Die laaste oordeel-Vraag

image_pdfimage_print

Die laaste oordeel – Francois Malan

Francois vra:

Die laaste oordeel. Openbaring 20:12&15;2 Kor 5:10 verwys. Twee vrae: a)Die Bybel leer dat as jy gered is jou naam in die boek van die lewe geskryf is. Sal gereddes dan nogtans moet gaan rekenskap gee van alles wat hulle gedoen het? (Al is al hulle sonder vergewe.) b) Verwys 2 Kor 5:10,Gal 6:5, Rom 14:10 en Mat 16:27, alles na dieselfde ding? Indien nie, wat is die verskille?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Volgens Openbaring 20:12,15 is daar twee boekrolle, die een waarin jy self skryf deur alles wat jy doen of sê of dink – of nie doen of sê nie. Die ander is die boek van die lewe, waarin God die name van sy kinders skryf, hulle wat glo in sy Seun as hulle Verlosser wat hulle sonde gedra het.

2 Korintiërs 5:10 voorsien dat alle mense voor Christus se regterstoel sal verskyn sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy/sy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad is.

 

  1. a)Sal gereddes dan nogtans moet gaan rekenskap gee van alles wat hulle gedoen het, al is al hulle sondes vergewe?

 

1 Korintiërs 3:8 het reeds gesê dat elkeen sy loon sal ontvang volgens sy eie arbeid. En 1 Kor.

3:13-15 sê: elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly – hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

 

1 Korintiërs 4:5 sê: die Here sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê.

Romeine 2:6-7 sê: God sal elkeen beloon volgens sy dade – die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid.

1 Petrus 1:17: En aangesien julle Hom as Vader aanroep, wat onpartydig oordeel volgens die optrede van elkeen, moet julle met ontsag optree in die tyd van julle vreemdelingkap.

Vergelyk ook Jesus se gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25:31-46 vir dié wat deur die Vader geseën is om die koninkryk te beërf deurdat hulle vir die geringste van Jesus se broers en susters voedsel, te drinke en klere gegee het, vreemdelinge as gaste verwelkom, siekes versorg, gevangenes besoek het.

 

Met die oordeel maak God alles reg. Hy is nou al besig om deur sy woord en Gees ons te verander na die beeld van Christus om in liefde te lewe (2 Korintiërs 3:18). Eendag sal Hy sy werk aan ons voltooi. Die goeie in die lewe van die gelowige sal bevestig en vir ewig bestendig word; die verkeerde vir ewig uit hom/haar verwyder word. Jesus sit sy verlossende werk voort deur sy woord en die Heilige Gees wat in ons kom woon het (vgl. Galasiërs 5:22-23 vir die vrug van die Gees se werking in ons lewe; vgl. Romeine 8:1-17 oor die Gees wat in ons woon, van ons kinders van God maak, en erfgename saam met Christus in sy lyding en verheerliking).

1 Petrus 4:17 sê: die oordeel begin by die huishouding van God.   

 

Die komende oordeel is vir die gelowige geen bron van kommer en verskrikking nie, maar rede vir ‘n vurige verlange en innige bede vir Christus se spoedige koms om ons lewens te reinig van alle selfsug en verkeerde gewoontes. Sy maatstaf waaraan ons gemeet word is ons verbondenheid aan Hom en die uitlewing van sy woord: julle moet mekaar liefhê, netsoos Ek julle liefgehad het (Johannes 13:34-35; 15:17; 1 Johannes 4:7-11); om soos ons Vader volmaak te wees in die liefde, selfs om ons vyande lief te hê (Matteus 5:43-48). 

            1 Johannes 4:17-18: Hierin het die liefde onder ons tot vervulling gekom: Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê, omdat ons, soos Jesus, in hierdie wêreld is. In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

 

  1. b)Verwys 2 Kor 5:10,Gal 6:5, Rom 14:10 en Mat 16:27, alles na dieselfde ding? Indien nie, wat is die verskille?

