Die Groot Geloofswoordeboek: Sonde en genade

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Sonde en genade

Sonde en genade Skepping-sondeval-verlossing Wet en evangelie Koninkryk Verbond

Verskillende groepe het elk hul eie kernbegrippe (sleutels) waar­mee hulle die Bybel probeer “oopsluit”.

Ons het hier vyf sulke sleutelbegrippe of grondmotiewe. Dis veral die *Evangelicals (“Evangeliese Christene” gee nie die teg­nie­se term goed weer nie, maar word dikwels daarvoor ge­bruik) wat “sonde en genade” gebruik terwyl die Gereformeerdes die By­bel probeer oopsluit met die sleutel “skepping-sondeval-ver­los­sing”. Die Lutherane kies weer “wet en evangelie”. Intussen is daar teo­loë wat verkies om die begrip “koninkryk” te gebruik, en ander weer “ver­bond”. Ek self kies vir verbond.  Hierdie keuses is egter nie noodwendig eksklusief (uitslui­tend) nie. Sonde en genade staan nie noodwendig so ver van skep­ping-sondeval-verlossing af nie, en koninkryk en verbond kan ook goed saam funksioneer.

Kom ons kyk hoe sluit hierdie begrippe die Bybel oop. Let op hoe die sentrale begrippe oor en oor gebruik word.

 

Sonde en genade

Sonde en genade interpreteer die hoofsake van die evangelie on­geveer op die volgende manier: Die mense is sondaars wat net van genade kan leef. God veroordeel ons sonde, maar Hy is die genadige God wat graag genade aan ons wil bewys. Hy gee Christus as die konkrete uitdrukking van sy genade sodat ons sonde uit genade ver­soen en vergeef kan word. Die Heilige Gees oortuig ons om hierdie genade-aanbod van God te aanvaar en ons sonde te bely. Dan word ons be-genadig-de sondaars, wat uit genade die ewige lewe van God ontvang. Ons taak is om die genade van God in Christus aan sondaars te verkondig.

Ons het nou in terme van sonde en genade gepraat oor God, die mense, die werk van Christus, die werk van die Gees, die kerk en die sending. Dit is die nadruk van die meeste Evangelicals.

 

Skepping-sondeval-verlossing

Skepping-sondeval-verlossing is die keuse van die Gere­for­meerdes. Hulle is oortuig hierdie sleutel is breër en omvattender as sonde en genade omdat dit skepping byvoeg. Dit gaan in die evangelie nie net om sonde en genade nie, maar ook om die skepping wat God gemaak het en onderhou. Dit beteken dat die leer van God se voorsienigheid hier beter na vore kom. God red nie net sondaars uit genade nie, Hy het hulle ook gemaak en Hy sorg ook só vir hulle dat lewe op aarde moontlik bly al word nie almal gelowiges nie. Dit beteken nie dat die Gereformeerdes die waar­de van sonde en genade as sleutels sal ontken nie. Hulle wil net ‘n breër perspektief op God se werk bied. Hulle sal dus ook in die samelewing betrokke wil wees om God se wil in die wêreld te bepleit en te bevorder.

 

Wet en evangelie

Wet en evangelie is die sleutel van die Lutherane. Vir die meeste lesers van hierdie boek sal dit baie onbekend wees. Dit werk egter baie soos sonde en genade.

 

Koninkryk

Die begrip “koninkryk” word ook deur sommige Ge­reformeerdes as ‘n sleutel gebruik. God is die Koning wat alles gemaak het. Sy koninkryk is daar waar sy koningskap erken word en sy wet ge­hoorsaam word. As die Koning het Hy gesag oor ons en die reg op ons gehoorsaamheid. Ons is sy onderdane wat sy gesag moet erken en aan Hom gehoorsaam moet wees. Hy het sy wet gegee as die norm waarvolgens ons moet leef, en om die wet te oortree is om sonde te doen. Omdat Hy die koning is, het Hy die reg en die mag om oor ons te besluit. Daarom kan Hy besluit aan wie Hy genade wil betoon en aan wie nie (die uitverkiesing). Gelowiges is geroepe om sy wet te hou. Die kerk moet aan die wêreld wys hoe lyk ‘n gemeenskap wat aan Hom gehoorsaam is. Sy wet moet op alle terreine van die samelewing gehoorsaam word.

