Die Handelinge van die Apostels: ’n Duiwelbesete slavin in Filippi (Hand 16:16-23) – Francois Malan

image_pdfimage_print

16:16 Terwyl Paulus-hulle op pad was na die bidplek (by die rivier of nou verskuif na Lidia se huis?), waarskynlik op ’n Sabbatdag, kom ’n slavin hulle tegemoet – die werkwoord hupantáō  kan ’n vriendelik of ’n vyandige tegemoetkom aandui, selfs vir optrek om oorlog te maak. Die meisie wat as slavin in die besit van ’n groep mans gekom het, het ’n gees van waarsêery gehad, letterlik ’n slanggees (pneuma púthōna). Die luislang (púthōn) was die beskermer van die heilige plek by Delfi waar goddelike uitsprake gegee is. Apollo het die slang doodgemaak en self die beskermer en god van profesie en orakelwysheid geword, volgens die Griekse mitologie. Toe is die piton gebruik vir enigeen wat die waarsêersgees van die Griekse afgod Apollo ontvang. ’n Waarsêersgees was die werk van die duiwelse mag van die afgode in sekere mense. Die slavin se eienaars het baie geld gemaak uit die mense wat kom aanklop het vir haar voorspellings oor alledaagse sake en probleme. Die groot wins wat hulle uit die slavin se fortuinvertellery (manteuoménê) gekry het, was eintlik hulle god (vgl. Jesus se uitspraak oor God en Mammon in Matt 6:24). So ontmoet Paulus-hulle die teenstand teen hulle verkondiging in Filippi in die duiwelbesete slavin en haar eienaars se hebsug.   

16:17 Die slavin na wie baie mense gegaan het om hulle fortuin te vertel het aangehou om agter Paulus en ‘ons’ aan te loop en skreeu: ‘Hierdie mans is diensknegte van die allerhoogste God wat aan julle die weg van verlossing verkondig.’ Toe Jesus op die Sabbat in Kapernaum se sinagoge begin onderrig gee het, was daar ook ’n man in die mag van ’n onreine gees wat in die sinagoge geskreeu het: ‘Ek weet wie U is. U is die Heilige van God!’ (Mark 1:24; vgl. ook 3:11; Luk 5:34,41). Die besetene van Gadara in ’n heidenland noem ook vir Jesus: ‘Seun van die allerhoogste God (Mark 5:7). Vir die Jode is die Allerhoogste die absolute enigste God. Vir die heidene beteken dit dat Hy onmeetlik groter is as al hulle gode. Die bose magte weet egter wie hierdie manne is en van wie hulle hulle opdragte gekry het. Die Here gebruik hierdie kennis van die bose magte om sy diensknegte onder die geharde afgetrede Romeinse soldate in Filippi bekend te stel met ’n term uit hulle heidense bygeloof in afgode. Jesus word bo al die afgode bekendgestel as die allerhoogste God. Die weg van verlossing is vir die gelowige lesers van Handelinge verlossing van sonde en sondeskuld. Vir die heidene het dit ’n ander klank en betekenis. Apollo as die god wat plae stuur en plae kan wegneem, word ook gesien as ’n verlosser uit plae en uit die donker van die jaarlikse winter. Die misteriegodsdienste het ook verskillende soorte verlossings aangebied.

16:18 Nadat Paulus die geskreeu vir baie dae verduur het in die lig van die gevolge wat ’n uitdrywing sou gehad het, het sy geduld met haar uitroepe opgeraak en sy ergernis het opgelaai – die werkwoord diaponéomai ‘erg uitgetart/geprovokeer te word’ kom net hier en in 4:2 voor. In 4:2 gaan dit oor die ontsteltenis van die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs oor Petrus en Johannes se toespraak in die tempel. Soos Jesus wil Paulus geen bose gees as getuie en helper hê nie. (vgl. Luk 4:34,41). 

Paulus draai toe om en spreek die bose gees in haar aan: ‘In die Naam van Jesus Christus beveel ek jou om uit haar uit te gaan.’  Paulus doen dit namens Jesus, wat in Hom kom woon het en deur Paulus se woorde dryf die Almagtige Here die bose gees uit haar uit. En op daardie oomblik (letterlik ‘daardie uur of geleentheid’) het die bose gees uitgegaan. Teen die Almagtige kan geen gees standhou nie en die gees luister onmiddellik.

