Die Handelinge van die Apostels: Van Troas na Milete (Hand 20:13-16) – Francois Malan

image_pdfimage_print

20:13 Soos ’n dagboek se aantekeninge beskryf Lukas die reis van Troas na Milete soos Paulus dit gereël het, waarskynlik met die skip se kaptein en met sy metgeselle. Nadat Paulus ’n hele nag lank gepraat het, het hy nog die fisiese krag gehad om te voet die ongeveer 30 kilometer te loop van Troas tot by Assos, die eerste hawe suid van Troas. Die ander lede van sy geselskap, Sopater, Aristargus, Sekundus, Gaius, Timotheus, Tigikus, Trofimus en die skrywer Lukas (20:4; vgl. ‘ons’) is per skip om kaap Lekton (huidige Baba) deur die Assosstraat tussen Asië se verste westelike punt en die eiland Lesbos na Assos se hawe, ongeveer 80 kilometer van Troas af. Die groot teater van Assos kyk uit op die see en die eiland Lesbos aan die oorkant. Waarom Paulus wou stap word nie gesê nie, maar hy kon met die stap alleen wees met die Here. 

20:14 Paulus het by hulle op die skip geklim en die 50 kilometer na die hawe Mitilene, die hoofstad van die eiland Lesbos aan die suid-oostelike kant van die eiland gevaar, waar hulle oornag het.

20:15 Die volgende dag is hulle per skip van Mitilene na die vyfde grootste Griekse eiland Chios, wes van Smirna op die vasteland. Blykbaar het hulle voor anker teenoor Chios oornag (ántikrus aflandig, naby die kus). Die dag daarna het hulle na die eiland Samos geseil. Hulle het waarskynlik aan die westekant van Samos om gevaar en nie aan Efese se kant wat ’n bietjie meer as 2 kilometer oos van Samos se oostekant af lê nie. Die dag daarna het hulle die stad Milete bereik aan die suid-westelike punt van Klein-Asië. 

20:16 Die rede waarom hulle langs die westekant van Samos direk na Milete gevaar het, was Paulus se haas om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees (speúdō begeer of jou haas om iets te doen). Hulle het ook die kollektes, wat deur die gemeentes opgeneem is vir die armes in Jerusalem, by hulle gehad (vgl. Gal 2:10; 1 Kor 16:1-3; 2 Korinthiërs hoofstukke 8-9; Rom 15:30-31). Pinkster is die Jode se oesfees om die Here te dank vir die graanoes (Eks 23:16; Lev 23:15-21). Vir die Christene is dit ook die herdenking en dank aan God vir die dag waarop die Heilige Gees in die gelowiges begin woon het. Paulus beskou die kollekte as die vrug van die gemeentes se geregtigheid, hulle danksegging aan en verheerliking van God, en hulle gehoorsaamheid aan hulle belydenis van die evangelie van Christus (2 Kor 9:10-13).

Hy het besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie tyd in Asië hoef te spandeer nie. Hy het besef hoe swaar hy sou loskom as hy eers in Efese kom en die mense hoor dat hy daar is. In Efese het hy ook swaar gely, volgens 2 Kor 1:8-10. Die Here het die begeerte in Paulus geplaas om op Pinksterdag 56 n.C. in Jerusalem te wees. In Handelinge 20:22-23 sê Paulus: En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Heilige Gees, na Jerusalem sonder om te weet wat daar met my gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag.’ Tydens die Pinksterfees was daar ’n groot skare in Jerusalem wat vir Paulus uit die tempel gesleep het (Hand 21:27,30). 

Paulus se afskeidspeek aan die ouderlinge van Efese (Hand 20:17-38) 

20:17 Paulus stuur ’n boodskap van Milete af aan die ouderlinge van die gemeente in Efese om hulle te ontbied om na Milete te kom. Milete is ongeveer 45 km suid van Efese, aan die suid-westelike punt van Klein-Asië. 

