­har­tigheid.

Aan die ander kant kan die vrug ook nie sy werk doen sonder die gawes nie. ‘n Gemeente kan nie goed werk sonder die gawes nie. Om vriendelik en vol liefde en nederig teenoor mekaar te wees skep ‘n wonderlike atmosfeer en beteken baie vir elke lid, maar dit vervul nie al die behoeftes van die lidmate en die ge­meente as geheel nie. Ons het wysheid nodig om moeilike besluite te kan neem; liefde help nie baie daarvoor nie. Ons het genesing nodig as ons siek is; vriendelikheid help nie. Ons het die onderskeiding van geeste nodig as ons moet besluit of mense eg is of nie, en profesie as ons wil weet in watter rigting die gemeente moet ontwikkel, en leiding om dan in daardie rigting te gaan.

Net soos in die geval van die vrug hou natuurlike aanleg nie altyd verband met die gawes nie. Die Gees gee die gawes soos Hy wil, Hy versterk nie net my natuurlike aanleg nie.  ‘n Ander verskil is dat die vrug meer permanent is terwyl die gawes meer gebonde is aan die situasie. Dis alreeds opvallend dat die gawes baie verskil in die paar lyste in die Nuwe Testa­ment. Daar is maar min ooreenkoms tussen die lang lyste van Ro­mei­­ne 12 en 1 Korintiërs 12. Waarom? Paulus skryf in 1 Korintiërs dat die Gees die gawes uitdeel soos Hy wil sodat dit vir almal tot voordeel kan wees (1 Kor 12:7, 11). Dit gaan dus afhang van die bepaalde gemeente en die lidmate se behoeftes watter gawes die Gees sal gee.

Daar is dus nie ‘n geslote lys gawes soos daar presies tien gebooie is nie. Die Gees deel uit soos Hy weet die behoeftes in ‘n bepaalde gemeente is. Dit beteken verder dat daar in nuwe situasies nuwe gawes nodig kan wees en dat sekere gawes in ‘n bepaalde situasie nie nodig is nie.

 

Is sekere gawes belangriker as ander?

Dit bring ons ook voor die vraag of sekere gawes belangri­ker is as ander. Die probleem in Korinte was juis dat sekere gemeentelede wat tale as gawe ontvang het, gedink het hulle gawe is belangriker as die ander s’n. Dit spreek teen die gedagte dat sekere gawes belangri­ker is as ander. Trouens, Paulus be­klemtoon juis dat dié ledemate van die liggaam wat die swakste lyk, juis noodsaaklik is (12:22). Dit lyk wel of hy later profesie belangriker ag as tale, maar dit is ‘n misverstand. Dis juis tale wat in Korinte die probleme veroorsaak het. En nou skryf Paulus dat in daardie situasie profesie belangriker is as tale. Dit is nie ‘n beginsel nie. Daarom kan hy ook skryf dat as die tale uitgelê word, dit net so belangrik soos profesie is (14:5), en kan hy net daarná profesie, openbaring, kennis en lering almal op dieselfde vlak plaas (14:6).

Maar as die gawes dan gelyke waarde het, en dit slegs die be­hoefte in die gemeente is wat sommige soms nodiger maak as ander, waarom dan die opdrag in 12:31: “Lê julle toe op die beste genadegawes”? Dit impliseer tog duidelik dat sommige be­langriker is as ander. Dit is ‘n vraag of dit ‘n goeie vertaling is van hierdie teks. Die Griekse werkwoord kan óf ‘n bevel óf ‘n stelling wees. Dus óf: “Lê julle toe op die beste genadegawes” (‘n bevel), óf: “Julle lê julle toe op die beste genadegawes” (‘n stelling). Pas die tweede vertaling nie die verband beter nie? Waarom?

Allereers omdat Paulus nie sommige gawes bo ander stel nie, maar juis almal gelyk stel. Waarom sal hy juis aan die einde van die hoofstuk waarin hy daartéén skryf dat sommige die gawe van tale belangriker ag as ander, eindig met die opdrag om die beste gawes te soek?

Maar verder omdat dit beter aansluit by die volgende verse. Na die hoofstuk waarin hy geskryf het teen die hoogmoed oor tale, wys hy die beste weg aan om die gawes te hanteer (13:1 ev): met die gesindheid van die vrug van die Gees: liefde, vriendelik­heid, nederigheid, ensovoorts.  Hierdie vertaling sou dan beteken dat Paulus verklaar dat die Korintiërs die “beste gawes” najaag, maar daarteenoor dan stel dat daar ‘n beter manier is: om die vrug van die Gees te soek (liefde) sodat die gawes op die regte manier in die gemeente kan funksioneer.

 

Gawes én vrug kom van die Gees

Die heel belangrikste saak in verband met die vrug én die gawes is die feit dat dit die vrug van die Gees en die gawes van die Gees is. Dit is nie ek wat al vriendeliker en al geduldiger moet probeer word nie. Dis nie my vrug, die vrug van my inspanning nie, dis die Gees se vrug in my lewe. Ek vra dit in die geloof, Hy gee dit, en ek doen dit dan deur sy krag. Net so die gawes. Dis sy gawes wat Hy gee aan wie Hy wil. Daarom soek en vra ek ook nie ‘n spesifieke gawe nie. Ek soek die Gees in sy volheid, en Hy bepaal watter rol ek in die gemeente moet speel. (*In Christus)

Die gawes werk op sy beste in ‘n kleiner groep: die huiskerk of kleingroep of selgemeente. Dáár kan elke gelowige al die ander bedien met sy of haar gawe. In ‘n byeenkoms van honderde men­­se werk gawes natuurlik ook, maar in ‘n baie beperkte sin. Net ‘n paar mense kan optree in ‘n byeenkoms van honderde mense.

‘n Mens moet onthou dat die “gemeentes” aan wie Paulus skryf, uit een of meer huisgemeentes (*Selgemeente) bestaan het. ‘n Huis­gemeente was so om en by vyftien mense. Wanneer so ‘n ge­meen­­te meer as twintig geword het, moes die eerste “afstigting” plaas­vind. Daar was nie vertrekke in hul huise waarin meer as so twin­tig mense kon vergader nie. Dit verklaar dadelik die feit dat daar omtrent vyftien gawes genoem word. Elke lid kry ‘n gawe om al die ander mee te bedien. Die klein getal help ‘n mens ook om te ver­staan hoe dit gewerk het. Ons weet ‘n paar honderd mense kan me­kaar nie individueel met hul gawes bedien nie. Dit sal óf in chaos ver­ander, óf ure lank duur. En daar is nie soveel verskillende gawes nie. Maar om­trent vyftien mense kan me­kaar wonderlik bedien. Dit is ook eint­lik hoe gemeenskap op ‘n persoonlike vlak beoefen kan word. Hon­derde mense kan nie persoonlike gemeenskap met me­kaar beoefen nie. Maar vyftien mense kan regtig hul lewens met me­kaar deel. (*Kleingroepnagmaal)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König

image_pdfimage_print