Die Handelinge van die Apostels: Stefanus word gevange geneem (Hand 6:8-15) – Francois Malan

image_pdfimage_print

6:8 Lukas beskryf hier die geskiedenis van een van die diakens, van Stefanus, wat met sy marteldood eindig. In Handelinge 6:5 is hy reeds beskryf as ‘vol van geloof en die Heilige Gees’ – dat die Heilige Gees in hom ’n sterk geloof in Jesus geskenk het en dat sy lewe getuig het van die werking van die Gees in sy lewenswyse wat deur almal gesien kon word. Hier word daarna verwys. Sy lewe was ’n getuienis van die Heilige Gees se genadewerking in en deur hom, dat hy met die krag van die Heilige Gees groot wonders en tekens onder die volk verrig het, soos die apostels (2:43; 5:12). In 4:30 word dit uitgespel as ‘tekens en wonders deur die Naam (= Persoon) van u heilige Dienskneg Jesus.’ Die groot wondertekens verwys waarskynlik na baie gevalle waar Jesus deur Stefanus siek lede van die volk in Jerusalem gesondgemaak het en van die Griekssprekende Joodse weduwees op wonderbaarlike wyse versorg het, deur Stefanus as sy instrument.

6:9 ‘Hulle het opgestaan (= begin) om teen Stefanus te redeneer…’ en tussenin word vertel wie hulle almal was. Dit was waarskynlik almal ongelowige Helleniste, Jode wat Grieks gepraat het, en nie Hebreeus of Aramees nie, en benewens die tempel hulle eie sinagoge gehad het. Tydens die ballingskap en die diaspora (verspreiding) van die Jode oor die hele Romeinse ryk, het Jode in die stede waar hulle gewoon het, begin bymekaarkom in sinagoges wat hulle gebou het, waar veral onderrig aan die Jode gegee is, ook aan hulle kinders, en op die Sabbat byeenkomste gehou is. In Jerusalem was daar so ’n sinagoge of sinagoges. Dit was juis weduwees wat uit dié Griekssprekende groepe tot geloof in Jesus gekom het en kom kla het dat hulle met die daaglikse versorging deur die gemeente oor die hoof gesien is. Stefanus kon moontlik ook uit hierdie groep gekom het. Hier is sprake van die sinagoge van die Libertyne, soos dit bekend gestaan het – Dit is ’n Latynse naam vir ’n groep Jode wat slawe was maar later vrygelaat is. As dit ’n slaaf was wat ’n Romeinse burger se eiendom was, kon hy by vrylating ook Romeinse burgerreg ontvang het. Daar was ook Griekssprekende Jode uit die provinsie Sirene in Afrika (vgl. Simon van Sirene wat Jesus se kruis moes dra, Mark 15:21), en uit Alexandrië in Egipte waarheen Jode reeds in Jeremia se tyd gevlug het (Jer 43:1-7; 560 v.C.). Verder was daar Griekssprekende Jode uit die provinsie Silisië (in Klein-Asië waarvandaan Paulus gekom het, Hand 23:34) en uit die provinsie Asië met die hoofstad Efese in Klein-Asië. Van die mense uit dié groepe het reeds op die Pinksterdag tot geloof in Jesus gekom (vgl. 2:9-10). Stefanus het blykbaar in dié sinagoge ook teenoor die ongelowige Jode gaan getuig oor Jesus se opstanding. Maar hulle het teen hom geredeneer (suzêteō).

6:10 Die Griekssprekende Jode was egter nie in staat om die wysheid en die Gees, waarmee Stefanus oor Jesus gepraat het, te weerstaan nie – soos Jesus in Lukas 21:12-15 belowe het. Dié wysheid het die Heilige Gees vir Stefanus op daardie oomblik gegee om die redenasies van die Jode teen hom te kan weerlê.

6:11 Hulle het toe manne omgekoop om te sê: Ons het gehoor hy praat lasterlik oor Moses en God – so het die Raad vir Judas omgekoop om Jesus te verraai (Luk 22:5) en die wagte by die graf van Jesus, om te vertel dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het (Matt 28:12-13). Jesus is op die ou end ook weens lastering tot die dood veroordeel deur die Joodse Raad (Matt 26:65-66). Stefanus se interpretasie van Moses se wet en sy insig in God se doel met sy Joodse volk het lynreg verskil van die nasionalistiese siening en verwagting van dié Jode. Ook die tipiese Joodse geloof dat jy jou sonde deur goeie werke kan neutraliseer en God so behaag, het Stefanus se onderrig as verkeerd bewys, omdat Jesus die straf op al ons sonde gedra het en dat geloof in Jesus die enigste manier is om God te behaag (Hand 5:31). 

