DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (11)

image_pdfimage_print

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (11) – Jan van der Watt

Episode 9: Markus 14-16

Die kruis wat voorspel is, word nou ‘n realiteit – omdat dit so bekend is, hoef ons nie te veel daaroor te sê nie.

 

 

  • Jesus word gesalf midde van planne om Hom te verraai en te vang (14:1-11)
  • Die nagmaal (14:12-25)
  • Petrus sal Jesus verloën en Jesus word dan ook in Getsemane gevang (14:26-52)
  • Jesus verskyn voor die Joodse Raad en Petrus verloën Hom (14:53-72)
  • Jesus voor Pilatus en Hy word oorgelewer om gekruisig te word (15:1-15)
  • Jesus word bespot en gekruisig (15:16-41)
  • Jesus word begrawe (15:42-47)
  • Jesus staan op en verskyn aan sy dissipels (16:1-20)

 

Jesus word gekruisig, maar staan weer op.

 

Dit is nie presies seker waar die Evangelie van Markus eindig nie. Volgens sommige grondtekste (dit is nou die ou Griekse tekste) eindig die Evangelie by Markus 16:8. Ander het 16:9-20 by. Dit laat mense nou wonder of 16:9-20 nie later bygevoeg is nie.

 

As die Evangelie by vers 8 eindig, is dit ‘n baie interessante einde, want dit eindig “stomp”: Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang…Tog is die einde nie so stomp as wat dit lyk nie. Die “bang” is nie ‘n bang vir spoke of vreesagtige bangwees wat jou wil laat weghardloop nie. Dit is “bangwees” omdat jy weet iets groots lê voor, maar jy weet nie wat nie. Dit is om bang te wees met ‘n “bungee jump” – jy weet dit gaan lekker wees, maar jy hart klop in jou keel… van bang antisipasie. So eindig Markus ook. Die dissipels weet nou dat niks weer dieselfde gaan wees of kan wees nie. Jesus het opgestaan… ‘n nuwe toekoms, die nuwe lewe het aangebreek en niemand kan die klok meer terugdraai nie.

 

Slot

 

Nou, nadat die Evangelie voluit gelees is, kan daar oor Jesus gepraat word. Hy is die Seun van God wat wonders doen, maar ook die Seun van God wat as losprys vir ons aan die kruis sterf. Sy glorie lê ook in sy opofferende lyding vir ons. Die glorieryke Seun is ook die lydende Seun. As jy dit verstaan, verstaan jy die Evangelie van Markus. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print