 

2 Kor 5:10 verwys na die regterstoel van Christus met sy wederkoms as Regter, waar ons die loon op ons lewe ontvang, of dit goed of kwaad is (waarna Matteus 25:31-46 ook verwys).

 

Die argument in Gal 6:2-5 loop soos volg:

v1 verwys na ‘n mede-gelowige wat deur een of ander sonde oorval word, en dat die ander wat ook die Gees het, hom/haar moet reghelp, en op hulleself let om nie ook versoek te word nie.

 

v2 Dra mekaar se ‘laste’ (in die oorspronklike Grieks: ta bare, dinge wat swaar of lastig of moeilik is) en vervul so die wet van Christus (nl. om mekaar lief te hê en mekaar te dien, Gal 5:13-14). Dit beteken dat gelowiges mede-verantwoordelikheid vir mekaar se lewens moet aanvaar, soos in vers 1 uitgespel.

 

          ta bare kan egter ook na ‘n persoon se voortreflikhede en belangrikheid verwys, en die Griekse werkwoord vir ‘dra’ (bastadzoo) kan ook ‘verdra’ en ‘aanvaar’ beteken.

Dan pas die opdrag van vers 2 ook by vers 3. Dit beteken dat gelowiges dié wat swakker as jy is in die geloof moet dra/ondersteun, maar ook dié wat dink en voorgee dat hulle sterker en beter as jy in die geloof is, moet aanvaar en verdra.

 

v3 As iemand meen dat hy iets is terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. As jy jou net aan jou self en jou eie maatstawwe meet, kan jy jou maklik self mislei. Maar as ons ons aan Christus se wet meet, om mekaar lief te hê soos Hy ons tot aan die kruis onselfsugtig liefgehad het (Joh. 13:34-35), weet ons dat ons vér tekort skiet.

 

v4 Elkeen moet sy eie dade beoordeel; dan sal hy sy trots net vir homself kan hou, sonder om by ander daaroor te spog. Selfmisleiding vind nie net plaas waar jy jou aan jouself meet, soos in v3 nie, maar ook wanneer ánder mense die maatstaf is. Dan kan jy altyd sê: ek is wel nie so goed soos sommige mense nie, maar ek is duidelik beter as baie ander. Om jouself aan ander te meet kan lei tot hoogmoed of selfveragting en selfverwerping. Ons maatstaf is Christus se aanvaarding van die sondaar, wat ons ander mense en ons self te aanvaar as sondaars vir wie Jesus uit liefde sy lewe gegee het om ons sondes te dra.      

 

v5 want elkeen sal sy eie las dra (hier word ‘n ander Griekse woord  gebruik vir ‘las’ (fortion ‘n vrag wat jy dra) – die gelowige sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het. Die werkwoord bastadzoo is hier in die toekomstige tyd, wat na die eindoordeel verwys; teenoor die bevelende wys in vers 2 wat ‘n opdrag gee.

 

Rom 14:10 Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn (v11 haal Jesaja 45:23 aan as die grond vir Paulus se uitspraak). V12: Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen. Ook hier gaan dit om die finale oordeel met die wederkoms van Christus. Jesus se regterstoel is God se regterstoel. Hy is die Woord van God, en self ook God (Johannes 1:1) 

            In Johannes 5:22 sê Jesus: Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee. Johannes 5:30: Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

            Handelinge 10:42: dit is Hy, Christus, wat deur God aangewys is as Regter oor die lewendes en die dooies; vgl. Handelinge 17:31.

As daar van God se regterstoel gepraat word, word na Jesus verwys as die Regter.

 

Matteus 16:27 praat soos Mt 25:31-34 van die ‘Seun van die Mens’ (soos Jesus telkens na Homself verwys, na aanleiding van Daniël 7:12-14) wat sal kom, beklee met die heerlikheid van die Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...