Die Handelinge van die Apostels: Verkiesing van sewe medewerkers (Hand 6:1-7) – Francois Malan

image_pdfimage_print

6:1  ‘In dié dae’ wys na ’n tyd nie lank na die vorige gebeurtenis nie. Die woord ‘dissipels’ wat dikwels in die Evangelies voorkom, kom hier vir die eerste keer in Handelinge voor, en wel vir alle Jesusgelowiges, soos in Lukas 6:13,20 (mathêtês verwys na leerlinge of volgelinge). In die vorige hoofstukke is, benewens die twaalf apostels, verwys na ‘broers,’ (1:16; ) of ‘gelowiges’ (2:44; 4:32) of ‘eie mense’ (4:23). Met ’n groeiende gemeenskap van gelowiges ontstaan daar wrywing tussen die verskillende groepe. Hierdie ‘Helleniste’ verwys na die Joodse Jesusgelowiges wat Grieks gepraat het en die Griekse vertaling van die Ou Testament in hulle sinagoges gelees het (vgl. Hand 6:9; 11:20; Hellas is die Grieke se naam vir Griekeland. Griekeland is die naam wat die Romeine die land genoem het). Hulle was veral Jode wat in die verstrooiing gebore en grootgeword het, en in hulle ouderdom in Jerusalem kom woon het om in die heilige stad begrawe te word, en hier Christene geword het. Hulle weduwees het waarskynlik nie familielede in die stad nie. Die ‘Hebreërs’ was Jode wat ook pas in Jesus begin glo het. Hulle het Aramees gepraat, omdat hulle voorouers ná die ballingskap in Palestina kom woon het, maar in die Babiloniese ryk Aramees grootgeword het. (Die naam Hebreërs kom van Abraham se voorvader Heber uit die nageslag van Sem; Gen 10:21; 11:10-26; 14:13).

Daar het ’n klag onder die Helleniste teen die Hebreërs ontstaan omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is. Die versorging het waarskynlik uit die bydraes gekom wat ‘aan die voete van die apostels neergelê is’ (Hand 4:34-35). Onder die Jode was daar die gebruik om elke Vrydag aan weduwees geld vir 14 maaltye te gee, wat die inwoners van die stad voorsien het. In die Christelike gemeente word dit ’n daaglikse versorging). Hoewel die Hellenistiese Christene in die minderheid was in die eerste gemeente in Jerusalem, was daar onder hulle moontlik baie weduwees. Volgens Lukas was dit ’n gebrek in die organisasie van die groterwordende gemeente waarin die twaalf Joodse apostels die leiding geneem het.

6:2 Die twaalf (apostels; die enigste keer in Handelinge wat na ‘die twaalf’ apostels verwys word. In 1:26 word dit veronderstel) het die leiding geneem in die organisasie van die gemeente in Jerusalem. Die twaalf het die groot groep dissipels bymekaargeroep en gesê: ‘Dit is nie reg (voor God) dat ons (twaalf) die woord van God (die verkondiging van die evangelie in die tempel en in die huise, 5:42) verwaarloos om die tafels te bedien nie’ – ’n idioom vir die finansies te hanteer, of om by etes te bedien; dit verwys in elk geval na die sorg aan behoeftiges. Die hele groep Christene kom deelneem aan die verkiesing van gelowiges om die finansies en die armsorg van die gemeente te organiseer.

6:3 Die broers word gevra om sewe gerespekteerde mans (marturoumenous oor wie goed gepraat word op grond van persoonlike ondervinding) uit hulle geledere uit te soek deur noukeurige ondersoek (episkeptomai om te kies of uit te kies na ’n grondige ondersoek) wat hulle verantwoordelik kan maak vir hierdie taak. Hulle moet vervul wees met die Gees en met wysheid. Die goeie reputasie van die manne beteken dat hulle onselfsugtig en barmhartig teenoor behoeftiges moet wees, ook onpartydig tussen Helleniste- en Hebreër-weduwees, en eerlik met geld kan werk. Die vrug van die Gees moet in hulle lewe gesien kan word, soos in Galasiërs 5:22-23 uitgespel word, en vervul met wysheid om al hulle werk met mense te kan beplan en uit te voer (vgl. Eks 18:21; Num 27:18-20; 1 Tim 3:8-10). Die naam diakens (diakonoi) word nie hier genoem nie, maar in vers 3 word die werkwoord diakoneō (om te dien) gebruik.

