Die profeet Amos en die hedendaagse samelewing

image_pdfimage_print

 

Too many people spend money they haven’t earned, to buy things they don’t want, to impress people they don’t like. -Will Rogers

 

Die profeet Amos en die hedendaagse samelewing

Alle profete in die Ou Testament was soms verontwaardig, maar Amos was briesend. Amos het in die 8ste eeu voor Christus geleef. Hy kom van Tekoa, in Judea, maar verkondig sy boodskap van oordeel en hervorming in die Noordryk – aan die ryk mense in veral Bet-El en Samaria.

 

Amos het homself nie as ‘n profeet gesien nie. Hy sien homself as ‘n nederige landbouer wat dit nie kon weerstaan om God se woord te versprei nie [Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie (3:8); Ek is nie ‘n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye (7:14)] Hy verkondig ‘n boodskap van totale vernietiging vir Israel kort voor die Assiriese verneitiging van die Noordryk in 722 vC.

 

Hoekos was Amos so kwaad en hoekom spreek hy in beelde?

Dwarsdeur die  boek spreek hy hom in woede uit teen die ongeregtighede van destyds.  Hy herinner hulle aan hulle verbondsverpligtings. Lees net Hoofstuk 6:1 – 7. Hy praat met dié wat so rustig in Sion woon, dié wat so veilig voel op Samariaberg. Hulle lê in beddens wat met ivoor ingelê is; hulle eet lammers uit die kleinveetrop. Die gevolg? Daarom sal julle nou weggevoer word op die voorpunt van die ballinge. Hoekom? Hulle het hulle nie aan die lot van die armes gesteur nie en het godsdienstige oefening en vroomheid verwar met morele verantwoordelikheid.

 

Amos se woorde is dikwels in die vorm van oordeelsuitsprake (Ellende …) en boodskappe van God: So sê die Here…

 

In Amos 5 – 6 kry ons van die treffendste poëtiese beelde in de Ou Testament. Amos 5 begin met ‘n treurlied: Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie. Hy veroordeel die mense wat van die regspraak ‘n bitter saak maak. Hierdie digterlike, simboliese taal in Amos word ‘n uitdrukking van God se toorn. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en julle sal nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie (5:11).

 

Amos gebruik tonele uit die natuur om te verduidelik hoe die dag van die Here – die oordeelsdag – sal wees. Dit sal soos ‘n vuur wees wat alles verteer (5:6) of soos iemand wat vir ‘n leeu vlug en deur ‘n beer aangeval word (5:19). Dit is ‘n oordeelsdag vir Israel.

 

As Amos vandag geleef het, wat sou hy gesê het?

Maar laat die reg en geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom (Amos 5:24). Hierdie vers is ‘n kragtige verwerping van die offers van mense wat nie die verbond gehou het nie – die verbond waarin reg en geregtigheid ‘n groot rol speel. Deur die hele Amos 5 – 6 verwerp hy diegene wat hulle verryk ten koste van die armes. Godsdienstige toewyding is betekenisloos as dit met onregverdige belasting van die armes en omkopery gepaard gaan. Sien ons nie hierin iets van ons huidige samelewing raak nie? Volgens Amos is ‘n nasie wat na die swakste lede van die samelewing omsien ‘n buitengewone nasie. Sien ons dit vandag in ons samelewing?

 

 

image_pdfimage_print