Hierdie sleutel sluit die evangelie nie veel anders oop as die skepping-sondeval-verlossingsmotief nie. Dit gaan ook in hierdie geval daaroor dat Christene hul invloed sal gebruik om die sa­me­lewing te verchristelik en die mense aan die wet van God onderda­nig en gehoorsaam te kry.

 

Verbond

“Verbond” is nog so ‘n sleutel. God is die Verbonds­god wat mense met liefde aan Hom wil verbind. Hy het die aarde gemaak as die plek waar Hy in liefdesgemeenskap met ons wil leef. Sy belofte is: Ek sal julle God wees, en julle sal my volk wees. Hy het die ini­sia­tief geneem en hierdie verbond met Abraham gesluit. Hy het uit Abraham ‘n volk laat groei om in hulle midde in Pale­sti­na te leef en hulle met sy seëninge te oorlaai. Hulle sonde het hulle egter van Hom vervreem en sy oordeel oor hulle gebring.

Maar sy liefde is sterker as sy oordeel en daarom het Hy Chris­tus gestuur om deur sy versoeningswerk die vervreemding op te hef en die mensdom weer in gemeenskap met Hom te bring. Die kerk is die versoenende gemeenskap wat in verbondenheid aan God leef, en hulle het die opdrag om mense te oortuig dat God hulle so liefhet dat Hy die grootste offer denkbaar gebring het om hulle te oortuig om hulle vyandskap teen Hom te laat vaar en in liefdesverbondenheid met Hom te leef.

Op die nuwe aarde sal God tussen die mense kom bly en on­afskeidelik aan hulle verbonde leef. Alle vervreemding sal weg­geneem wees, en die hele nuwe mensdom sal sy gemeenskap geniet en Hom uit liefde dien.

So werk hierdie “sleutels” waarmee mense die Bybel “oop­sluit”. En dit is nie nodig om juis net met een te werk nie. Soms het ons hierdie nadruk in die evangelie nodig, en soms weer ‘n ander. Die meeste mense is ook nie so duidelik bewus van watter sleutel hulle gebruik nie. Sommige gebruik selfs kombinasies van verskillende sleutels.

 

Sonde teen die Heilige Gees Onvergeeflike sonde

Sonde teen die Heilige Gees (Matt 12:31 ev), wat ook die “on­ver­geef­like sonde”, en deur Johannes die “sonde tot die dood” (1 Joh 15:16-17) genoem word, is ‘n besonder moeilike saak. Die groot pro­bleem is dat dit lyk of daar ‘n sonde is wat te groot is om vergewe te word terwyl ons oortuig is dat Jesus genoeg gedoen het om al die sonde van die hele wêreld te versoen. Het Hy dan nie regtig genoeg gedoen nie? Was sy offer nie voldoende nie? Reinig die bloed van sy Seun ons dan nie van álle sondes nie? (1 Joh 1:7)

Hierdie “onvergeeflike sonde” word gewoonlik die “sonde teen die Heilige Gees” genoem, maar in Hebreërs word dit ook na die Seun uitgebrei (6:6; 10:29) sodat dit nie net ‘n sonde teen die Gees is nie, maar ook teen Christus. Uit Matteus en Hebreërs word gewoon­lik twee kenmerke van hierdie sonde afgelei.

Dis opsetlik

Dit word beklemtoon in Hebreërs 10:26: “Wan­neer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ont­vang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie.” Volgens Matteus doen Jesus ‘n wonderwerk wat duidelik die werk van die Heilige Gees is, en dan skryf die Fariseërs dit aan die opperste duiwel toe. Dit is opsetlike sonde, ‘n opsetlike, kwaad­willige ar­gument omdat hulle nie wil erken dat Jesus deur God gestuur is nie. Immers, dit is duidelik genoeg dat die duiwel nie sy eie ryk sal vernietig nie (Matt 12:22 ev).

Dis radikaal

Veral Hebreërs 6 beklemtoon dat die persone van wie gesê word dat dit onmoontlik is om hulle weer tot bekering te bring, alreeds die evangelie goed geken en beleef het (6:4-5). So ‘n persoon verwerp dan nie maar net die evangelie nie, maar maak dit be­spotlik (6:6; 10:29).

