Die krag van die geartikuleerde evangelie

image_pdfimage_print

That what one now calls Christianity is precisely what Christ came to abolish – Soren Kierkegaard

 

Die krag van die geartikuleerde evangelie

Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het (2 Timoteus 1:13)

Die vraag wat vandag gevra word, is of ons waarlik die hele evangelie verkondig en gehoorsaam. Vir party mense het ons hier met ‘n transaksie wat tot die ewige lewe lei, te doen. Dit gebeur sonder enige verwysing na Jesus Christus.

 

Romeine 10:5 – 17 sê vir ons dat die evangelie gehoor moet word, maar om gehoor te word, moet dit verkondig word. Paulus se groot bekommernis hier is sy mense wat weier om in Jesus Christus te glo en so gered te word. Hy verkondig:

  • Die universaliteit van die evangelie; en
  • Die universaliteit van die mens se behoefte aan die evangelie. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23).

Paulus leer ons dat deur Jesus Christus se versoening God se toorn en geregtigheid bevredig is. Daarom kan hy sê: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in JC is nie (Romeine 8:1).

 

Wat sê Paulus in hierdie gedeelte:

  1. Die woord moet naby gebring word

“Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig (10:8). God het die woord naby aan ons gebring deur sy Seun na die aarde toe te stuur. Dit is nou ons verantwoordelikheid om die woord naby aan ander mense te bring. Paulus se hele apostoliese sending was juis om God se woord naby aan ander te bring. Dit is die taak van alle gelowiges.

 

  1. Die evangelie is ‘n krag om te verlos

Die woord moet aan almal verkondig word, en as hulle glo en bely sal hulle verlos word. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word (10:9). Let wel: hier is geen voetnota’s of voorwaardes aan gekoppel nie. Hierdie is nie ‘n hipotetiese stelling nie, maar ‘n onfeilbare belofte. Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie (10:11). Jesus Christus gee aan ons die bemoediging en vertroue om die woord te saai, maar God laat die oes groei.

 

  1. Die noodsaaklikheid om die evangelie te artikuleer

Die bediening is multidimensioneel. Ons kan die evangelie aanvaar of verwerp, maar ons moet dit eers hoor. Baie mense glo dat ons die evangelie naby aan mense kan bring deur naby hulle te wees, deur vriendelik en liefdevol op te tree, ens. Natuurlik is hierdie dinge belangrik, maar die evangelie vereis ook woorde. Woorde sonder dat ons soos mense van die evangelie lyk, sal ook nie werk nie. Maar God is ‘n God wat praat en ons is mense wat praat.

 

Ons kan gewone menswoorde gebruik. Dit is die woord van God wat mense net oordra. God werk in die gelowiges wat sy woord verkondig. Hoor vereis ‘n verhouding; ‘n verhouding vereis woorde; geloof kom deur te hoor. Maar wie moet die woord verkondig? Predikante? Nee, alle gelowiges. [Ons moenie die belang van die Heilige Gees in hierdie hele proses vergeet nie.]

Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (10:17).

 

 

 

image_pdfimage_print