6:12 Hulle, die omgekoopte manne of lede van die sinagoge met die getuienis van die omgekoopte manne, het haat teen Stefanus opgewek onder die volk en die volksleiers, wat bestaan het uit die familiehoofde en die skrifkenners. Toe het hulle, waarskynlik lede van die volk en van die volksleiers Stefanus aangeval, met geweld gegryp en voor die Sanhedrin gebring – waar die familiehoofde en skrifkenners sitting het saam met die leierpriesters.

Vir die eerste maal lees ons hier dat die volk ook teen die dissipels gedraai het. In die vorige hoofstukke was hulle nog in groot aansien by die volk (2:47; 4:21; 5:13-16). Die volk was ook opgestook teen Jesus, Mark 15:11. Nou word hulle opgestook teen Stefanus, die getuie van Jesus se woorde. Die Helleniste het die volksleiers gou oortuig om ’n vinnige Raadsvergadering byeen te roep om hulle aanklag teen ’n getuie van Jesus te lêmet die omgekooptes as valse getuies om hulle klag te ondersteun.

6:13-14 Die vals getuies word voor die Raad gestel om Stefanus se laster teen Moses en God te lê: Hulle verklaar: ‘Hierdie man (Stefanus) hou nie op om woorde te praat teen hierdie heilige plek en die Wet nie.’ Die heilige plek en die Wet verwys eintlik na God, maar die Jode probeer die naam God vermy om dit nie ydellik te gebruik nie (Eks 20:7). Jesus het egter volgens Matt 23:21 gesê: ‘Wie sweer by die heiligdom, sweer daarby en by Hom wat dit bewoon. Hulle verduidelik hulle aanklag met hulle leuens: Ons het hom (Stefanus) hoor sê – ons is oorgetuies van sy woorde! Met minagting verwys hulle na Jesus (Jahweh se Verlosser) van die onbeduidende dorpie Nasaret: ‘Hierdie Jesus van Nasaret sal hierdie plek (die tempel) afbreek (kataluō afbreek, heeltemal vernietig; vgl. die valse getuienis teen Jesus in Markus 14:58; Joh 2:19-22) en die gebruike verander wat Moses aan ons oorgelewer het’ – ethê gedragspatrone wat deur die tradisie oorgedra en deur die gemeenskap aanvaar is;  allasō om die karakter daarvan te verander. Dat Moses dit oorgelewer het impliseer dat dit van God af gekom het en deur Moses oorgedra is. Daarom is Stefanus se boodskap laster teen God en teen Moses so asof hulle twee dit nie gesê het nie. Of dat God en Moses die verkeerde pad aangedui het vir die lewe, vgl. die aanklag en doodsoordeel oor die profeet Jeremia in Jer 26:6-11. Om iemand tot die dood te veroordeel is twee getuies nodig (Deutr. 19:15). Die Griekssprekende Jode se aanklag teen Stefanus, dat Jesus die tempel van die Here sal afbreek, is daarop gemik om die Sadduseërpriesters op die Raad op te sweep met die bedreiging van hulle heilige werkplek. Die aanklag oor die Wet raak weer die Fariseërskrifgeleerdes wat hulle lewe wy aan die studie van die Wet van die Here. 6:15 En terwyl die Raadslede vol woede en haat stip na Stefanus gekyk het omdat hy alles wat vir hulle die heiligste is in gevaar stel, het almal wat in die Sanhedrin gesit het gesien sy aangesig is soos die aangesig van ’n engel.’n Bo-aardse glans weerspieël die heerlikheid van God wat by hom is (vgl. Hand 7:55). Die gesig van hierdie eerste bloedgetuie van Jesus het blink geword soos Moses se gesig blink geword het terwyl die Here met hom op Sinai gepraat het (Eks 34:29-30). So het die voorkoms van Jesus se gesig verander terwyl Hy op die berg van verheerliking met sy Vader in gebed verkeer het (Luk 9:29; Matt 17:2 sê: Jesus se gesig het gestraal soos die son). Die stralende gesig van Stefanus vol van die Heilige Gees bewys dat God die ware getuie vir Stefanus teen die valse getuies voor die Hoogste Raad van die Jode is. Stefanus getuig juis oor die God van Israel en oor Jesus wat aan die regterhand van God staan (7:55).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...