‘n Mens kan egter vra of dit regtig die saak is waarom dit gaan. Baie ander sondes is opsetlik en radikaal. Is dit nie eerder die aard van hierdie sonde wat dit uitsonderlik maak nie? Hierdie persoon verwerp die enigste offer wat daar vir die sonde is (10:26). Die persoon verwerp dus die redding wat God aanbied. Wie die offer van Chris­tus minag, kan nie gered word nie, nie omdat die genade van God nie groot genoeg is nie, maar omdat daar geen ander ma­nier is om gered te word as hy of sy die (groot) genade verwerp nie.

Dit bring ons by ‘n tweede saak, en dit is dat dit hier om ‘n waar­skuwing gaan, nie om ‘n beskuldiging nie. Jesus beskuldig nie die Fariseërs dat hulle dié sonde gedoen het nie, Hy waarsku hulle daar­teen. In die Hebreërbrief is dit ook ‘n waarskuwing (10:26-31) wat telkens eindig met die versekering dat die skrywer oortuig is sy le­sers het dit nie gedoen nie (6:9 ev; 10:39). Dit sou dus ‘n misbruik van hierdie gedeeltes wees om iemand (jouself of iemand anders) te be­skuldig van hierdie sonde. Dit is ‘n waarskuwing.

Juis daarom is dit verkeerd om te vra of sulke sonde dan glad nie vergeef kan word nie, selfs as ‘n persoon berou daar­oor het en weer die offer van Christus wat hy of sy verwerp het, aan­vaar en op Hom vertrou. Dit is ‘n waarskuwing, nie ‘n be­skuldiging nie. Wie op Jesus Christus vertrou, sal gered word.

Al sou iemand nie hierdie verklaring aanvaar nie, is dit no­g­tans ‘n misverstand om te meen dat Hebreërs 6 leer dat ‘n gelowige weer verlore kan gaan. Dit mis die hele punt. As die skrywer wou sê ‘n gelowige kan verlore gaan, kon hy dit in ‘n paar woorde gesê het. Maar die blote feit dat hy ‘n hele lys dinge noem wat die per­soon reeds beleef het (v 4, 5), beteken dat hy wil beklemtoon dat die persoon alreeds baie beleef het, maar nog nie regtig tot geloof gekom het nie. Dit is ook die punt van die beeld van die grond wat wel goed reën gekry het (die evangelie gehoor het), maar nie vrugte voortgebring het nie (die vrug van bekering, 6:7-8).

 

Sondeloosheid van Christus

“Sondeloosheid van Jesus” beteken dat Hy nooit gesondig het nie. Daarvoor is daar sterk getuienis in die Bybel: “Hy was im­mers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie” (Heb 4:15). Jesus daag ook die godsdienstige leiers uit: “Wie van julle kan sonde by My aanwys?” (Joh 8:46). Sy sondeloosheid is die rede waarom Hy in ons plek voor God kon staan, ons sonde op Hom kon neem, en die offer vir ons sonde aan God kon aanbied (Ef 5:2).

Daar is egter twee verskillende sienings oor sy sondeloos­­heid. Die een is dat Hy nie kon sondig nie; dit beteken dat Hy nie in staat was om te sondig nie. En die ander is dat Hy wel kon sondig, maar nooit gesondig het nie.

Met die eerste oogopslag lyk die eerste standpunt baie eer­biedi­ger teenoor Jesus. Dit lyk na groter respek vir Hom. Hy is Goddelik, en God kan tog nie sonde doen nie. Hy is een­voudig op ‘n ander vlak. Die meeste Christene kies dan ook ge­woonlik vir hierdie standpunt.

‘n Mens kan egter vrae hieroor vra. Juis die sin wat ons uit Hebreërs aangehaal het en wat uitdruklik sê dat Hy nie gesondig het nie, begin met: “Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp.” Kon Hy regtig net soos ons versoek ge­wees het as Hy nie kon sondig nie? Die punt in die vorige deel van hierdie vers is juis dat Hy ons ken en verstaan sodat ons met vrymoedigheid met ons probleme na Hom kan gaan. Maar verstaan Hy regtig wat dit vir my beteken om versoek te word as Hy glad nie aan versoekings kon toegee nie?

Trouens, vroeër in hierdie brief lees ons: “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb 2:18, 1953-vertaling, vgl ook New International Ver­sion). Die rede waarom ek Hom kan vertrou, waarom Hy met my swakhede medelye kan hê, is juis omdat Hy self gely het onder versoekings. Maar hoe kon Hy werklik gely het onder versoekings as dit geen invloed op Hom kon hê nie? Dan het Hy eenvoudig van bo af daar­op neer­ge­kyk en het Hy geen ervaring van my swakheid en nood nie. Dit beteken dat die standpunt dat Jesus glad nie kon sondig nie, Hom in werklikheid los van my laat staan as ‘n supermens wat geen begrip van my probleme met sonde het nie. Dit word dus ‘n harde standpunt.