6:4  Die apostels sal hulleself dan toewy (proskartereō om voort te gaan om iets met intense toewyding te doen) aan gebed en die bediening (diakonia ) van die woord – die gebed vir die mense in die gemeente en buite die gemeente (2:42) en die verkondiging oor die opstanding van Jesus en oor alles wat hulle van Hom gehoor en beleef het (1:21; 4:20). Met dié bepaling en afgrensing van hulle opdrag is hulle seker dat hulle doen wat die Here wil hê (1:8; 5:20).

6:5 Hierdie voorstel het by die hele groep byval gevind. Dit is duidelik dat Jesus deur die Heilige Gees die eensgesindheid van die hele gemeente bewerk het (vgl. Matt 18:20: waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde).

Die sewe manne wat hulle toe gekies het, het almal Griekse name, en was moontlik Helleniste wat die behoeftes van die groot groep Griekssprekende weduwees die beste kon verstaan. Sommige Hebreërs, veral uit Galilea waar baie meer Grieks gepraat is, het egter ook Griekse name gehad. Stefanus was blykbaar ’n natuurlike keuse as ’n man wat die vereistes wat voorgehou is in vers 3 ten volle gepas het: vol geloof en die Heilige Gees. Sy geloof in die opgestane Jesus was by almal bekend sowel as sy lewe wat die vrug van die Heilige Gees se werking in hom vertoon het. Van Stefanus lees ons van 6:8 tot 8:1; van Filippus, nie die apostel Filippus nie, in 8:4-40 en 21:8-10. Van die ander vyf vertel Lukas niks verder nie, behalwe dat Nikolaus ’n proseliet uit Antiogië was. Anders as ’n ‘godvresende’ wat as nie-Jood slegs die Joodse lewenswyse aangeneem het (Hand 10:2), was ’n proseliet ’n nie-Jood wat ten volle tot die Jodendom oorgegaan het en besny was as teken dat hy ’n volle lid van die volk van God was.

6:6  Die gemeente plaas die 7 manne voor die apostels en biddende lê hulle die hande op die sewe man. Daar word nie gespesifiseer of die apostels die hande opgelê het of die hele gemeente nie. Dat hulle dit biddend doen wys dat hulle glo die Here stel die manne met die handoplegging aan vir hulle werk. So praat Paulus van die genadegawe van God wat in Timotheus is deurdat Paulus hom die hande opgelê het (2 Tim 1:6; volgens 1 Tim 4:14 was dit deur die Raad van ouderlinge in Listra), en waarsku hy Timotheus om nie iemand haastig die hande op te lê in sy werk as leier van die gemeente in Efese nie (1 Tim 5:22).  So het die Here Moses beveel om Josua die hande op te lê in die teenwoordigheid van die hele volk om sy gesag aan Josua oor te dra (Num 27:18-22; 34:9). 6:7 Hier volg weer ‘n opsommende terugblik op die ontwikkeling van die gemeente (soos in 2:41,47; 4:4; 5:14).  ‘En die woord van God het aanhou versprei…’ (auksanō imperfektum hier: het steeds vermeerder) dit beteken deur die prediking van die goeie nuus (evangelie) deur die apostels en die gemeentelede, het die Heilige Gees meer en meer mense oortuig om in Jesus te glo as God se Verlosser.  ‘En die getal van die dissipels (mathêtai leerders en volgelinge van Jesus) in Jerusalem het aansienlik vermeerder…’  En dit ten spyte van die verbod en straf van die Raad om dit alles te beëindig, en ten spyte van die vrees/ontsag vir God met die Ananias en Saffira episode. Maar Gamaliël se woord aan die Raad word hiermee duideliker: ‘…as hierdie plan of onderneming van God af kom, sal julle dit nie kan keer nie’ (5:39). Daarby is daar weer ’n stukkie humor. Die priesters wat die apostels volgens Hand 4:1-3 in die tronk gestop het, word gelowiges! Van destyds se 8 000 priesters was die meeste Sadduseërs wat nie in die opstanding van die dooies geglo het nie. Dat die Heilige Gees juis onder hulle, wat die apostels verbied het om in Jesus se Naam te praat, ’n groot menigte oortuig het om gehoorsaam te word in die geloof in Christus, is eintlik ironies, net die teenoorgestelde van wat verwag is.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...