Die Nikolaïete

image_pdfimage_print

Die Nikolaïete – Coen Slabber

Maar dit het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku (Openbaring 2:6 – Die boodskap aan Efese).

So is daar onder julle ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen (Openbaring 2:15 – Die boodskap aan Pergamum).

Wie was hierdie groep mense? Wat het hulle geleer? Daar is min oortuigende bewyse oor wie hulle was. Omdat die geskiedkundige agtergrond van hierdie groep so skraps is, kan ons selfs nie oor hulle leer absoluut seker wees nie. Jesus Christus sê dat Hy hulle leer verafsku.

Die tydperk van die vroeë kerk was ‘n dinamiese tyd: van die apostels en van die ooggetuies van Christus se opstanding het nog geleef. Maar ten spyte van die entoesiasme en ywer van die vroeë Christendom sien ons dat Satan al reeds besig is om die ondergang van die kerk te beplan. Baie van die aanvalle op die kerk het van buite gekom – vervolging van Christene het algemeen voorgekom. Maar, soos so dikwels die geval is, kom die grootste bedreiging van binne die kerk.

  1.  Wie was die Nikolaïete

Die eerste verwysing na die Nikolaïete kry ons in die boodskap aan Efese. Toe Paulus vroeër die ouderlinge van Efese toegespreek het, het hy hulle gewaarsku: Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei (Handelinge 20:30). Paulus het geweet wat vir die gemeente voorgelê het. Die grootste bedreiging is dikwels nie ‘n uitgesproke anti-Christendom boodskap van buite nie, maar ‘n mengsel van die waarheid en leuens wat binne die kerk sy oorsprong het.

Irenaeus (hy was biskop in ongeveer 175 – 195 van wat vandag bekend is as Lyon in Frankryk) het die Nikolaïete as ‘n gnostiese sekte beskryf. Hy skryf onder andere: “Johannes, die dissipel van die Here,  verkondig hierdie geloof (die Goddelikheid van Jesus)  en probeer, deur die verkondiging van die evangelie, die fout wat deur Cerinthus onder mense versprei is, en lank tevore deur diegene wat Nikolaïete genoem is, versprei is, reg te stel. Die “kennis,” valslik so genoem, is versprei om mense te verwar en te oortuig dat daar net een God is wat alle dinge deur sy Woord gemaak het.” Volgens Irenaeus het hulle die Goddelikheid van Jesus Christus ontken.

  1.  Wat het hulle geleer?

Om te verstaan wat die leer van die Nikolaïete was, moet ons kyk na die konteks waarin hierdie verse voorkom. In sy boodskap aan Pergamum sê Jesus: Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet het en onsedelikheid bedrywe het (Openbaring 2:14). Christus verwerp die leer van Bileam. Hierdie leer het afgodery en onsedelikheid ingesluit. [Sien Numeri 22 en 23 vir die verhaal van Bileam.] Bileam se strategie het ingesluit dat die Israeliete onsedelike dade met die vrouens van Midian pleeg. In die proses  kom hulle ook in aanraking met die heidense gode. Uiterlik lyk dit vroom, maar dinge wat God verbied het, verdra hulle. In 2 Petrus 2:15 lees ons: Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg. Die dwaalleraars is deur geld en mag gemotiveer. Om meer aanhangers te lok, was hulle bereid om kompromieë oor God se boodskap aan te gaan. In Judas vers 11 lees ons vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg. Geld speel ook hier ‘n belangrike rol.

In Tiatira kry ons ‘n soortgelyke dwaalleer: Maar Ek het dit teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet (Openbaring 2:20).

Die name verander – Nikolaïete, Bileam en Isebel – maar die boodskap bly basies dieselfde: ‘n “Christelike geloof” wat nie gehoorsaamheid en lojaliteit aan Jesus Christus vereis nie. Dit is ‘n dwaalleer en God verafsku dit. Die doel van hierdie dwaalleraars is om Christene (in vers 20 noem Christus hulle my dienaars) te oortuig dat onsedelikheid en afgodediens beoefen kan word sonder dat dit ons verhouding met Jesus Christus beïnvloed. Christus verwys hierna as die diep geheimenisse van die Satan (Openbaring 2:24). Hier is ‘n geheimenis betrokke by die hele proses – iets onheilspellend. Die duiwel self preek hierdie boodskap. Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie … Dit is hierdie selfde boodskap wat hy oor en oor verkondig. Hy verswyg die gevolge van die sonde en predik vryheid.

Dit wil voorkom of die leer van die Nikolaïete ‘n vorm van antinomisme was. [Antinomisme = ‘n Geloof wat die genade van God as fondament vir verlossing erken. Dit maak egter die fatale fout deur te glo dat ‘n mens vryelik aan die sonde kan deelneem, want die wet van God is nie meer bindend nie. Hulle glo dat as jy intellektueel glo, jy verlos sal word.] Jakobus het reeds hierdie fout reggestel: Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs (2:19). Jakobus herinner ons dat ware geloof ‘n aktiewe beginsel wat deur liefde werk, is. Dit is meer as om te sê dat jy glo. Jou dwaas, wil jy ‘n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? (2:20).

Die Bybel leer inderdaad vir ons dat ons uit genade deur geloof gered is: Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie (Efesiërs 2:8 – 9). Maar net in die volgende vers sê Paulus: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Ware geloof lei tot aksie.

Nikolaïete in die tweede eeu het die sienings van die aanhangers in die eerste eeu voortgesit en uitgebrei. Hulle leer dat die dade van die “vlees” geen invloed op die gesondheid van die siel het nie en daarom geen verband met verlossing het nie. Weereens is dit ‘n siening wat Paulus verwerp: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe (Romeine 6:1 – 2). Later in dieselfde hoofstuk sê Paulus: Julle moet dus altyd onthou dat julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat  dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie (6:11 – 12).

Ons kry hierdie leer steeds: Die evangelie van Christus het God se wet vervang – deur te glo word ons verlos van die noodsaaklikheid om daders van die Woord te wees. Dit is maar net ‘n vorm van die leer van die Nikolaïete wat Christus onomwonde in Openbaring verwerp het. Jy sien dus dat geloof met dade gepaard gegaan het en dit eers deur dade volkome word (Jakobus 2:22).

Ons kry nie meer Nikolaïete as sulks nie, maar baie van dit wat hulle geglo het, word steeds deur sekere mense aanvaar. Die Bybel, in Openbaring 2, verwerp hulle leer in geen onsekere woorde nie – Christus verafsku dit.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print