16:19 Uit die heilswonder deur Jesus ontstaan tipies ook vyandskap (Mark 3:6; Joh 5:16), en uit die betoning van die mag van die Gees, vervolging (Hand 6:8-12; 9:22-23,29). Die gevolge van die verlossing van die slavin uit die ban van die bose gees is ’n tipiese reaksie op die goeie nuus van die evangelie. Die eienaars van die slavin sien hoe hulle hoop op inkomste uit haar verdwyn. Hulle gryp Paulus en Silas en sleep hulle na die owerhede op die stadsplein (agorá) waar die regbank was. Die Satan gebruik hulle geldsug om die evangelie te stuit (vgl. 1 Tim 6:10 geldgierigheid is ‘n wortel van alle kwaad).

16:20 Die besigheidsmanne bring die twee apostels voor die magistrate (strategoi is Romeinse heersers oor die stad, waarskynlik twee magistrate wat saam die saak verhoor). Dit is Paulus se eerste verskyning voor ’n Romeinse hof. Hulle aanklag is nie dat hulle Christene is nie, maar Jode. Hulle is besig om ons stad om te krap, want hulle is Jode (Paulus en Silas was Jode, maar Timotheus en Lukas was nie eintlik Jode nie, en is moontlik daarom nie voor die hof gesleep nie, hoewel Paulus die eintlike spreker is). Met die verwysing na hulle as Jode word anti-semitisme aangeblaas. Keiser Claudius het in 49 n.C. alle Jode uit die stad Rome verban as gevolg van gebeurtenisse in die stad waarvoor die Jode die skuld gekry het (vgl. Hand 18:2). En dan word Paulus-hulle ook beskuldig as oproermakers wat die stad se mense omkrap. Eintlik is dit nie die rede waarom die besigheidsmanne hulle voor die hof gesleep het nie. Hulle is net kwaad vir Paulus wat hulle inkomstebron afgesny het. Die Joodse godsdiens was deur die Romeinse staat goedgekeur, ’n religio licita ‘geoorloofde godsdiens’ maar hulle mag nie onder die Romeine proseliete gemaak het nie en Filippi is ’n Romeinse kolonie. Die Romeine het op die stadium nog nie die Christendom van die Jodendom onderskei nie.

16:21 Die besigheidsmanne se tweede aanklag teen hulle is dat hulle gebruike verkondig wat vir hulle wat Romeine is nie toegelaat is om aan te neem of na te volg nie. Daarvolgens sou die Christelike geloof onwettig wees in die Romeinse ryk. Daar word nie verwys na wat Paulus-hulle verkondig het of vir die slavin gedoen het nie, want al wat die aanklaers aan dink is dat hulle geldbron van hulle ontneem is, maar daarvan word niks gesê nie. 

16:22 Die skare het toegetree tot die aanval teen Paulus en Silas. Dit gaan nie oor die verlossing van die slavin uit die bande van die afgode nie, maar omdat die besigheidsmanne die Jode beskuldig dat hulle besig is om Romeine uit hulle lewenswyse weg te rokkel. Dit word toe ’n boendoehof waar die skare se geskreeu die twee magistrate se vonnis bepaal sonder die nodige ondervraging in ’n hof. Om die skare te bevredig en tot bedaring te bring beveel die magistrate dat die twee evangeliste met stokke/rottangs geslaan word (rhabdízō) met hulle klere afgestroop. Paulus verwys hierna in 2 Kor 11:24-25, die drie maal deur nie-Jode teenoor die vyfmaal deur die Jode (vgl. 1 Thess 2:2). So het Pilatus ook toegegee aan die Jode se geskreeu van ‘kruisig Hom!’

16:23   Nadat hulle baie houe (plêgê ’n hou of wond) geslaan is, het hulle hulle in die tronk gegooi. Die houe is seker deur die soldate toegedien, en die opdrag om hulle in die tronk te gooi is deur die magistrate gegee. Dit is ook die magistrate wat die opdrag aan die sipier gegee het om hulle veilig op te sluit sodat hulle nie kan ontsnap of die gevangenes met hulle ander lewenswyse beïnvloed nie

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...