Die oue weerklink in die nuwe: Moses (3) – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Johannes is ook heel positief oor Moses – vir hom is Moses die een deur wie God se wet gekom het (Joh 1:17), met wie God gepraat het (Joh 9:29) en wat ook oor Jesus geskryf het (Joh 5:46). Maar Moses is nie Jesus nie – Jesus is veel beter. Hy bring genade en waarheid (1:17) en Moses kan alleen maar oor Hom skryf (Joh 1:45; 5:46). Moses het die slang in die woestyn opgelig om so die volk te help – Jesus word opgelig om so die ewige lewe vir mense te gee (Joh 3:14-15); Moses het manna aan die volk gegee toe hulle honger was in die woestyn, maar Jesus gee die brood van die ewige lewe vir die wat in Hom glo – ‘Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”’ (6:32). Moses het dieselfde tipe goed as Jesus gedoen, maar Jesus doen dit net veel beter. Dit beteken nie dat Moses teenoor Jesus staan nie, maar getuig van Jesus. Wie Jesus dus verwerp, verwerp Moses ook en ontken daarmee sy Israelitiese herkoms (Joh 5:45). Vir gelowiges is die belangrik om te verstaan wat die Bybelskrywers hier wil sê. Moses was díe belangrike leier van die volk van God wat hulle uit slawerny uit gelei het en deur wie God hulle al die jare in die woestyn beskerm en versorg het. En nou kom Jesus… hy doen alles net veel beter. As God deur Moses so goed vir sy volk gesorg het, hoeveel te meer sal Hy dit nie deur Jesus doen nie. Wat God deur Moses vir die volk gedoen het, doen Jesus direk en soveel beter vir die nuwe volk van God.

is interessant dat in twee tekste in die Nuwe Testament is daar verwysings na Moses wat uit buite-Bybelse dokumente kom. Dit is Jud 1:9 en 2 Tim 3:8. In Jud 1:9 staan daar: ‘Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.”’. Hier word die aartsengel Migael se behoorlike hantering van ‘n mede engel gekontrasteer met die swak gedrag van die valse leermeesters. Ons lees nie in die OU Testament van die episode waar oor die liggaam van Moses gestry is nie. Dit kom uit ‘n Joodse boek met die naam ‘Die hemelvaart van Moses’. In 2 Tim 3:8 is daar weer probleme met dwaalleraars en dan word daar gesê: ‘Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward is en in die geloof ’n mislukking’. In Eks 7:11 lees ons nie die name van die towenaars van die Farao wat Moses geopponeer het nie, maar in die latere Joodse tradisie is gesê dat hulle Jannes en Jambres was – so het hulle name ook hier in 2 Timoteus geland.

Volgende keer kyk ons na die nuwe wet.

image_pdfimage_print

You may also like...