Dit pas ook nie regtig by die verhaal oor sy versoeking deur die duiwel in die woestyn nie (Matt 4:1-11). Waarom sou die duiwel al die moeite doen as Jesus glad nie kon sondig nie? En wat is die sin daarvan dat die Gees Hom die woestyn inlei om deur die dui­wel versoek te word? Dis tydmors. Hy kan nie sondig nie, wat ook beteken die feit dat Hy nie aan die versoekings van die duiwel toegee nie, maak geen punt nie. Almal het voor die tyd al geweet die uitkoms kan nie anders wees nie. Maar dan was dit mos geen oorwinning nie.

En juis dit bring ons by die vreugde en die troos in die stand­punt dat Hy inderdaad kon gesondig het en juis nie gesondig het nie. Dit beteken die feit dat Hy nie aan die duiwel se versoe­kings toegee nie, is ‘n heerlike oorwinning. Maar die feit dat Hy werk­lik gely het onder die versoekings beteken ek kan weet Hy besef wat my stryd is, Hy het volle simpatie met my. Hy staan naby my. Ek kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan. En dit is presies hoe die deel in Hebreërs 4:18 afsluit: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon … ” Hy het self onder versoeking gely, Hy sal my kan help.

Die vraag bly nog staan: Hoe is dit moontlik dat Jesus, wat mens én God was, in staat was om te sondig? God kan tog nie sondig nie.

Eerstens moet ons onthou dat Jesus wel ‘n Godde­like natuur ge­had het, maar nie as God op aarde rondgeloop en opgetree het nie. (*Goddelikheid van Christus) Die Fariseërs het nie vir God voor hulle sien staan toe hulle Jesus raakgeloop het nie. Hulle kon selfs vernederend met Hom praat. Hulle noem Hom by geleentheid selfs ‘n vraat en ‘n wynsuiper (Luk 7:34). Hulle sou dit voorwaar nie vir God gesê het nie. Hulle het Jesus beleef as ‘n jong Jood wat ge­weldige aansprake gemaak en won­derwerke gedoen het, en hulle het getwyfel aan sy oorsprong. Hulle het Hom nie beleef as meer as ‘n mens nie.

Dit bring ons by die tweede saak: Jesus se Goddelikheid en mens­likheid het nie op dieselfde vlak gelê nie. Daar is sterk aan­duidings dat sy Goddelikheid as’t ware nie voluit gefunk­sio­neer het nie, al het Hy dit nie prysgegee nie. Die beroemde uitspraak is Filippense 2:6-7 waar ons lees dat toe Hy aarde toe gekom het, Hy Hom nie vasgeklem het aan sy Goddelikheid nie, maar Homself verneder het deur die gestalte van ‘n mens aan te neem. Die 1953-vertaling lui Hy het Homself ontledig van sy Goddelikheid. Daar is baie verskille oor die betekenis van hierdie uitspraak van Paulus, maar ‘n mens sal moeilik kan ontken dat dit tenminste beteken dat Hy nie in die eerste plek as God geleef het nie, maar as ‘n mens.

Dit rym ook met ander uitsprake. Hy verklaar self die Vader is groter as Hy en dat die Seun van die mens nie alles weet nie (Joh 14:28; Matt 24:36). Verder weet ons dat Hy aan die kruis gesterf het, iets wat ons ook moeilik met sy Goddelikheid in verband kan bring. (*Twee nature van Christus) Onthou ook dat Hy sy wonderwerke deur die krag van die Vader doen, en nie op sy eie nie (Joh 11:40-44, waar Hy uitdruklik verklaar dat die wonderwerk die openbaring van die mag van God sal wees, en dan die hulp van God inroep).

Die standpunt wat aanvanklik vreemd gelyk het, is dus tog dalk die beste. Dit bring Jesus baie nader aan ons, en dit laat meer Skrifgegewens tot hul reg kom as Hy wel kon gesondig het, maar elke keer die oorwinning behaal het oor die versoekings. Dit gee my ook die moed dat ek in staat is om deur die krag van sy Gees die versoekings op my pad te oorwin. Ek het mos deel aan sy verheerlikte lewe. (*Doop)

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...