1 Januarie was nie altyd die datum vir nuwe jaar nie!

image_pdfimage_print

Januarie was nie altyd die datum vir nuwe jaar nie! – Kobus Kok

 

Bybelse perspektief op nuwe jaar

Die antieke Romeinse kalender het begin op 1 Maart. Maart is natuurlik in Europa ook die tyd wanneer die koue, groue winter plek maak vir die sprankelende lente met nuwe lewe wat oral uitspruit.  In die name van ons maande, het ons egter nog steeds iets van die erfenis van die ou Romeinse kalander – September (sewe), Oktober (agt), November (nege), Desember (tien).

Die datum wat gebruik is in die ou Romeinse ryk was verder ook gekoppel aan die sogenaamde consular jaar wat begin het op die dag wanneer consuls hulle amp ingeneem het vir die eerste keer (nl. 1 Mei voor 222 vC; 15 Maart vanaf 222 vC-154vC). Vanaf die jaar 153vC het dit egter verander na 1 Januarie. In die jaar 45 vC het die bekende keiser waarvan ons so baie hoor, nl Julius Caesar die Julian kalender begin gebruik waarvolgens 1 Januarie as die eerste dag van die nuwe jaar beskou is.

Dit was eers in die Middeleeue in Europa dat die Julian kalender vir die eerste keer gebruik is. Tot en met die dertiende eeu nC was 25 Desember die dag waarop nuwe jaar in Duitsland en Engeland gevier is.  In groot gedeeltes van Europa in die Middeleeue was 25 Januarie as die datum van die nuwe jaar beskou en is ingelei deur Dionysius Exiguus in 525 nC. Glo dit of nie, maar 25 Maart was tot en met 1752 in Groot Brittanje die datum waarop die nuwe jaar begin het (nl.). Skotland het egter alreeds in die jaar 1600 met die viering van nuwe jaar op 1 Januarie begin.

Interessant genoeg val die Verenigde Koninkryke se belastingjaar nog steeds op 6 April elke jaar. In Frankryk, gedurende die 11de tot 16de eeu het nuwe jaar begin op Goeie Vrydag wat natuurlik ook omtrent in die helfte van ons huidige kalenderjaar is.

Dit het in werklikheid n hele ruk geneem vir 1 Januarie om uiteindelik die mees algemene datum te word van die nuwe jaar:

Land
Jaar toe 1 Januarie die nuwe jaar geword het
Venise 1522
Swede                                 1529
Heilige Romeinse Ryk (Duitsland) 1544
Spanje, Portugal ens 1556
Denemarke 1559
Frankryk                              1564
Suidelike Nederlande 1576
Lorraine                               1579
Holland                                 1583
Skotland                              1600
Rusland                                1700
Tuscany                                1721
Brittanje                              1752
Thailand             
1941

Bybelse perspektief op nuwe jaar

Ek is tans in Europa, en kan verstaan hoekom die Europeërs die nuwe jaar aanvanklik gekoppel het aan die aanbreek van die lente. Hier is die winter bibberend koud en die lug grys en grou. Die lente was in die ou dae ʼn besondere tyd omdat lewe oral deurgebreek het soos wat die son haar verskyning gemaak het en die wêreld letterlik ontvries het. Daarom is dit ook nie vreemd nie dat ons sien hoe ons voorouers, die heidense Germane van ouds, allerlei mitiese verhale gehad het wat gekoppel was aan die lewe en die dood. Vir hulle was die lente die tyd wat die son die oorwinning behaal het en uit die donker dieptes die lewe laat deurbars het. Uiteindelik sou hulle gelukkig kennis maak met die God van lewe, Hy wat sy enigste Seun gestuur het om vir ons lewe in oorvloed te kom skenk (vgl. Johannes 10:10). In hierdie Seun was die lewe self, die Lig wat lewe kom skenk het (vgl. Johannes 1:4). Sonder Jesus is ons lewens ook winter-grys en -grou. In Paulus se brief aan die Galasiërs lees ons dat die ganse wêreld vasgevang was in die greep van sonde en dat Jode sowel as heidene eintlik spirituele slawe was – slawe van sonde. Met die koms van Jesus het n radikale nuwe ding gebeur en mense het waarlik vry geword. Die Gees het mense al meer nuut kom maak en veral vry kom maak van spirituele slawerny en gebondenheid, volgens Galasiërs. Soos wat die nuwe lewe deurbreek in Europa so rondom April, en die dooie grys en grou al meer verdwyn, so het Jesus Christus, die bron van lewe ons winterlewens kom verlig met hemelse Lig. Mag die nuwe jaar wat voorlê vir ons die jaar van Lig wees. Mag ons al meer verlig word deur die bron van Lewe sodat ons vrug sal dra  vrug wat ʼn direkte gevolg is van ons blootstelling aan die Lig wat met sy strale nuwe geestelike lente-lewe bring.

Van ons hier by Bybelkennis, wens ons u ʼn Geesvervulde 2010.  Mag dit n jaar van vrug en nuwe lewe vir u wees.

Outeur: Dr Kobus Kok

 

image_pdfimage_print