20:18-35 Toe die ouderlinge in Milete aangekom het, het hy die volgende boodskap aan hulle gelewer. Die boodskap het vier dele. Elke deel word met ’n formule ingelei:

1 ’n Terugblik op die verlede, oor Paulus se optrede in Asië, veral in Efese, ingelei met ‘Julle weet dat…’ 20:18-21;

2 ’n Beskrywing van die hede, oor Paulus se onmiddellike situasie, ingelei met ‘En kyk, nou gaan ek…’ 20:22-24;

3 ’n Vooruitskouing oor die toekoms, van Paulus se moontlike dood en die aanslae van ’n valse leer teen die gemeente,                           ingelei met ‘En kyk, ek weet nou dat…’ 20:25-31;

4 Seën en ’n vermaning, ingelei met ‘En nou vertrou ek julle toe aan God…’ 20:32-35. Die preek word afgesluit met ’n                           woord van die Here Jesus.

20:18 Die ouderlinge was blykbaar van die eerste gelowiges in Asië – ‘Julle weet hoe ek vanaf die eerste dag wat ek in Asië aangekom het die hele tyd by julle was…’ Dit verwys na sy geloofsoortuigings, sy lewenswandel en optrede onder hulle van die begin tot die einde van sy drie jaar bediening onder hulle tydens sy derde sendingreis. Die drie jaar sluit  ook die kort tydjie in, wat hy met die Jode geredeneer het tydens sy tweede sendingreis (Hand 18:19-21).’Julle’ staan met klem voorop in die sin. Hulle is die getuies van sy onberispelike en liefdevolle optrede tydens sy hele bediening en optrede by hulle. Hoe sy  optrede by hulle was, word in die volgende verse uiteengesit:

20:19 Paulus se lewe was gekenmerk deur sy nederigheid, trane en die Jode se vervolging van hom: Hoe hy die Here in alle nederigheid gedien het (douleuō veronderstel nederige diens soos van ’n dienskneg of slaaf) deur die wil en opdragte van sy Eienaar, die Here, getrou en met vreugde uit te voer. Sy vrywillige selfvernedering om soos ’n slaaf sy Here te dien omdat Jesus hom met sy bloed gekoop het, was by Jode en heidene onbekend en deur die Grieke as dwaasheid afgekeur (1 Kor 1:23). Terwyl hy besig was met die werk van sy Here moes Paulus dikwels huil oor die reaksie en hardheid van mense se harte teenoor die wonderlike evangelie oor Jesus en sy verlossing (vgl. Hand 20:31 om elkeen met trane te waarsku). So sal wrede wolwe ook vir hulle na sy vertrek binnedring (20:29). Daarby het die Jode, sy volksgenote, met sameswerings teen hom probeer om hom in strikke te vang (epiboulais komplotte, planne maak vir valse optrede teen hom, soos in Jerusalem ook op hom gewag het, 20:29). In Romeine 9:2-3 vertel hy hoe hy ook met trane dink aan sy volksgenote wat weier om in Jesus te glo.

20:20 Die werkwoord hupostéllō kan beteken om terug te hou om iets te doen uit vrees vir die gevolge, of om op te hou om iets te doen omdat dit onder omstandighede beter is. Paulus sê hy het homself nooit teruggehou om iets nie te verkondig wat vir die gemeente in Efese tot voordeel kon strek nie – met ander woorde hy het altyd alles wat tot die gemeente se voordeel kon strek, aan hulle ‘in besonderhede vertel’ (anangéllō). In 20:27 praat hy van die volle heilsplan van God wat hy aan hulle verkondig het. Dit het hy nie net in die gemeentesamekomste of by openbare lesings gedoen nie, maar ook in hulle huise. Onvermoeid en sonder om op te hou het hy hulle onderrig. 

20:21 Op grond van sy eie ervaring van die verheerlikte Here Jesus (Hand 9:5) het Paulus aan Jode en Grieke getuig (die Griekse werkwoord diamartúromai beteken om ’n ernstige verklaring te maak op grond van persoonlike kennis) van bekering tot God en van geloof in ons Here, Jesus (vgl. Rom 1:16-17). Die Griekse woord vir bekering, metánoia, is om jou lewenswyse te verander op grond van ’n algehele verandering van jou gedagtes en houding oor sonde en die regte verhouding met God. Dit gebeur deur te glo in Jesus as die Here van jou lewe. Hy het uit liefde jou sonde op Hom geneem en jou vrygespreek, en Hy het jou verhouding met God reggemaak deurdat God jou in liefde as sy kind aangeneem het omdat jy aan sy geliefde Seun Jesus verbind is in geloof. Die nuwe lewenswyse is deur Jesus opgesom in Joh 13:34: ‘Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.’ 

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...