DIE KERK (2)

image_pdfimage_print

For in regard to the fabric and admirable arrangement of the universe, how few of us are there who, in lifting our eyes to the heaven, or looking abroad on the various regions of the earth, ever think of the Creator? – Calvyn

 

Die Kerk (2)

In die vorige blog het ek probeer aantoon dat die kerk ‘n belangrike plek in God se plan vir die wêreld speel. Ons kyk nou na ‘n paar beelde van die kerk soos ons dit in die Bybel kry. Dit word beweer dat daar meer as negentig beelde van die kerk in die Bybel beskryf word. Dit is omdat geen enkele beeld die volle belang van die kerk kan beskryf nie. Ons gaan in die volgende blogs na vier van hierdie beelde kyk.

 

Beeld #1: Die huishouding van God

Mense wat saam in ‘n huishouding leef, is ‘n intieme toneel van liefde. Paulus skryf aan Timoteus: Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:15). In Efesiërs 2:19 verwys hy na die gelowiges as lede van die huisgesin van God. Liefde in die kerk straal uit hierdie beeld van die kerk as huisgesin. In ‘n huisgesin is dit belangrik dat lede mekaar moet liefhê.

 

‘n Ander aspek van die kerk as huisgesin is sy verhouding met die Vader. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!  In die Misjna beteken Abba ‘n gesinsverhouding waarin die kinders versorg word. Dit beteken ook dat die gelowiges die erfgename van sy koninkryk is. Soos ons probeer vasstel wat dit beteken om lede van God se huisgesin te wees, word die verantwoordelikheid wat ons het om God se begeertes te vervul, duidelik.

 

Ons moet ons medegelowiges liefhê, maar ons moet ook maniere vind om te verseker dat ander mense ook die goeie nuus van ons Vader hoor. In die huisgesin sorg ons vir diegene wat minder bevoorreg as ons is. Dien ons nog die minder bevoorregtes in ons gemeenskappe?

 

Wat nou van al die gevegte in die kerk? Gesinslede baklei ook. Solank as wat ons nog hier op aarde is, is die kerk ‘n disfunksionele gesin. Dit is omdat gesinslede staan op hulle regte en hulle eie voorkeure wil afdwing – in plaas van ons oë op die oes gerig te hou.

 

Volgende keer gaan ons na die tweede beeld van die kerk in die Bybel kyk: die liggaam van God.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...