Die Groot Geloofswoordeboek: Hervorming

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Hervorming

Hervorming/Reformasie • Anglikaanse Kerk

Die woorde “Hervorming” (Kerkhervorming) en “Reformasie” is wis­selterme vir die groot beweging in die sestiende eeu toe daar sterk protes (Protestante) gekom het teen sekere praktyke en leerstellings in die Katolieke Kerk. Leidende figure was onder an­­de­re Martin Luther, Johannes Calvyn, Ulrich Zwingli en Mar­tin Bucer. Die datum wat gewoonlik as die begin van die Kerk­her­vorming aangegee word, is 31 Oktober 1517, die dag waarop Luther sy 95 stel­lings teen die Katolieke Kerk se leer en praktyk teen die kerkdeur van die katedraal in Wittenberg vasgespyker het.

Verskillende kerke en kerkgroepe is uit dié beweging gevorm:

•             Die Lutherse Kerk (hoofsaaklik in Duitsland).

•             Die Gereformeerde Kerke (in Holland, Switserland, Frankryk, wat hoofsaaklik Calvyn gevolg het).

•             Die Presbiteriaanse Kerk in Skotland (wat ook hoofsaaklik Calvyn nagevolg het).

•             Die Wederdopers of Anabaptiste wat oor die *kinderdoop van die ander Protestantse kerke weggebreek het en net die *groot­doop beoefen het. Uit hierdie groepe het later die ver­skil­lende Baptistekerke gegroei.

•             Die Anglikaanse Kerk het as deel van die Hervorming in Enge­land ontstaan. Daar is heelwat insigte van Calvyn opgeneem, maar die vorm van die erediens het formeler en nader aan die Ka­to­lieke Kerk s’n gebly. Die Book of Common Prayer is ken­merkend van die Anglikaanse Kerk. Die ontstaan van die kerk het met heelwat politieke woelings gepaardgegaan en dit het uiteindelik die staatskerk in Engeland geword, waaraan die koninklike familie nog behoort. Die koningin is die hoof van die kerk.

•             Die Metodistekerk het in Engeland uit die Anglikaanse Kerk gekom.

 

Die leer van die Kerkhervormers het in ‘n paar sterk slag­spreuke ontwikkel:

Net Christus (solus Christus)

Net uit genade (sola gratia)

Net deur geloof (sola fide)

Net die Woord (sola scriptura)

 

Al hierdie kernoortuigings het gestaan teenoor bepaalde Ka­tolieke leerstellings wat die Protestante/Hervormers as dwalings beskou het. Hulle beklemtoning van Christus, *genade en *geloof het gestaan teenoor die Katolieke Kerk se nadruk op die on­ont­beerlikheid van goeie werke. In die algemeen is aanvaar dat die Ka­tolieke geleer het dat jy met jou *goeie werke ‘n bydrae moet maak om gered te word. (*Goeie werke) Volgens die Protestante sou dit be­teken dat Christus se kruisdood nie genoeg was om ons te red nie. Daarom het die Protestante met krag daarteenoor gestel dat Chris­tus genoeg gedoen het om ons te verlos, dat ons daarom net uit sy goedheid/genade gered word en nie omdat ons iets bydra nie, en dat ons dus net moet glo om gered te word en nie ‘n bydrae hoef te maak deur goeie werke nie.

Daar is twee dinge wat nie misverstand moet wek nie. Die een is dat geloof dan vreeslik baie werd moet wees, selfs meer as goeie werke. Die teendeel is egter waar. *Geloof het geen eie waarde nie. Die Kerkhervormers het selfs van geloof as “leeg” gepraat. Om in Jesus te glo beteken om te erken dat ek niks kan doen om myself te red nie, dat ek dus leeg is, dat ek heeltemal op Hom aangewese is, dat alles net van Hom af moet kom. Geloof is die leë hand wat ek uitsteek om deur Christus gevul te word.

Die tweede misverstand is dat goeie werke dus nie belangrik is nie. Immers, ons word net uit genade en net deur geloof gered, en dus nie deur goeie werke nie. Dit is volkome waar, maar dit beteken net dat goeie werke nie ‘n bydrae tot ons redding lewer nie. Maar goeie werke is onontbeerlik as deel van ons dankbaarheid. En as ons nie ware dankbaarheid vir ons verlossing toon nie, is dit goed moontlik dat ons nie regtig gered is nie. Dieselfde Calvyn wat met nadruk gesê het dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, het ook gesê dat ons nie sonder goeie werke gered word nie. As ons lewe nie verander nie, is dit ‘n teken dat ons nog nie waarlik glo nie.

Vandag meen baie teoloë dat daar misverstande in die stryd tus­sen die Katolieke en die Protestante was. Nasate van die Protestan­te kan in elk geval nie meer so maklik van die *pous as die *antichris praat nie, iets wat sommige van die Her­vor­mers nogal gedoen het. Maar daar bly nog altyd sekere ernstige verskille oor, veral dié oor *Maria en oor die onfeil­baarheid van die *pous.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...